Die groot “A”

AFTREDE.

Die rede hoekom hierdie onderwerp juis nou op my hart lê is omdat my en Riaan se ouers binnekort gaan wegtrek vir hulle aftrede; sy ouers Pretoria toe en myne Gouritsmond toe. Dis ver na albei kante toe. Aan die een kant is dit hartseer want dis lekker om ons ouers naby te hê, maar aan die anderkant is ons ook bly vir hulle want dis vir hulle ‘n nuwe hoofstuk in hulle lewens – en in ons s’n.

Kan kinders bekommerd wees oor hulle ouers? Natuurlik ja. Ek was bekommerd oor my ma-hulle, want anders as Riaan se ouers, trek hulle na ‘n stuk grond toe waar die huis nog gebou moet word…. En hulle trek oor twee weke, 22 Maart om presies te wees. Riaan en my stiefpa het klaar die donkies gevat (Braampie en Junior).

Die res van die gediertes trek oor twee weke saam (die budgies en hoenders; die kwakkers, kolgans, en kopereende; die potbelly vark, die hanskalf en hanslam; plus die vier honde!). So, die diere is half en half uitgesorteer, maar my ma-hulle gaan vir tyd en wyl in ‘n karavaan op die grond self moet bly terwyl die huis gebou gaan word.

Ek het aanvanklik my bedenkinge gehad. My ma word 70 die jaar en wie wil op daardie ouderdom nou gaan sit en sukkel met ‘n huisbouery en kampeer-leefstyl? Nie my ma nie. Alhoewel hulle in ‘n groot en luukse karavaan gaan bly, is sy nie ‘n kampeerder nie; en sy hou nie van sukkel nie. Vir haar gaan dit ‘n groot aanpassing wees; en soos met enige huisbouery is daar mos altyd vlieë in die salf en daar gebeur altyd dinge wat ‘n mens se planne laat dwars foeter.

Nietemin, ek het op die punt gekom waar ek vrede gemaak het met die idee en ek het net besluit dat, as my ma gelukkig is, en as sy vooruitsigte het, en as sy in haar elemente is oor hierdie skuif, wie is ek om te protesteer? Ek gun hierdie stukkie hemel vir haar, want sy het al swaar genoeg gekry in haar lewe. As daar iemand is vir wie ek dit gun, dan is dit sy. So Ma, ek is saam met Ma opgewonde en bly oor die nuwe begin op Plattebos. As dit die plek is waar Ma se siel gaan rus vind, dan berus ek my daarby.

Riaan se ouers is tans besig om vir hulle ‘n plekkie te soek in die stad. Hulle wil graag terugkeer na hul “roots”, waar die familie en naasbestaandes is; en waar Christa se graf is (Riaan se sussie wat twee jaar gelede aan Lupis oorlede is). As alles goed afloop behoort hulle ook binnekort te verhuis.

Maar op ‘n meer ernstige noot (en ek besef baie goed ek skryf hier as ‘n leek in die gebied), maar as werk die medium of platform is waar ons ‘n verskil kan maak, hoe moet ons na die konsep van aftrede kyk? Ons leef in ‘n kultuur wat die idee bevorder dat aftrede ‘n manier is om te onttrek van jou daaglikse arbeid sodat jy die lewe ten volle kan gaan geniet – sonder enige verantwoordelikheid of verpligting. Dus die mentaliteit van, ‘Ek kan doen wat ek wil en wanneer ek wil, dis my beloning na jare se harde werk‘.

Ek weet egter nie van enige een in die Bybel wat formeel ‘afgetree’ het behalwe die Levitiese priesters nie. In Numeri 8:23-25 sê God vir Moses dat die Leviete van die ouderdom van 25 af in die tabernakel moet werk; en na 50 moet hulle ophou. Dan mag hulle nie langer in die tabernakel werk nie. Maar dit stop nie daar nie. Hierdie afgetrede priesters het nie net opgepak en op die strande van Tel Aviv gaan leeglê nie. Al mag hulle nie langer in die tabernakel gewerk het nie, moes hulle raadgewers en adviseurs vir die jonger Leviete gewees het. Verder in die Bybel lees ons net van mense wat hulle lewens lank gewerk het tot die dag van hul dood.

Tree ‘n kind van God ooit af, of uit, sy of haar diensbaarheid vir God? Stellig nie. Terwyl mense van een seisoen na die volgende beweeg tydens aftrede, roep God hul steeds om te bly groei en om hul gawes en talente tot Sy beskikking te stel. Vir Christene moet aftrede ‘n tyd van nuwe en toenemende geleenthede wees om aan God diensbaar – en beskikbaar en gewillig vir diens – te bly.

Elkeen van ons moet besluit hoe ons die tyd uitkoop wat God vir ons gee. “Wees dus baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos dwase mense leef nie, leef wys!” vermaan Paulus. Gebruik elke geleentheid om die Here te dien. Vir baie mense bied aftrede nuwe geleenthede vir werk; hetsy dit betaald of onbetaald is…. Om iewers as ‘n vrywillige helper in te skakel; om in ‘n gebedsbediening te dien; om aan te hou as orreliste of om Sondagskool te onderrig; om aan te hou skryf aan jou blog of jou boek; om kinders op te pas of bejaardes te versorg; om ‘n besigheid te bedryf….. Over geset synde, daar lê ‘n inherente waardigheid in werk; en God roep ons om in Sy wingerde te arbei tot die dag wanneer Hy ons na ons hemelse huis toe roep.

So, aan my ouers en Riaan se ouers wil ek graag die volgende sê: Mag julle hierdie nuwe fase ingaan en die beste geniet wat die lewe vir julle bied. Mag julle altyd onthou dat julle nie uit julleself nie, maar alleen deur die Here se genade tot hier gekom het. Bly produktief. Bly getrou aan die roeping wat God vir julle gegee het. Hou aan om die goeie te doen. Moet nooit ophou om vir die Here te leef nie sodat julle ook soos Paulus aan die einde van jul lewenspad sal kan sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voltooi; ek het die geloof behou”.

Xxx

Advertisements

‘n Blye Boodskap

Een van my swakhede is dat ek vinnig opgewerk en frustreerd raak as dinge nie reg loop nie, of as dinge nie gou genoeg gebeur na my sin nie. As ek weer sien is ek sommer in ‘n slegte bui…. En wat dit eintlik veroorsaak is bekommernis en onsekerheid, en dit is giftig vir ‘n mens se gemoed want dit sit jou emosies op loop.

Gister het ek so ‘n emosioneel uitmergelende dag beleef by die werk; só dat ek totaal oormoeg, emosioneel belaaid en uitgeput by die huis gekom het. Ek was in die bui vir niks en niemand.

Dan om alles te kroon kom mens nog op daai punt van, nou hoe nou gemaak? Hoe hanteer ek dinge nou verder? Hoe gaan ek my finansies verder hanteer? Hoe gaan ek vorentoe maak? Want skielik gebeur daar dinge en alles tref jou met een slag. Jy raak verbouereerd en bekommerd en jy sit en tob oor dinge waaroor jy eintlik geen beheer het nie, maar op een of ander wyse moet jy dit máák werk, come hell or high water!

Dis wat vir my vanoggend so wonderlik is, hoe die Here met ‘n mens werk deur absoluut alles; maak nie saak hóé deurmekaar nie, maak nie saak wat alles deur jou kop jaag nie.

Of ons bid daaroor of nie, die Here staan altyd reg met ‘n antwoord. Toe ek vanoggend my dagstukkie oopmaak, toe kry ek hierdie ongelooflike stukkie vertroosting uit Filippense 4. Dit is so ‘n bekende gedeelte in die Bybel wat mens al so baie gelees het, maar dis asof dit juis vanoggend vir my nuwe betekenis het. Paulus kon dit netsowel in ‘n brief persoonlik aan my gerig het! My interpretasie van wat God vir my vanoggend wil sê uit Die Boodskap-vertaling is die volgende:

Eerstens, maak nie saak wat gebeur nie, BLY GETROU OP DIE PAD WAT DIE HERE VIR JOU WYS. Wees bly net oor die feit dat jy aan God behoort. Dít moet jou rede vir blydskap wees. Nie wat jy het of nie het nie. Nie wat jy kry of verloor nie. Maar die feit dat jy aan God behoort moet jou bron van vreugde wees.

Tweedens, moenie sit en tob oor dinge nie. Moenie bekommerd wees nie. PRAAT MET DIE HERE DAAROOR. Maak ‘n punt daarvan en bespreek dit met God. Moenie dinge in jou kop sit en probeer uitwerk nie. Moenie na mense toe hardloop nie. Gaan na die Here toe en vertel Hom in alle eerlikheid hoe jy voel. Hy weet die beste. Sê vir Hom dankie daarvoor!

Derdens, dink aan dinge waaroor God sal dink. Dinge wat ordentlik en reg is. Dinge wat vir Hom saakmaak. Dinge waarvan Hy hou. Dinge wat Hy sal sê goed is. Moenie jouself vergiftig met nuttelose gedagtes nie. DINK EN DOEN DINGE WAT DIE MOEITE WERD IS, en sorg dat dit altyd vir God in ‘n goeie lig stel want Hy los jou nooit nie. Hy bly altyd by jou.

Dan, wat maak dit saak of jy brandarm of skatryk is? Om te min of te veel te hê? Of dit swaar gaan of goed? LEER OM KLAAR TE KOM MET WAT JY HET. Moenie dat onbenullighede met jou kop smokkel en met jou emosies weghardloop nie. Wees tevrede met wat jy het en wat jy kry.

So, watookal jou tref, vir alles in die lewe – die goeie en die slegte – bly tevrede. Wees geduldig. Wees bly. Sien kans – omdat Jesus jou bron van krag is.

Xxx

Rejoice-In-The-Lord-Always-CANVAS

Die seën en vreugdes van werk

Ek is geseën met ‘n goeie werk. Toe ek in Augustus 2016 hier begin het, was ek in die diep kant gegooi. Alles en almal was vreemd en dit het my ongeveer 6 maande geneem om alles onder die knie te kry (dankie tog vir 6 maande probasies!) Iemand het eendag ‘n opmerking gemaak dat ek gelukkig was omdat ek as ‘n blanke vrou toegelaat was, al is dit net op kontrak basis. Maar ek dink nie ek was “gelukkig” nie, ek sien myself as geseënd: Geseënd omdat ek die regte mense op die regte tyd en op die regte plek leer ken het; geseënd met talente en vermoëns wat my in staat stel om die werk te kan doen; geseënd met ‘n gesonde verstand om elke dag meer te kan leer en om verder te kan studeer; geseënd omdat my werknemers en kollegas my regverdig behandel en respekteer.

Elke een van hulle, in hul uniekheid, is ‘n bron van inspirasie en ondersteuning. ‘n Mens werk nie vir eer en erkenning nie, tog is dit belonend wanneer jou harde werk raakgesien word….

….of wanneer jy onthou word in die feesgety wanneer almal met verlof gaan en jy deel is van die skeleton span wat oor vakansietyd werk.

DSC_0001_5

Hoog en laag, ek is geseënd omdat ek nie net maai nie, maar ook kan saai. Nie omdat ek dit enigsins verdien nie, maar alleen uit genade en guns van Bo.

Mag jy ook in die ongeveer 86400 sekondes van elke dag besef hoe geseënd jy is!

Xxx

 

 

Dis nou of nooit

Vandag het die werk ‘n bom laat val dat die begroting vir my pos goedgekeur is vir ‘n permanente pos. Die pos is in Aug 2016 geskep as ‘n fixed term contract en ek was bevoorreg om die pos as ‘n tydelike werker te beklee, ek kon alles leer wat ek moes en ek kon ook my stempel afdruk en ‘n verskil maak. My departement worstel al vir ‘n geruime tyd om die pos permanent te maak so dit is goeie nuus dat dit wel uiteindelik goedgekeur is…. Die probleem is egter dat dit intern geadverteer gaan word so ek moet nou oor aansoek doen en weer vir ‘n onderhoud gaan. Ek staan ‘n kans so goed soos enige iemand anders, daar is geen waarborg dat ek hierdie keer suksesvol gaan wees nie. So ek is nogal benoud want daar is ‘n paar dinge wat teen my tel, onder andere my velkleur. Hierdie is maar een van talle polities-georiënteerde organisasies….

Onsekerheid is ‘n aaklige ding en ek is seker dat dit meeste van die tyd ongegrond is. Vir my voel dit of my werk skielik in gevaar is. Mens weet nooit het jy rede om bekommerd te wees nie.

Ek reken dis nou die regte tyd om van my hoë perdjie af te klim en uit my gemaksone wakker te skrik. Weet, ‘n mens kan sooooo gou té selfversekerd, selfvoldaan en verwaand raak, en so sus jy jouself vas aan die slaap. Hierdie was ‘n wake up call dat ek niks is en niks kan doen sonder die Here nie. As dit Sy wil is dat ek hier bly, dan glo en vertrou ek dat Hy my werk veilig sal hou. As Hy egter ander planne vir my het, dan bid ek dat Hy vir my daardie deur sal oopmaak en my gereed sal maak om daardeur te loop.

Wanneer laas het jy vertrou dat alles sal uitwerk volgens Sy doel en plan vir jou lewe?

Xxx

 

Sommer net

Na my laaste plasing tot nou toe beleef ek erge skrywersblok. My verstand voel so toe soos ‘n klei-os se agterstewe. As ek saans so deur almal se blogs blaai en deurlees dan wens ek ek was minder ernstig en perfeksionisties en “beskaafd”. Ek wens ek het die vermoë gehad om soos ander bloggers sommer net enige iets oor enige iets te kan skryf. Sommer oor alledaagse dinge. Sonder om te wonder of dit ‘n gewigtige betekenis sal dra, sonder om dit honderd maal oor en oor te lees om te kyk hoeveel foute ek gemaak het, of ek nie dalk op iemand se tone trap nie…. Dis sieldodend! Want ek kan enige tyd van die dag met myself ‘n gesprek in my kop voer asof dit uit die mode gaan, maar wanneer ek die gedagtes wil neerpen op papier slaan ek toe. Dan vind ek skielik nie die regte woorde om neer te pen nie, en alles wat ek skryf lyk so afgewater. Hoekom, vra ek myself?

Hoe simpel kan ‘n mens wees!!

Daarby kan ek seker ook die werk blameer. Vir die afgelope paar weke is ek dun gerek van al die werk. Oorwerk, oormoeg, uitgebrand. Ek kan nie meer lekker dink nie. Hoe sê daai een gesegde? Ek is so moeg, tot my moeg is moeg! Nou dis hoe moeg ek is. Ek het nou die aand lê en dink, is dit hoe my lewe moet gaan? Werk toe en terug. Mens kom moeg in die aande by die huis, maak kos, maak skoon, stort, en slaap. Dag na dag. Oor en oor. Lewe by mekaar verby. Dit is regtig soos Salomo gesê het, alles net ‘n gejaag na wind. Dit put my uit.

En dan weet ek nou nog nie wat met my kontrak gaan gebeur nie. Ek het nog nie eers die nuwe kontrak geteken nie – en die 6 maande is amper weer verby! Iewers in die pyplyn is daar ‘n motivering vir ‘n permanente aanstelling, maar dit kom ook nie tot uitsluitsel nie. Soveel van ongeorganiseerdheid en diskriminasie het ek nog nie teëgekom nie. My kollegas word vir opleiding in Johannesburg gestuur. Waar sit ek? Net hier vasgekluister. Want dis hoe dinge rol. Maatjies sorg vir maatjies, en die res van ons veg vir oorlewing.

Maar buiten die werk het ons so ‘n klomp probleme met die woonstel gehad. As dit nie die stort se drein is wat verstop nie is dit die  kragmeter wat foutief is en kan ons nie krag oplaai nie. Die een plug na die ander blaas of smelt. As die stoof aan is kan ons nie die ketel aansit nie. Die verwarmer en die mikrogolf kan nie gelykertyd werk nie.  My stiefpa (wat ‘n gesertifiseerde elektrisiën is) sê die ou wat die bedrading gedoen het, het nie ‘n benul gehad wat hy doen nie. En waar is diegene wat eintlik verantwoordelik gehou moet word? MIA. Missing In Action. As dit nie vir Riaan was wat alles van alles af geweet het en reggemaak het nie (op ons onkostes, I’ll have you know), weet ek nie hoe sou ons gemaak het nie. Stort se drein reggemaak. Kragboks uitgesorteer (na erge dreigemente aan die munisipaliteit). Hulle het tot vir ons ‘n vergoeding van 350 eenhede gegee vir al die ongerief! Bid jou dit aan.

Gepraat van die munisipaliteit, hier staak hulle weer. Postmasburg lyk soos ‘n hool. Rommel is oral in die dorp rondgestrooi. In die strate, op die sypaadjies, voor die winkels se deure. Dan steek hulle nog daai groot staaldromme ook aan die brand. Dit stink, dis vuil, dis vieslik. Mens sal ‘n siekte optel. Elke dag moet jy hoop en bid iemand gooi nie jou voertuig met ‘n klip nie. Want dis wat hulle doen. Hulle trek sommer los en gooi klippe of glasbottels. Net wat hulle in die hande kan kry. Kan iemand nie net ‘n bom daar gaan drop nie?!! Of ‘n skerpskutter kry om al die gemors van ontslae te raak nie!

Dankie tog, dis more Vrydag! Sleepvoet het die week darem ook amper sy dinges gesien. Saterdag gaan ons bietjie Kimberley toe vir hare sny en inkopies. Dalk gou ook ‘n fliek inwerk. Sondag het ek afgevat van die orrel speel. Dit raak ook soms te veel.. Want dis al ander dag wat ek het om te rus, en ‘n naweek is net so lank! Maar ek kry nog nie moed om heeltemal te bedank van die orrel speel nie, dis nog ‘n innerlike debatvoering.

En na al die sinnelose skrywe gaan ek my rekenaar afsit en Big Bang Theory en Friends kyk tot my oë wil toeval. Want dis my ontspanning saans na werk, wanneer ek rustig kan gaan sit en hekel met ligte komedie op tv wat my kan entertain. Ek weet nie hoe mense nog saans na dramabelaaide sepies kan kyk nie. Ek sal totaal depro raak.  So na tv gaan ek  ‘n paar bladsye lees uit ‘n nuwe e-boek wat ek aangeskaf het, The Science of God. Nou DIT is ‘n goeie manier om die dag af te sluit.   Dit voel of ek vir ewig deur die skrywer se brein kan rondkrap!  En niks te worrie oor die dag van môre nie. Want elke dag sorg vir homself.

Xxx

als is wel

Wel, vandag was ek by die huis. Ek was verbied om te gaan werk…. En ek het nie juis ‘n keuse gehad nie. Die werk het so besluit. Nie dat ek kla nie, dit was ook nodig. Hoekom? Want blykbaar as ‘n kontrak verleng word, moet daar ‘n “af” dag tussen die twee kontrakte wees. Glo iets met die arbeidswet te doen.

Jip, my kontrak is met nog ses maande verleng. Harde werk, lojaliteit, deursettingsvermoe en inisiatief is toe nie net sentimentele cliche’s nie. Dit dra eventueel vrug.

Hard work pays off.

Dis genade.

Daar is vir die mens niks goeds behalwe dat hy kan eet en drink en ten spyte van sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het besef dit is ‘n gawe wat uit God se hand kom. Prediker 2:24