ouers se integriteit wat vernietig word: die goed, die sleg, en die aaklige werklikheid

Parental alienation: As a victim of parental alienation, I can say that it is one of the most painful and devastating experiences to go through. You are kept from your children while vial accusations are made about your love for your kids and then falsely presented to your child to brainwash them. It is one of the worst forms of child abuse. If you are experiencing this unconscionable act enforced by corrupt legal activity know that you are not alone. Alec Baldwin went through similar circumstances and wrote a book about it for anyone who is interested in learning more. ~dapmd

Hierdie is een van die aanhalings wat my laat wonder het, hoekom moet ek wegkruip en in isolasie leef omdat ek ‘n vervreemde ouer is? Ek is nie die enigste een nie. Net soos die bekende akteur, Alec Baldwin, en talle ander ouers, het ek aanvanklik ook elke aand gebid en vir die Here gevra om my net weg te vat. Nee, nie gevra nie, gesmeek. Ek wou nie meer in die oggende wakker word nie, ek het die dood begeer.

Nie net ervaar ek eerstehands wat ouervervreemding is nie, ek het al taamlik baie daaroor geleer ook, daarom dat ek besluit het om daaroor te skryf. Hoekom moet mense soos ek stom op ‘n hopie gaan sit en pruil? Hierdie is MY perspektief. Ek is nie ‘n sielkundige nie. Ook nie ‘n wetsgeleerde nie. Ek is net ‘n ma. Wat weet hoe om die roller coaster van woede, depressie, magteloosheid, en ontnugtering te ry. Wat weet van sukkel om daagliks te cope. Wat wonder hoe my dogters elke dag cope.

Nie net het die regstelsel my gefaal nie, mense het my gefaal. Mense wat ouervervreemding afmaak as swak ouerskap. Ek het op ‘n stadium gevoel dat selfs God my gefaal het (dis nou in my gebroke en onkundige denkwyse). Hoe benader of addresseer ‘n mens die situasie as dit totaal buite jou ervaringsveld is; buite jou gemaksone, buite jou geloofsraamwerk…. Ek het begin deur feite bymekaar te kry. Die eerste ontnugterende feit is dit: min mense weet werklik wat ouervervreemding behels. Maar nog meer ontnugterend: min prokureurs en sielkundiges in ons regstelsel weet regtig iets van vervreemding af, of gee regtig om. Hulle weet nie hoe om die konsep wetlik of terapeuties te benader nie. Ja, hulle weet van kinderregte en egskeiding en onderhoudsplig…. Hulle kan hulle idees rondom ouervervreemding vir jou klinies en volgens die boek probeer verduidelik, maar in menslike terme faal hulle grootliks. Daar is ‘n groot verskil tussen die kliniese ontleding van die anatomie van ‘n vervreemde ouer, en om fisies aan die ontvangkant van die vervreemder te sit. Dis so goed jy bestudeer ‘n bestuurhandleiding en klim vir die eerste keer agter die kar se stuurwiel in. Om die handleiding te ken is nie dieselfde as om fisies die sleutel te draai en die kar te bestuur nie.

Die konsep van ouervervreemding is dit: een ouer of voog beskadig en vernietig doelbewus ‘n gesonde verhouding tussen ‘n kind en sy of haar ander ouer, tot so ‘n mate dat die vervreemder en die kind saamwerk om die ouer suksesvol uit die kind se lewe te elimineer. Een oomblik het ek en my dogters ‘n wonderlike verhouding gehad. Die volgende oomblik was daar nie meer iets soos ‘n verhouding nie.

Mense het al vir my gesê dat ‘n normale, gesonde ma/dogter verhouding nie in ‘n kwessie van ‘n paar dae vernietig kan word nie. Wel, hulle is verkeerd. Dit kan. Ouervervreemding is soos ‘n trein sonder ligte wat deur ‘n donker tonnel dreun. Jy staan op die treinspore in die middel van die donker tonnel wanneer daardie trein jou tref. Jy verwag dit nie. Jy hoor nie eers die trein aankom nie. Geen gevaartekens, geen waarskuwing.

Die werklikheid is dat daar mense is (ouers en voogde ingesluit) wat kinders emosioneel mishandel. Hulle is wraaksugtig. Selfgesentreerd. Stel slegs belang in die vervulling van sy/haar behoeftes – ten koste van die kind, en van familielede. Hulle het nie die vermoë om te besef dat hulle eintlik die kind geweldig seermaak deur die kind kant te laat kies in konfliksituasies nie. Hulle kant. Dis ‘n geweldige misdryf wat teen ‘n kind gepleeg word, want:

  1. die vervreemder weier om te erken dat die kind een helfte van elke ouer is, so elke keer wanneer die vervreemder vir die kind vertel hoe aaklig en waardeloos die ander ouer is, vertel hy/sy eintlik vir die kind hoe aaklig en waardeloos daardie helfte van die kind self is.
  2. die vervreemder leer die kind verkeerdelik dat, om alle kontak te verbreek met die ander ouer, familielede, vriende, ens. die regte manier is om teleurstelling en seer te hanteer. Wat hy/sy egter nie besef nie, is dat die kind gaan grootword sonder die nodige vermoëns om gesonde en normale verhoudings met ander volwassenes te hê.
  3. die kind gaan eendag uit ‘n volwasse perspektief terugkyk op die vervreemder se gedrag en besef dat die vervreemder hom/haar van iets baie kosbaar beroof het: die liefde en ‘n gesonde verhouding van die ander ouer. Die kind sal besef dat sy vertroue in die vervreemder eintlik misplaas was, en verraai voel. En op daardie stadium sal die kind nie net een beskadigde verhouding met ‘n ouer hê nie, maar met albei ouers en diegene wat hy/sy uit sy lewe gesny het.

Wat vervreemders aan ‘n kind doen, is wreed en onaanvaarbaar. Hulle rig meer skade aan die kinders, as aan die eks wat hulle eintlik teiken. Hulle is narssistiese boelies en verdien hoegenaamd nie om eers ‘n ouer of voog genoem te word nie, want hulle is ‘n skreiende skande vir die samelewing, en plaas ‘n klad op ouerskap.

Van een vervreemde ouer na ‘n ander: Onthou, die een ding wat niemand van jou af kan wegvat nie, is die feit dat JY die natuurlike en wettige ouer is van jou kinders. Die voorreg en gawe van moederskap wat GOD vir jou gegee het, kan niemand uitwis nie al wil hulle ook hoe graag.

Sterk staan, jy is nie alleen in die stryd nie!

xoxo

 

Advertisements

soms is dit ‘n goeie ding om die stryd te laat vaar

Letting Go

Ons weet nou dat verskeie emosies materialiseer tydens ouervervreemding. Party voel kwaad, en ander voel hulpeloos en magteloos. Aan die anderkant is daar ‘n hoeveelheid ouers wat ontwikkel tot toegewyde advokate vir die saak, maar baie se fisiese, emosionele en finansiële vermoëns word uitgeput. ‘n Ouer mag dalk vra, wanneer los ek dit? Vervreemde ouers is bedroefde ouers. Vir party is die voortdurende hartseer gelykstaande aan die dood, waar die hartseer nooit ophou nie.

Die vyf fases van rou

Die meeste van ons is bekend met Elisabeth Kubler-Ross se vyf fases van rou. Die eerste fase is ontkenning…. waar realiteit nie erken (of erken wil) word nie. Ontkenning is ‘n beskermingsmeganisme. ‘n Wanaangepaste, onvanpaste, patologiese manier om ‘n situasie te hanteer. Natuurlik is dit moeilik vir iemand om te erken dat hy of sy ‘n verwerpte ouer is, maar partykeer is dit makliker om te ontken dat die situasie onwerklik is. En om die onwerklike te hanteer, besluit sommige ouers om maar op te gee, of te onttrek. Hulle raak passief.

Woede is die tweede fase van die rouproses. Onderliggende woede is niks anders as seer, en ‘n verlies van mag en beheer oor ‘n situasie nie. Vervreemde ouers raak kwaad wanneer hulle kant van die saak geignoreer en afgejak word as niks. Wanneer ander nie die erns daarvan insien nie. Wanneer ander hulle skepties hanteer en kritiseer. Of blameer vir die situasie.

Onderhandeling is die derde fase. ‘n Onderhandelende ouer glo dat, as hulle hard genoeg probeer, of die regte ding doen of sê, sal die kind se gesindheid skielik teenoor hom of haar verander.

Die vierde fase is depressie, selfverwyt, wanhoop…. Dit neem die ouer se lewe en gedagtes oor.

Die laaste fase is aanvaarding. Vervreemde ouers aanvaar hulle lot baie swaar. Dit is ‘n bitter pil om te sluk. Maar hulle laat vaar die stryd noodgedwonge. Dit geld vir diegene wat ‘n bewustelike besluit neem om te laat los en te laat gaan.

Maar wat gee ‘n vervreemde ouer te kenne wanneer hy die stryd laat vaar?

Die vervreemder vertel vir die kind dat sy/haar ma of pa hom/haar weggegooi het en nie meer wil hê nie. Dis ‘n blatante leuen. Wanneer ek die stryd laat vaar; wanneer ek laat los en laat gaan, beteken dit nie ek sny myself van my kinders af nie. Dit beteken bloot ek besef dat ek nie beheer oor my kinders se lewenskeuses kan uitoefen nie. Ek het nie beheer oor my kinders nie. Ek kan nie my eksman of sy vrou forseer om hulle haat-veldtog teen my te stop nie. Om die stryd te laat vaar is om te aanvaar dat sommige mense weier om mede-ouers te wees. Hulle draai permanent die kinders teen die ander ouer. Niks kan hulle keer nie. Dit is die ongelukkige werklikheid. Vervreemders spandeer alle hulle tyd en energie om die ander ouer emosioneel en finansieël te dreineer en uit te put.

Ons moet ook aanvaar dat ons vir die vervreemding blameer gaan word. Nie net deur vriende en familie nie; nie net deur die kinders nie; maar ook deur die samelewing. Al die vingers gaan na ons toe wys, want dit is sosiaal aanvaarbaar. Iemand moet die blaam dra. Maar die ouer of persoon wat eintlik verantwoordelik is vir die vervreemding, is eintlik die lafaards want hulle saai vernietiging en kruip weg agter ‘n misleidende voorkoms van balans en dissipline. En sodoende vermy hulle die blaam.

Wanneer is die regte tyd om die stryd te laat vaar?

Daar is nie ‘n regte en verkeerde tyd nie. Dis ‘n persoonlike saak. Ek persoonlik het ondervind dat ek ‘n verlore stryd stry. Ek het net aan die verloorkant gebly. Die kinderwet beskerm die kinders. Ons korrupte geregstelsel beskerm misdadigers en mense wat misdrywe begaan. Niks kan ‘n vervreemder tot moraliteit en regverdigheid dwing nie. Vervreemders se vernietigende gedrag is aan die orde van die dag. En juis om daardie rede, dat ek bang was dat ‘n voortdurende geveg iemand anders kan dryf tot geweld teen my kinders, het ek eerder die stryd laat vaar omdat ek my kinders wil beskerm. Ek wil hê hulle moet veilig wees. En ek het dit gedoen ten koste van my verhouding met hulle.

vervreemde ouersindroom

Bear your difficulties graciously, bravely and with little complaint

Tydens die in-diepte navorsing wat ek die afgelope 6 maande gedoen het rondom die onderwerp van vervreemding (parental alienation), kon ek saam met talle ander ouers en kundiges beaam dat daar amper niks so pynlik vir ‘n ouer is, as om vervreemd te wees van ‘n kind nie. Die verhale van ouers en selfs ouma’s en oupa’s wat ek gelees het, asook die verslae en menings van terapeute en sielkundiges, het my diep geraak. Die punt is, hoe ouer ons word, hoe meer hunker ons daarna om ons kinders en kleinkinders om ons te hê; om betrokke te wees by hulle lewens. Daarom is die vervreemde ouersindroom ‘n bitter moeilike en traumatiese ervaring.

Ek self is ‘n ouer wat vir die afgelope vier jaar (and counting) vervreemd is van my twee dogters. Dit is ongetwyfeld diè moeilikste tydperk van my lewe. Ouers in dieselfde situasie sal weet, ons gaan deur so baie fases van skuldgevoelens, selfverwyt, desperaatheid, voortdurende soek na raad en antwoorde en maklike oplossings…. Net om uiteindelik een hengse realiteit te besef: daar is nie ‘n resep vir maklike oplossings nie. Daar is nie antwoorde op die vrae wat jy soek nie. Dit is wat dit is.

In my soeke na logiese verduidelikings rondom die hele dilemma van vervreemding, het ek geleer dat vervreemding as gevolg van verskeie redes kan gebeur. Meeste van die kere is dit die kind se ander ouer (of stiefouer) wat die kind forseer om te distansieer en af te sny van die vervreemde ouer. Dit word gewoonlik gedoen deur ‘n kind emosioneel te boelie of op verskeie maniere te manupileer. Soms is die oorsaak ‘n ouer wat ‘n kind fisies, seksueel of emosioneel mishandel, wat die kind daartoe dryf om weg te vlug uit die situasie. Selfs omgekeer; volwasse kinders wat hulle ouers mishandel en dan sny die ouers hulle van die kind af om hulleself te beskerm. Ander kere is die oorsaak eenvoudig net onverklaarbaar en onduidelik. Watookal die rede, die verlies is en bly hartverskeurend. Dit voel soos die dood.

Om die probleem nog erger te maak, is daar ouers wat glad nie met die realiteit van vervreemding kan vrede maak nie en net verdere wrywing tussen hulle en die kind veroorsaak. Of familielede wat sterk opinies teenoor die ouer, kind en die situasie uitspreek, en net nog meer druk en ongemak op die situasie uitoefen. Dan kry jy mense wat van buite af na jou situasie kyk. Hulle laat my dink aan Job se vriende. Mense wat heel waarskynlik nie in staat is om die intensiteit van die situasie te besef nie, of self nie kans sien vir so ‘n dilemma nie. Hul redenasies grens aan die sillogisme dat God sulke en soortgelyke rampe oor jou pad stuur omdat jy erge foute gemaak het. Omdat jy gesondig het. Daarom kwalifiseer jy vir so ‘n ramp. Alhoewel ek my aanvanklik hierdie sillogisme persoonlik aangetrek het, maar mettertyd geleer het om my nie daaraan te steur nie, is dit jammer dat so baie ander vervreemde ouers dit net ooglopend aanvaar: hierdie skeefgetrekte teologie van vergelding wat beweer dat God slegs diegene seën wat goed en reg lewe, en die res straf Hy. Laat Hy dan nie die son opkom oor die goeies en die slegtes nie (Matt. 5:45)?

Ek erken dat daar egter wel ‘n Bybelse waarheid in die stukkie teologie lê. Dis net een van daardie onderwerpe waar ‘n mens regtig fyn onderskeidingsvermoë nodig het. Ja, dikwels lei die foute wat ons maak ons in ‘n posisie waarin ons nie wil wees nie. Partykeer moet die Here ‘n situasie in ons lewens toelaat om ons te laat wegdraai van gewoontevormende en herhalende foute. Maar Hy werk nie altyd so nie. ‘n Krisissituasie is nie noodwendig ‘n teken dat God jou straf nie.

Mense besef dit nie, maar daar is meer skade as goed in opmerkings soos: “Moet nooit ophou uitreik na jou kind nie”…. “Doen alles in jou vermoë om die verhouding te herstel”….”Dit is jou verantwoordelikheid om die verhouding in ‘n ander rigting te stuur”….”Sluk jou trots”….”Maak nie saak wat gebeur en wie se skuld dit is nie, vra om verskoning en moet nooit ophou vergifnis soek nie”…. “Moenie ophou probeer nie”….”Wees nederig”…. Vroom, goedbedoelde antwoorde, maar eintlik het hulle geen idee waarvan hulle praat nie want hulle sit nie in dieselfde situasie nie. Is dit nie genoeg dat ons moet worstel met skuldgevoelens, angs, depressie, en onsekerheid nie? ‘n Intense proses van rou? Hoe arrogant van ons om te dink ons weet wat God se plan vir ons of iemand anders se lewens is! Hoe dom van ons om te dink ons ken die redes agter ander mense se swaarkry en lyding! Ons weet nie eers die redes agter ons eie dilemmas nie. Ons weet partykeer self nie die verskil tussen reg en verkeerd nie. Ek beskou dit as baie meer eerlik en opreg om teenoor myself te erken of op iemand anders se situasie te reageer: “Ek weet nie hoekom dit met my (of met jou) gebeur het nie. Niemand hoef deur so iets te gaan nie.” Dit is vir my ‘n voorbeeld van God se genade en deernis.

Wat ek vir myself met verloop van tyd geleer het; wat vir my in my situasie gewerk het, is nie juis rocket science nie. Elkeen se situasie verskil. Elkeen hanteer dit anders. Maar vir my om deur die rouproses te werk, het ek vir myself die volgende geleer:

  1. Watookal die rede hoekom my kinders my afgesny het, dit is hulle storie. So ek gaan nie eers probeer om myself te regverdig en hulle storie te verander nie. As hulle storie iewers vassit in die verlede, gaan ek nie saam daar vassit nie. Hulle het lankal aangegaan met hulle lewens, ek verdien ook om aan te gaan met myne.
  2. Ek het opreg probeer om om verskoning te vra vir dit waarvoor hulle my kwalik neem, en om hulle te laat probeer verstaan dat ek besef dat ek aaklige foute gemaak het. Foute waaroor ek spyt is; verkeerde besluite waaroor ek berou het. Wat hulle daarmee maak, is hulle saak. Maar as ek my saak gestel het; met die Here uitgeklaar het; en vrede in my hart het (ek praat nie van ‘n valse vrede nie, maar ‘n diep, oortuigende, innerlike vrede)…. en hulle nog steeds besluit om my af te sny, is dit ook hulle saak. Ek gaan nie toelaat dat hulle my oorlaai met skuldgevoelens en my op ‘n permanente skuld-trip sit nie. Om spyt te wees oor wat ek verkeerd gedoen het, en om vergifnis te vra, is opsigself skulderkenning. Dan het ek nie nodig om myself aan nog meer neurotiese drama bloot te stel nie.
  3. Ek het besluit om altyd oopkop en ontvanklik te bly vir hulle ouverture, maar nie tot so ‘n mate dat hulle my emosioneel of fisies mishandel en afkraak nie, ook nie finansieel misbruik nie. Ek is en bly per slot van rekening die volwassene. Trek die grenslyn duidelik.

‘n Mens kom op ‘n stadium waar jy alle hoop laat vaar, want dit lyk so vaag en uitsigloos. Kinders verstaan nie die emosionele uitdagings wat ‘n ouer daagliks in die gesig moet staar nie. Ten minste bly daar hierdie sprankie hoop: dat hulle ook eendag dalk gaan trou en kinders hê; en daarmee saam die liefde, deernis en vergifnis van ‘n ouer sal leer verstaan. Vergifnis vir hul eie ouers ook; begrip vir ‘n ouer se omstandighede, en die besluite wat die ouer in daardie omstandighede geneem het.

Niemand is perfek nie. Niemand het perfekte ouers nie.

Ervaring het my geleer dat geen ding in die lewe, veral as dit by kinders kom, ‘n spesifieke formule vir sukses het nie. Kinders wat na aan hul ouers bly het beslis nie op Sonskynplaas grootgeword nie. En die wat hulle afsny van hul ouers en kies om geen kontak met hulle te hê nie, doen nie noodwendig so omdat hulle ouers hulle op een of ander wyse gefaal het nie. Ja, ouers faal kinders. Kinders faal ouers. Mense faal mekaar daagliks. Dit is die verloop van die lewe. Die vraag is egter: regverdig dit ‘n totale afsnyding?

Ek en my dogters was baie na aan mekaar totdat hulle heeltemal onttrek het. Hoe vinnig ‘n situasie oornag nie kan verander nie! Dit is nie in my aard om myself op iemand anders te forseer nie. Ek mag dit dalk in die verlede verkeerdelik gedoen het, maar ek het intussentyd my les geleer. Wanneer dit by my kinders kom – veral toe die situasie van vervreemding my getref het – het ek besef dat hardkoppigheid en trots my nêrens gaan bring nie. Wees hardkoppig in jou beginsels en standpunte, maar moenie hardkoppig wees in jou argumente omdat jy ‘n wil het om die argument altyd te wil wen nie. Soms moet ‘n mens die argument verloor om die siel te behou.

Dus het ek besluit om altyd openhartig teenoor my kinders te bly. Ek het telke male probeer uitreik en kontak maak, net om oor en oor verwerp te word. Toe hou ek op daarmee, want hulle het gekies om nie enige kontak met my te hê nie, en ek het besluit om hulle besluit te respekteer. Nie dat hulle my besluit noodwendig sal goedkeur of respekteer nie, want jy is en bly nou maar eenmaal die vark in die verhaal. Maak nie saak wat jy doen en wat nie, hulle gaan foutvind met alles! Maar dit beteken nie ek is minder lief vir hulle, of gee minder vir hulle om nie.

Soms is al wat ‘n mens kan doen net dit: los die buitelig aan, en die voordeur se sleutel onder die mat. Wie weet….