Hoe bedryf jy menseverhoudings?

Wanneer dit by alledaagse menseverhoudings kom, wat vorm die basis van jou bedrystelsel? Hoe opereer jy?

My persoonlike bedryfstelsel werk so: Ek het nie ‘n saak wat ander mense van my dink of sê nie. Voorheen was ek ‘n glorified people’s pleaser. Vandag het ek my identiteit gevind in die vorm van ‘n siniese, apatiese kritikus. As mens dit te ver vat, kan die een kant so verkeerd wees soos die ander kant. Een lei na ‘n ongesonde trots en sin van onafhanklikheid…. die ander kant tot die gevolg dat jy mense aanhang en verafgod.

Paulus sê ons moet bedag wees daarop om eerbaar op te tree – voor God en voor mense1 so ‘n mens moet maar jou optrede teenoor ander evalueer en dink hoe ander jou optrede interpreteer.

Ons kry daagliks met situasies te doen waar ons teenkanting en opposisie ervaar. Situasies waar ons gemoedstoestand deur ander se optrede bepaal word. Ek het ‘n motto wat sê: “My reaction is based on how you treat me.” Maar ek vergeet dikwels dat ek ook kan seermaak en beledig en aanstoot gee.

Wanneer is ons té waaksaam?

Hoe keer ons dat ons nie soos robotte voortgedryf en gemotiveer word deur ander mense se eise, begeertes en persoonlike agendas nie?

Wanneer daag ons ander mense se optrede uit in plaas van om op eiers rondom hulle te loop?

Die antwoorde op hierdie vrae verg ongelooflike wysheid, en die wyse Salomo het geskryf:

“Moenie dat jy tekort skiet aan liefde en getrouheid nie. Koester dit soos iets waardevols wat jy om jou nek dra. Skryf dit op die tafel van jou hart. Jy sal guns vind by God en by mense.”2

Ons optrede moet dus gemotiveer word deur liefde, gegrond in waarheid. Dit gaan nie noodwendig ‘n vreedsame atmosfeer waarborg nie, en omdat ons net mens is, is dit nie altyd maklik om hierdie beginsel elke dag suksesvol uit te voer nie.

Die Here alleen weet, ek self skiet baie ver tekort. Maar as ek my daarop gaan fokus om my bedryfstelsel elke dag te probeer bou op liefde en waarheid, en na wysheid en leiding te soek in elke situasie, kan ek verseker weet dat God my sal help juis in elke gebied waarin ek faal.

  • 2 Kor 8:21

  • Spr 3:3-4

Advertisements

wat as dinge nie uitwerk nie

My kollega het vandag met my gedeel dat sy deur ‘n slegte tyd in haar lewe gaan. Dinge het nie uitgewerk soos dit moet nie…. of eerder, nie soos sy gedink het dit sou nie. Dinge het skeefgeloop oor Desembermaand, al haar planne daarmee heen. Sy moes vinnig haar opsies herevalueer vir die nuwejaar wat op die drumpel gestaan en wag het.

Ek kan met haar situasie identifiseer. Hoeveel maal was ek self nie daar nie…. in onsekerheid gedompel – hoe gaan dinge uitwerk? Wat wag volgende? Wat as….. Hoe gaan ek maak? Wat moet ek doen? Wat is die volgende stap?

My kontrak by die myn maak klaar einde Januarie. Ek weet nie of hulle dit gaan verleng of nie, maar ek moet my opsies oop hou. As dit verleng word, het ek vir die volgende 6 maande werk. Of dalk permanent. En as dit nie verleng word nie, is ek werkloos…. en werkloosheid tap my moraal totaal en al. So, ek weet nie hoe dinge gaan uitwerk nie. Die werk is vir my bitter belangrik op hierdie stadium, maar ek kan nie seker wees oor wat gaan gebeur nie. Ek het al geleer om nie my hart op iets te plaas nie, of nie te opgewonde te raak nie. Die teleurstelling as dinge nie uitwerk nie, is te groot. Ek het as gevolg van te veel teleurstellings ‘n baie siniese en skeptiese mens van aard geword, maar dit beteken nie ek is nou noodwendig reg vir nog ‘n grootskaalse teleurstelling nie.

Tye van onsekerheid kan soms nogal ongemaklik raak. ‘n Mens probeer jou uiterste bes om vol vertroue te bly, om sterk te bly staan…. maar hier in ons onderbewussyn skuil die twyfel en wag vir die geleentheid om in te sluip en ‘n sluier oor ons gesig te trek.

Baiekeer dan dink ons, ons moet meer beheer oor ‘n situasie uitoefen en aan ‘n plan dink om die situasie ten gunste van onsself te beheer. Ons doen alles moontlik om dit te maak werk. Ons werk dag na dag, druk onsself harder en verder…. maar om een of ander duistere rede raak ons net nie ontslae van hierdie twyfel en onsekerheid wat in ons agterkoppe vassteek nie.

Toe ek vandag vir iemand genoem het dat ek nie sommer stres oor ‘n ding nie, toe lag die persoon vir my. Want almal stres een of ander tyd. Dis waar, ek stry nie. Maar ek kies om nie my energie te fokus op iets waaroor ek in elk geval geen beheer het nie.  Om dinge en mense in die lewe te kompartementaliseer, en my afstand te hou. ‘n Mens stres oor dinge wat nie uitwerk soos jy dit wou gehad het nie. Dinge het nie vir my kollega uitgewerk nie. Baie dinge in my eie lewe het nie uitgewerk nie. Daar is tog ‘n mate van onsekerheid, so wat nou?

Ek het die volgende les geleer:

Ons is nie veronderstel om ons pad uit ‘n situasie oop te kap nie. Ons is veronderstel om die pad daardeur te vertrou.

Woon en werk rustig voort, skryf die psalmskrywer. Stap die pad wat vir jou reg voel, en as jy nie seker is of dit die regte pad is nie, hou net aan met stap. Moet net nie gaan stilstaan en moed opgee nie. As jy moet stilstaan, doen dit om asem te skep en nuwe perspektief te kry – en stap verder. Vertrou dat elke liewe ding wat gebeur, jou op die een of ander manier vat na die plek waar jy moet wees. Dat alles met ‘n doel gebeur. Niks gebeur toevallig nie.

Dis moeilik om te glo dat dinge sal uitwerk soos dit moet. Dis moeilik om rustig te wees (of soos die jonger geslag sal se, te chill) oor die dinge wat in jou lewe gebeur – goed en sleg. Veral die slegte. Maar ek dink dit is nutteloos om jouself op te werk oor die dag van more. Bekommernis is soos om op ‘n wiegstoel te sit: dit gee jou iets om te doen, maar dit vat jou nerens. Ons doen onsself geen goed as ons gedagtes bly vassteek op “Wat as….” nie. Wat as dinge nie uitwerk nie. Wat as alles  uitmekaar val. Wat as my kontrak nie verleng word nie, waarnatoe gaan ek dan. Wat doen ek. Dan gaan ek nie my eie blyplek kan kry nie. Ek sal nie verder kan studeer nie. En wat as ek nie weer gou werk kry nie…. Of enige iets of iemand wat ons geneig is om oor te stres. Wat as my kinders dit nie maak nie. Wat as ek hulle nooit weer sien nie. Wat as ek siek word. Of kanker kry. Wat as ek vir die res van my lewe ‘n sukkel-bestaan moet voer.

Die lys is eindeloos. En dis ‘n uitputtende, bose maalkolk wat jou al dieper en dieper in die donker afgrond intrek. Ek sien hoe mense ten gronde gaan en verlore raak – sielsiek raak. Ek weet, ek was self daar. En die hartseer is: jy kan niks vir hulle doen nie. Dis ‘n mind-shift wat hulle self moet maak.

Ek is nie regtig ‘n gevoelsmens nie, ek glo ook nie aan ‘n gevoelsgeloof nie. Maar ek moet toegee, hoe jy voel soos wat jy deur jou daaglikse bestaan gaan, maak wel saak. En dit word altyd beinvloed deur dit waarop ons fokus, en dit wat in ons koppe aangaan. Een van die beste maniere wat my uit daardie donker maalkolk gehelp het, is om te fokus op die NOU. Dit wat voor jou is. En as jou gedagtes begin terugdwaal, dan bring jy dit terug. Neem dit gevange, en fokus op die plek en die oomblik wat voor jou is. Vat dit een dag op slag.

Just where you stand in the conflict, there is your place!

Just where you think you are useless, hide not your face!

God placed you there for a purpose, whatever it be.

Think you He has chosen you for it:

Work loyally.

-Anonymous

 

as die dood ons skei

Op Vrydagoggend 29 Januarie 2016 is my vriendin en medeblogger van The Prickley Pear, oorlede. Sy was 35 jaar oud, en ‘n jarelange lyer van die Lupus-virus.

Christa was ‘n dapper en moedige stryder. Lupus mag dalk haar liggaam geëis het, maar haar gees was sterk; haar wil om te leef onbreekbaar. Alhoewel sy bedlêend was, haar hande ineengekrimp, het dit haar nie gekeer om haar kunstigheid te beoefen nie. Sy het juwele gemaak, gehekel, gebrei…. en enige iemand met ‘n rekenaar of selfoonprobleem het by Christa aangeklop vir hulp, want sy was ‘n boffin met moderne tegnologie!

Christa het voluit geleef. Onselfsugtig. Nie met ‘n “laat-maar-begaan” gesindheid nie, maar met positiwiteit en blymoedigheid. Sy het nooit gekla nie, nooit meer gevra as wat nodig was nie. Sy was in staat om ten spyte van haar omstandighede, nog steeds meer van haarself vir ander te gee, om ander gelukkig te maak.

Sy het ‘n goeie lewe gehad. Baie beter as wat ons ooit sal besef omdat sy sensitief was vir ander se behoeftes. Sy was ‘n omgee-mens. ‘n Sonstraal, altyd verwonderd oor heel alledaagse dinge; bly oor die feit dat sy nog mens is en mag lewe. Bly oor haar geluk; en al die liefdes in haar lewe. Sy was lief om te gee; om te help; om te bemoedig. Christa was een van die min mense wat die wêreld om haar ‘n beter plek gemaak het en gesorg het vir ‘n glimlag op elkeen se gesig.

Sy was nie soos die ryk man in die Bybel wat alles vir haarself gehou het en geen plek vir ander in haar lewe gemaak het nie. Sy het ander geseën met dit wat sy gehad het; met dit wat in haar vermoë was…. Minwetend dat sy hier op aarde geplaas was in ‘n liggaam wat later gebrokenheid en siekte sou moes beveg. Steeds het dit Christa nie onder gekry nie. Inteendeel, haar siekte het haar net sterker en meer gedetermineerd gemaak.

Ten spyte van pyn en ongerief, as sy op dae deur angs en vertwyfeling oorspoel was, het sy steeds gekies om die klein blydskappies en seëninge van haar daaglikse bestaan te beleef. Dit was haar geaardheid. Selfs in ‘n hospitaalbed gekoppel aan naalde en masjiene en pype, het sy dit elke dag dapper in die gesig gestaar en met dankbaarheid geleef vir nog ‘n dag gespaar.

Vir die res van ons is dit nie regverdig nie. Om iemand so jonk, kosbaar en spesiaal te sien ly; vasgevang in ‘n liggaam wat geen kans op herstel gehad het nie. Maar Christa het elke stryd en elke uitdaging, eerbaar voltooi. Sy was een van God se dapper stryders.

Die dood los mens met ‘n hartseer wat niemand kan gesond maak nie. Maar dit laat mens ook met herinneringe wat niemand kan wegvat nie.

Elke keer as ek my whatsapp oopmaak en ek sien Christa se naam op my contact list, dan maak ek outomaties daar oop om vir haar ‘n boodskappie te skryf en te hoor hoe dit gaan, hoe sy voel. Dan onthou ek: sy is nie meer hier nie. En dis hartseer. Sy was ‘n goeie mens met ‘n groot hart.

Maar uit die hartseer kom daar ook dankbaarheid na vore. Dit was ‘n eer om vir Christa te kon ken, al was dit vir ‘n kort wyle. Haar dood herinner my dat my tyd op aarde beperk is en dat ek van elke geleentheid gebruik moet maak om reg en goed te leef. Ek kan nie aan ‘n beter manier dink om diegene wat ons aan die dood afstaan, te vereer nie.

Ek huil omdat Christa weg is, maar ek kan ook glimlag omdat sy voluit geleef het. Ek kan wonder of sy nie een van die gelukkiges is wat uit die dood uit sal opstaan, of na haar trippie hemel toe weer sal terugkom nie…. of ek kan eerder kyk na al die mooi dinge wat sy agtergelaat het. My hart kan leeg voel omdat ek nie meer met haar kan praat of sms nie, of ek kan vol van die liefde wees wat sy uitgedeel het. Ek kan aan haar dink as DOOD, of ek kan die mooi herinneringe van haar koester en dit laat voortleef.

Christa is vanoggend elfuur in Pretoria begrawe. Rus sag, liewe Christa. Jou lewe het goeie vrug gedra en jy het ‘n sinvolle bydrae in ons elkeen se harte en in die samelewing gemaak. Jy hoef nie meer tussen angs en sekerheid te ploeter nie, maar in die volle sekerheid dat God se genade vir jou ook genoeg was.

Tot ons weer ontmoet

xxx

 

 

 

net ‘n gedagte vir die feesgety….

Daar is ‘n spreekwoord wat sê: “Te veel van ‘n goeie ding is nie goed nie.”

Ek geneig om te verskil. Te veel van ‘n goeie ding kan eintlik wonderlik wees.

As ek dink aan Desember wat voorlê; aan die vakansie, Kersfees, Oujaar, Nuwejaar…. Dit word beweer dat hierdie tye die hoogste selfmoordsyfer toon as enige ander tyd deur die jaar.

Hoe kom ‘n mens deur hierdie tye? Veral as jy deur trauma en pyn gekwes is, en die Kersseisoen daardie bitter en pynvolle herinneringe meebring?

Persoonlik is dit vir my net nog ‘n vakansie sonder my kinders. Sonder ‘n lewensmaat. Sonder ‘n gesin. Sonder die opgewondenheid van see toe gaan; die opmaak van ‘n kersboom; kersgeskenke; ‘n heerlike feesmaal voorberei….

En ek is nie die enigste een nie. Daar is ander mense ook – jonk en oud – wat soortgelyke omstandighede in die gesig staar. Die vraag is: hoe kom ons hierdeur? Hoe kom ons anderkant uit sonder om weer van voor af uitmekaar te val net om die nuwejaar weer al die stukke te begin optel?

Een gedagte: oor-ondersteun jouself.

Die samelewing het reeds na hierdie mentaliteit van oorvloed oorgeslaan (met ‘n “te veel” vooraan). Die res van die tyd ly mense aan ‘n tipe emosionele anoreksia wat selfsorg betref. Oral op sosiale netwerke soos Facebook en Pinterest sien mens foto’s van gelukkige gesinne en honderde maniere hoe om jou huis te versier, gewilde resepte vir Kersetes, ens. Ongelukkig het dit ‘n negatiewe effek op mense wat nie die voorreg het om al die voorbereidings te doen nie.

So hoe oor-ondersteun jy jouself in so ‘n tyd? Vir my beteken dit om te doen wat ek moet doen om myself te ondersteun en deur te dra deur hierdie tyd. Om my interne battery gelaai te hou. Om nie bloot te oorleef nie, maar werklik te leef. Hoekom ‘n mens partykeer dink dat jy oraait is in die rooi zone terwyl jy eintlik ‘n voller lewe kan lei, gaan my verstand te bowe.

Die kernpunt is: Wat is eintlik belangriker, ‘n gelukkige jy? Of ‘n depressiewe en negatiewe uitkyk op wat kon gewees het?

Dit is nie maklik nie, ek weet. Maar dit is moontlik. Jy kan deur die volgende maand kom sonder vrese dat jy dit nie gaan maak nie; sonder twyfel; sonder mismoedigheid; sonder uitsigloosheid. Dit kan vir jou ‘n tyd van heel word beteken. Daar is genoeg ruimte en tyd om die hartseer van die verlede te verwerk, en die hier en die nou te verwelkom en dit onvoorwaardelik te aanvaar.

So kom ons wees dapper soos wat die kersseisoen nader spoed. Doen iets radikaal soos om vir jouself ‘n geskenk te koop en ‘n feesmaal voor te berei. En as jy nie lus is daarvoor nie, gaan koop vir jou ‘n takeaway of gaan eet uit. Gaan fliek. Los die skottelgoed wat kan wag tot more. Lees ‘n boek. Vat ‘n road-trip. Gaan kuier vir vriende of familie. Eksperimenteer met hoe dit voel om vir jouself te sorg, om jou menswees te koester en te vertroetel, om jouself te ondersteun, en sommer alles te doen wat jy nooit vir jouself doen nie.

En help ander om jou om dieselfde te doen.

xxx

woorde wat jou tiener NIE vir jou sê nie….

girlEk was in die bevoorregte posisie om twee maklike tienerdogters in die huis te hê. Vir die rukkie wat ek hulle gehad het in elk geval. Voordat hulle uitgetrek het en by hul Pa gaan bly het. Dis nou ongeveer drie jaar vandat die oudste dogter weg is en twee jaar die jongste; en ek geen kontak met hulle het nie. Of mag hê nie. Op hulle versoek.

Dit het my met ontsettende hartseer, verwarring, onsekerheid, en skuldgevoelens gelos. Maar ek het my daarby berus dat hulle wel hul redes het hoekom hulle nie kontak met my wil hê nie. Toe kom ek eendag op hierdie brief af. Dit het my baie diep getref en ek wil amper sê vertroosting in groot mate besorg. Want ek het nooit regtig probeer verstaan nie. Mens aanvaar dikwels te vinnig sonder om te probeer dieper delf en verstaan wat in jou kind se kop aangaan.

(vrylik vertaal):

Liewe Ouer,

Hierdie is die brief wat ek wens ek kon skryf.

Hierdie fight waarin ons nou is, ek het dit nodig. Ek kan nie vir jou verduidelik hoekom nie, want ek weet self nie. Ek weet nie wat om te sê nie, dit sal in elk geval nie sin maak nie. Maar ek het hierdie fight nodig. Erg!

Die feit dat ek jou ”haat”, wel, ek het nodig om jou nou te haat. En jy moet dit survive. Ek het nie net nodig om jou te haat nie, maar ek het nodig dat jy die fight survive en die feit dat ek jou haat ook. En jy kan my maar terug haat, dis okei. Partykeer haat ek ook myself. En ek haat die fight net soveel soos jy. Dit maak nie saak waaroor ons fight nie, ek moet net met jou fight en jy moet terug fight. Dis al.

Maar sien jy hierdie tou? Jy aan die eenkant en ek aan die anderkant. Ek het nodig dat jy aan jou kant van die tou vashou…. terwyl ek my kant thrash. Terwyl ek probeer vashouplek en staanplek soek in my wêreld. Ek het gedink ek weet wie ek was, wie jy was, wie ons was. Maar ek doen nie. En ek wil weet wie ek is en wat ek wil doen en wat ek wil wees…. en ek kan dit net doen as ek jou toutjies trek. As ek jou tot jou limits push. Dan voel dit vir my of ek bestaan en asemhaal. Dan voel ek myself.

Ek weet jy verkies my oulike kant. Jy verlang na die ouliker kind wat ek was. Ek weet jy doen want partykeer wens ek ook ek was nog die ouliker version van myself. Maar dis te seer. Ek wil nie daaraan dink nie. Ek het die fight nodig. Dit maak nie saak hoe groot of hoe sleg my gevoelens is nie, ek moet weet dit gaan nie vir jou of vir my vernietig nie.

Ek het nodig dat jy vir my sal lief wees al is ek hoe bad. Al dink jy ek is nie lief vir jou nie. Ek het nodig dat jy jouself liefhet, en vir my. Vir ons albei op die oomblik. Ek weet dit suck om gehaat te word. Om die vark in die verhaal te wees. Maar dis wie jy nou moet wees. Wees dit vir ‘n rukkie asseblief, en kry ander grootmense om jou hierdeur te help. Want ek kan nie. Nie nou nie. As jy al jou grootmens vriende vir koffie nooi en ‘n support group stig van hoe om jou tiener te oorleef, dan is dit fine by me. Jy kan maar agter my rug van my praat, ek gee nie om nie.

Moet net nie opgee op my nie. Moenie opgee op ons fight nie. Want dit is die fight wat my gaan leer dat my dark side nie groter is as my good side nie. Dis die fight wat my gaan leer dat slegte gevoelens nie die einde van die wêreld beteken nie. Dis die fight wat my gaan leer hoe om vir myself te luister, selfs al stel dit ander mense teleur.

Moenie worrie nie, hierdie fight sal ook eindig. Dit sal oorwaai. Ek gaan hiervan vergeet en jy gaan hiervan vergeet. En dan gaan dit dalk weer kom. En dan moet jy net weer aan die tou hang. Dit gaan nog baie gebeur.

Ek weet dit is vir jou moeilik. Ek weet ek is moeilik. En ek gaan seker nooit vir jou dankie sê vir al jou harde werk nie. Ek gaan jou eerder kritiseer en slegsê. Dan gaan jy voel of niks wat jy doen ooit goed genoeg is. Maar ek maak nog steeds op jou staat om daar te wees vir my. Om daar te wees in die fight. Maak nie saak hoe baie ek met jou stry nie. Maak nie saak hoe depro ek raak nie. Maak nie saak of ek jou die silent treatment gee nie.

Hou net vas aan ons tou.

En weet dat jy nou die belangrikste werk doen wat enige iemand anders doen.

Lovies,

Jou Tiener

Wat dit is om “eenvoudig” te wees

IMG_20150721_0022329

Ons leef in ‘n wêreld waar mans vroue soek wat soos modelle of celebrities lyk…. en vroue wat wil wees en lyk soos modelle of celebrities. Dis die groeiende standaard van wat dit deesdae beteken om die “ideale lewe” te hê, of die “ideale individu” te wees.

Wat ‘n troos om te weet: ons is nie almal so nie. Daar is nog opregte mense daarbuite wat dieper kyk as die uiterlike; wat na meer streef as dit wat oppervlakkig en verganklik is. Mense wat “eenvoudig” is (nie common nie) en in staat om eenvoudig te leef – en vergenoegd te wees. Hulle is yl gesaai en sosiaal onaanvaarbaar, nietemin, dis die soort mens waarna ek streef om te wees.

So, as ek uit persoonlike ervaring kan sê wat dit is wat my help om “eenvoudig” te wees en – buiten omstandighede – my help om gegrond te bly, dan is dit die volgende:

  1. Dit vat nie baie om my gelukkig te hou nie. Dis die klein dingetjies wat saakmaak, en ek is tevrede met die minste. Die lewe is nie moeilik om te handhaaf as jy niks het om te verloor nie.
  2. Ek is nie iemand wat oorboord gaan met my looks nie. Ek kyk na myself en ek wil soos enige ander vrou ook goed lyk…. maar nie noodwendig met grimering, stywe jeans en stiletto’s nie. Ek weier om iets te dra, of iemand te wees, wat my ongemaklik laat voel.
  3. Ek soek nie mense se goedkeuring en aanvaarding nie. Ek het dit nie nodig nie. Ek voel goed oor myself, oor wie ek vandag is. Ek is nie noodwendig trots op my verlede nie, maar dit het my gevorm en gemaak. Dus aanvaar ek myself (let wel: die persoon, die individu, die innerlike en nie noodwendig die uiterlike nie) – en ek weet hoe om myself te hanteer. Vir my is ek genoeg.
  4. Kwaliteit tyd saam is vir my baie meer belangrik as fancy goeters.
  5. Ek probeer altyd oopkop bly in die eenvoudige sowel as die gekompliseerde dinge van die lewe.

En dit is een van die dinge wat min mense – of geen! – van my af weet nie. Op die ou end is die ware mate van eenvoud om waarlik vergenoegd te wees met jouself, met jou omstandighede, en met wat jy het – of nie het n. As jy te veel van jouself of van ander verwag, lei dit tot teleurstellings en veroorsaak dat jy uiteindelik fokus verloor van dit wat belangrik en waardevol is.