oor ouervervreemding

Aangesien ek nie ‘n sielkundige is nie, los ek die sielkundige analises vir die min professionele ouens wat ervaring het daarin om vervreemde families te help. Ek deel net my storie en my perspektief uit persoonlike ervaring. Dalk spaar dit jou tyd en geld. Ek weet dit help my.

Ouervervreemding is nie ‘n nuwe konsep nie, dit bestaan al van Bybelse tye af. En dit is nie iets wat net afgemaak kan word as ‘n kwessie van swak ouerskap aan die vervreemde ouer se kant nie. Dis ‘n realiteit. Dus, wat ek hier deel is nie bloot om my skrywerstegnieke te bevorder nie. Ek suig niks uit my duim nie. Hierdie is my persoonlike joernaal, my storie, wat ek basseer op my eie ervarings en op in-diepte navorsing van ander gesinne se stories, asook geleerdes se slim (alhoewel nie altyd prakties nie) teorieë.

Om ‘n dagboek te hou is goeie terapie. Dis ‘n platform waar ek my sê kan sê wanneer ek my frustrasies op niemand anders kan uithaal nie. Soms het ek ‘n oorweldigende begeerte om op iemand te gil, maar dis uiteindelik beter om my frustrasies neer te skryf om sodoende my emosies onder beheer te kry, as om dit op iemand anders te projekteer.

Ouervervreemding is een van die kwessies wat aangespreek moet word. Dit moet gehoor word. Dit is stories wat vertel moet word. Maar dis ook nie net vir skryf nie. Ek het besef dat ek nie net vir myself skryf nie, ek skryf vir ander mense ook. Dus redigeer ek my skryfwerk deeglik, maak seker my sinsgebruik en veral my feite is reg. En ek probeer maar die emosies so veel as moontlik uit die skrywe laat. Feite is belangriker as emosies. Dit is veiliger om neutraal te probeer bly.

Uit my navorsing het ek agtergekom dat die meerderheid Ma’s vervreemders is en dat die meerderheid Pa’s slagoffers van ouervervreemding is. Tog is daar Pa’s wat ook suksesvol hulle kinders van hul Ma’s vervreem. Vir my gaan dit nie soseer oor die geslag van ‘n vervreemder nie. Op die ou end is en bly ‘n vervreemder ‘n vervreemder – ongeag van die geslag. Die pyn, hartseer en emosionele skade op die kinders is lewensvatbaar. Ouers wat aan die ontvangkant is van vervreemders se gedrag, gee regtig nie om of hierdie gedrag geklassifiseer word as een of ander sindroom, of ‘n slegte belyning van sterre en planete nie. Hulle wil net hulp en antwoorde hê oor hoe om van dag tot dag te cope.

Skrywers lewer die beste skryfwerk uit persoonlike ervaring. Ek sou nooit kon dink dat ouervervreemding een van die onderwerpe sou wees waaroor ek eendag sou skryf nie…. nog minder dat dit deel van my eie lewenservaring sou word nie. Ek kan net hoop dat ander ouers daar buite soos ek, in ‘n mate verligting en troos sal vind. Ek hoop ook hulle raak woedend vir die mense wat hul kinders van hul vervreem, want ek raak briesend buite myself. Ook vir die regstelsel (sielkundiges en maatskaplike werkers ingesluit) wat dink dat die aksies van ‘n vervreemder soos ‘n doodgewone dag op kantoor is van sake hanteer soos egskeidings en toesighouding oor kinders. Ek hoop mense besef dat ouervervreemding ‘n vorm van emosionele kindermishandeling is wat mens nie net kan ignoreer nie. Maar bo alles, hoop ek dat hierdie blog iemand op een of ander manier sal help of bemoedig of vertroos.