Koljander, koljander

Ek het vanoggend ‘n stukkie waarheid geleer…. by ‘n bossie koljander. Ek lees van ‘n persoon wat skryf oor die bossie koljander wat al vir meer as ‘n week in die yskas lê. Toe kom hy agter dat party van die blare erg verlep is. Sy eerste instink was om die hele bossie weg te gooi, maar besluit eerder om die blare wat nog groen is te hou deur die vrottes en verleptes af te pluk en weg te gooi. Die varses het hy in ‘n plastieksakkie terug in die yskas gesit.

Terwyl hy die verlepte blare pluk, besef hy daar is eintlik meer van die groenes oor as wat hy gedink het. So hy het darem nie sy geld gemors nie. Tog, toe sy oog aanvanklik die slegtes gevang het, het hy die ergste daarvan gedink (nes mense ook is).

Dit het hom nogal ‘n rukkie geneem om die bruikbare blare van die nie-bruikbares te skei. Hy moes dit metodies en versigtig doen, maar het beter gevoel toe hy klaar met die proses was. ‘n Propvol sakkie om te bewys hoeveel van die goeie daar nog oor was…. En sy yskas en kombuis ruik heerlik!

Dankie tog, die Here sien nie net die sleg in ons raak en besluit dis beter om die hele “bossie” weg te gooi nie. Hy sien die goeie in ons raak en snoei elke tak en loot wat nie vrug dra nie, terwyl Hy die lote wat wel vrug dra, weer en weer snoei sodat dit nog meer vrug kan dra.

Metodies en versigtig pluk Hy die sondige neigings uit ons lewens om te verhoed dat dit ons verder besmet; en Hy gebruik die goeie wat Hy in ons vind om Sy wil te doen. Dan “verpak” en “verseël” hy ons in Sy Gees om ons te beskerm en ons “vars” te hou totdat Hy ons kan gebruik.

In plaas daarvan om aanhoudend op die slegte en vrot en aaklige dele in onsself te fokus, moet ons dalk begin raaksien hoeveel van die goeie God ook in ons menswees ingeweef het. Ons moet leer om na onsself deur God se oë te kyk. Hy sien elke blaartjie raak en bepaal of dit die moeite werd is om nog te hou vir Sy gebruik. Daar is baie meer van die goeie in onsself as wat ons besef, wat Hy ten goede kan en wil gebruik.

Ek weet nie van jou nie, maar dit maak my net meer dankbaar vir die proses, ongeag van hoe lank dit vat. Want ek besef net dat daar saam met die sleg tog nog goed ook in my is – en dat dit goed genoeg is vir Hom om te snoei en te bewerk en te red.

xxx

Vir al die vervreemde mammas op moedersdag

Hoe moet moedersdag vir jou voel as jy ‘n ma is, maar jou kinders wil niks met jou te doen hê nie? Vir hulle is jy so goed soos dood; jou naam en bestaan uitgewis uit hul gedagtes. As lid van hierdie stam leef ek die revolusionêre realiteit.

Anna Jarvis was die stigter van moedersdag in 1914, ter ere aan alle moeders. Sy was self ‘n kinderlose tannie van baie niggies en nefies; en sy het moedersdag tot stand gebring om alle moeders te eer. Dit sluit in al die tannies en groottannies en oumas en peetma’s en vroue in die algemeen wat hul liefde en aandag vir kinders uitgiet wat nie hul eie is nie.

Om ‘n ma te wees en om moederlik te wees, is nie altyd dieselfde nie. Baba’s word gebore uit die baarmoeder. Moederlikheid word gebore uit die siel. Daar is baie maniere om ‘n ma te wees. Ek weet van ma’s wat kinders het, maar wat nie verdien om kinders te hê nie; wat ‘n klad op naam van moederskap is. Dan kry jy vroue wat met ‘n instinktiewe moederlikheid gebore is en ‘n hunkering en strewe na ‘n kindjie van haar eie het, maar nie kinders kan hê nie.

Almal kan ma’s wees, maar nie almal is moederlik nie.

Moedersdag sonder ons kinders bly maar ‘n swaar dag. Met al die moedersdag promosies en advertensies voel ‘n mens “uit” en “minder as”. Want moedersdag is ‘n harde realiteit dat ons wel eens op ‘n tyd die voorreg gehad het om moeders te kon wees. Vir my het moedersdag ‘n dag geword wat my leeg laat voel, onvolledig, hartseer, alleen, agtergelaat, onbelangrik, verwerp….

….Maar dis uit hierdie ervaring en uitkykpunt dat ek vir myself reminders begin neerskryf het, om my te herinner wie ek is en wie ek kan wees op hierdie dag en die dae wat voorlê soos die Here bepaal.

1) Die Merriam-Webster Dictionary definieer moederskap as: “om geboorte te gee”, “om te versorg en te beskerm”. Sinonieme hiervan is om te baar, genereer, aflewer, produseer…. Die idee hieragter is dat moederskap nie beperk is tot tyd en plek nie. Die Here het my goed genoeg geag om geboorte te skenk aan twee pragtige dogters. Hy het my ‘n moeder gemaak. Hy het my hulle moeder gemaak. Dis ‘n realiteit wat niemand ooit van my – of van hulle – sal kan wegvat nie. Al is ons wêrelde van mekaar geskei, ek is en bly hulle ma. Dis nie net ‘n geestelike feit nie, dis ook ‘n biologiese, wetenskaplike, en mediese feit.

2) Nie net is moederskap nie beperk tot tyd en plek nie, moederskap is nie beperk net tot kinders nie. Na die vervreemding het ek so apaties geword teenoor die samelewing, ek wou vir geen dier of mens of ding naby my omgee of sorg nie. Die skeiding / verwydering was te seer, tog het die hunkering om vir iets of iemand te sorg en om te gee, diep gesetel gebly.

Ek het by myself begin. Na myself begin kyk. Dr Phil het ‘n standpunt wat sê: “Take care of yourself before you take care of others.” Dis so waar. In die som van wat gebeur het, is ek immers die een wat agtergebly het. So ek het net myself oor. Sorg vir myself. Gee om vir myself. Geestelik, emosioneel, fisies.

Die wêreld het iemand soos ek nodig. Die werk het my nodig. My familie en vriende het my nodig. Ek verdien om goed te voel en goed te leef. Die Here het my ‘n moederlike kanaal gemaak waardeur Sy liefde en lig kan vloei. Ek kan nog steeds ‘n kanaal wees. Wanneer ‘n mens verlore en bemoeid voel, is die beste manier om na jou siel om te sien, om in “tune” te kom met die moederlikheid binne-in jouself – en moederlik te wees met jouself. Dis die moederlike wysheid en instink in ons wat ons kan vertrou, want dis die moeder in ons wat ons nooit sal verlaat of verwerp nie en wat altyd by ons bly.

3) Ons kry elke dag met mense te doen. Ek, wat ‘n privaat en teruggetrokke en afgesonderde mens is, het net een dag besef dat (of ek dit nou wil weet of nie), ek gee elke dag ‘n bietjie van myself vir die mense met wie ek te doen kry. Na die vervreemding het ek so baie teruggehou – liefde, deelname, betrokkenheid, toewyding…. omdat ek vasgeklou het aan verwyte en vrese. Ek was altyd ‘n gee-mens, maar die afgelope paar jaar sukkel ek daarmee omdat ek begin uitgeput en ontneem / beroof gevoel het. Emosioneel laat ek nie mense naby my toe nie, en ek raak ook nie emosioneel betrokke by ander mense nie.

Onder swaar boeie vasgevang en beperk sodat ek nie volle toegang het tot my vermoëns om te gee of te ontvang nie…. Nogtans kan ek van die bietjie gee wat ek het. Want God dra ons deur met ons min en al. En vir elke bietjie wat ek elke dag kan gee, kom dit veelvoudig terug. Net dit is genoeg om die gebreekte kruik stadig weer vol te begin maak.

4) Ek is bevoorreg en dankbaar dat ek nog my eie ma het om te eer op moedersdag. Sy wat deur dik en dun, deur goed en sleg, deur alles en nog wat by my gestaan het en nooit minder lief vir my was nie.

So, al is moedersdag vir my baie pynlik en nie ‘n baie positiewe dag nie, kan ek kies om hierdie dag op gelukkiger maniere te ervaar. Dit hoef nie net in die een vorm gevier te word waaraan ek altyd gewoond was nie, maar vanuit die donker leemtes kan ek dit transformeer na ‘n hoogtepunt wat die oorvloed van liefde en seën wat wel teenwoordig is in my lewe, te vier.

Laat jou moed, jou hoop, jou uitmuntendheid, jou medelye, jou geesdrif, jou intellek en jou mensliewendheid skyn en jy sal die wêreld verlig!

En vir al die wonderlike mamma’s daarbuite wat selfloos so baie van hulleself gee en opoffer, wil ek graag sê:

b479cda04089e2c3473a8aeb64a49f41

Hoe bedryf jy menseverhoudings?

Wanneer dit by alledaagse menseverhoudings kom, wat vorm die basis van jou bedrystelsel? Hoe opereer jy?

My persoonlike bedryfstelsel werk so: Ek het nie ‘n saak wat ander mense van my dink of sê nie. Voorheen was ek ‘n glorified people’s pleaser. Vandag het ek my identiteit gevind in die vorm van ‘n siniese, apatiese kritikus. As mens dit te ver vat, kan die een kant so verkeerd wees soos die ander kant. Een lei na ‘n ongesonde trots en sin van onafhanklikheid…. die ander kant tot die gevolg dat jy mense aanhang en verafgod.

Paulus sê ons moet bedag wees daarop om eerbaar op te tree – voor God en voor mense1 so ‘n mens moet maar jou optrede teenoor ander evalueer en dink hoe ander jou optrede interpreteer.

Ons kry daagliks met situasies te doen waar ons teenkanting en opposisie ervaar. Situasies waar ons gemoedstoestand deur ander se optrede bepaal word. Ek het ‘n motto wat sê: “My reaction is based on how you treat me.” Maar ek vergeet dikwels dat ek ook kan seermaak en beledig en aanstoot gee.

Wanneer is ons té waaksaam?

Hoe keer ons dat ons nie soos robotte voortgedryf en gemotiveer word deur ander mense se eise, begeertes en persoonlike agendas nie?

Wanneer daag ons ander mense se optrede uit in plaas van om op eiers rondom hulle te loop?

Die antwoorde op hierdie vrae verg ongelooflike wysheid, en die wyse Salomo het geskryf:

“Moenie dat jy tekort skiet aan liefde en getrouheid nie. Koester dit soos iets waardevols wat jy om jou nek dra. Skryf dit op die tafel van jou hart. Jy sal guns vind by God en by mense.”2

Ons optrede moet dus gemotiveer word deur liefde, gegrond in waarheid. Dit gaan nie noodwendig ‘n vreedsame atmosfeer waarborg nie, en omdat ons net mens is, is dit nie altyd maklik om hierdie beginsel elke dag suksesvol uit te voer nie.

Die Here alleen weet, ek self skiet baie ver tekort. Maar as ek my daarop gaan fokus om my bedryfstelsel elke dag te probeer bou op liefde en waarheid, en na wysheid en leiding te soek in elke situasie, kan ek verseker weet dat God my sal help juis in elke gebied waarin ek faal.

  • 2 Kor 8:21

  • Spr 3:3-4

Home Sweet Home

forget-me-not-flowers-vase
Ek stry nie. Om te trek is ‘n schlep. Soveel van inpak en uitpak, bokse en goetertjies en gattertjies…. Nietemin, ek en Riaan het die naweek by ons nuwe tuistetjie ingetrek. Klein tuinwoonstel. Min pakplek. Min spasie. Half beknop. Maar maak nie saak nie. Elke spasie – groot of klein – verdien ‘n nuwe storie. En na vier jaar sonder ‘n ruimtetjie van my eie, glo my, is hierdie ‘n stukkie hemel op aarde. Want ‘n vrou soek maar ‘n spasie vir haarself.

Daar’s ‘n Turkse spreekwoord wat sê: “’n Tuiste sonder ‘n vrou is ‘n tuiste sonder ‘n siel.” Ek kan dit amper andersom ook stel: “’n Vrou sonder ‘n tuiste is ‘n vrou sonder ‘n siel”! Want in elke ideale tuiste is daar soort van ‘n geur en sprankel van ‘n vrou. Sonder dit is ‘n huis bloot ‘n woning en nie ‘n tuiste nie.

Onder ‘n vrou se sagte hand, val alles in plek. Skoonheid en vrede vind ‘n blywende rusplek. By uitstek is dit die vrou wat ‘n tuiste idealiseer, en te danke aan haar teenwoordigheid, ontstaan daar ‘n atmosfeer van kalmte en tevredenheid.

Die woonstel met sy kleinheid en eenvoud herinner my daaraan dat alle dinge (of die meeste) verlosbaar is. Dit begin met niks meer as ‘n leë dop nie, maar met moeite kan ‘n mens nuwe lewe daarin blaas. Dis ‘n voortdurende proses van veranderinge en aan die gang bly. Daar is altyd kans op verbetering.

So baie dinge saamgevoeg maak ‘n tuiste ideaal, selfs al is dit nog onder konstruksie. Smaak verander voortdurend. Die argitek of bouer bou die exterior volgens sy smaak en styl, maar nie in staat om ‘n praktiese interior te beplan nie. Die binnekant van jou huis word beplan van waar die fondasie gelê is. Jy maak self jou tuiste volgens jou smaak. Elke mens maak sy tuiste volgens sy eie smaak. Elke tuiste dra ‘n kenmerkende karakter. Want ‘n tuiste moet opgevat en ingeneem word deur diegene wat daarin woon; die toonbeeld volgens hulle smaak…. hulle verfyning, hulle begrip, hulle denkbeeld van wat prakties en mooi is. Elke mens se benadering is anders, en dis goed om altyd te onthou dat, nie almal gaan noodwendig van jou smaak hou nie. Mense gaan hulle neuse optrek en kritiek lewer. Mense gaan vir jou wil voorskryf hoe jy eintlik hier en eintlik daar moes gemaak het…. Maar daar sal altyd iemand wees wat dieper kyk as die binnekant van jou huis; iemand wat kyk na die binnekant van jou hart – en tuis voel. Hartsmense. Nie van die soort wat daar sit en elke foutjie uitsoek en innerlik kritiseer nie. Dit lyk mos of hulle op warm aartappels sit en nie kan wag om hulle ry te kry nie.

Vir my persoonlik moet my tuiste praat van ‘n eklektiese mengelmoes van wie ek is. My menswees. My persoonlikheid. My hart. My storie. Ek soek nie iemand anders se stempel in my huis afgedruk nie want dit is my ruimte waar ek bly, wat stadig aan besig is om my menswees en persoonlikhede te begin insluit en omsluit. So, vir nou is dit vir my voldoende, want uiteindelik het ek my eie stukkie heiligdom; ‘n veilige hawe wat my kan inspireer en aanspoor en kalmte gee.

As jy let op ander met hul goud en eer
Dink dan God beloof jou nog oneindig meer
Tel jou seëninge, weet dat prag en praal
Nooit die minste van die hemel kan behaal

Tel jou seëninge, tel hul een vir een
Seëninge jou deur God geskenk
Tel hul almal, kyk wat God verleen
En jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk

ouers se integriteit wat vernietig word: die goed, die sleg, en die aaklige werklikheid

Parental alienation: As a victim of parental alienation, I can say that it is one of the most painful and devastating experiences to go through. You are kept from your children while vial accusations are made about your love for your kids and then falsely presented to your child to brainwash them. It is one of the worst forms of child abuse. If you are experiencing this unconscionable act enforced by corrupt legal activity know that you are not alone. Alec Baldwin went through similar circumstances and wrote a book about it for anyone who is interested in learning more. ~dapmd

Hierdie is een van die aanhalings wat my laat wonder het, hoekom moet ek wegkruip en in isolasie leef omdat ek ‘n vervreemde ouer is? Ek is nie die enigste een nie. Net soos die bekende akteur, Alec Baldwin, en talle ander ouers, het ek aanvanklik ook elke aand gebid en vir die Here gevra om my net weg te vat. Nee, nie gevra nie, gesmeek. Ek wou nie meer in die oggende wakker word nie, ek het die dood begeer.

Nie net ervaar ek eerstehands wat ouervervreemding is nie, ek het al taamlik baie daaroor geleer ook, daarom dat ek besluit het om daaroor te skryf. Hoekom moet mense soos ek stom op ‘n hopie gaan sit en pruil? Hierdie is MY perspektief. Ek is nie ‘n sielkundige nie. Ook nie ‘n wetsgeleerde nie. Ek is net ‘n ma. Wat weet hoe om die roller coaster van woede, depressie, magteloosheid, en ontnugtering te ry. Wat weet van sukkel om daagliks te cope. Wat wonder hoe my dogters elke dag cope.

Nie net het die regstelsel my gefaal nie, mense het my gefaal. Mense wat ouervervreemding afmaak as swak ouerskap. Ek het op ‘n stadium gevoel dat selfs God my gefaal het (dis nou in my gebroke en onkundige denkwyse). Hoe benader of addresseer ‘n mens die situasie as dit totaal buite jou ervaringsveld is; buite jou gemaksone, buite jou geloofsraamwerk…. Ek het begin deur feite bymekaar te kry. Die eerste ontnugterende feit is dit: min mense weet werklik wat ouervervreemding behels. Maar nog meer ontnugterend: min prokureurs en sielkundiges in ons regstelsel weet regtig iets van vervreemding af, of gee regtig om. Hulle weet nie hoe om die konsep wetlik of terapeuties te benader nie. Ja, hulle weet van kinderregte en egskeiding en onderhoudsplig…. Hulle kan hulle idees rondom ouervervreemding vir jou klinies en volgens die boek probeer verduidelik, maar in menslike terme faal hulle grootliks. Daar is ‘n groot verskil tussen die kliniese ontleding van die anatomie van ‘n vervreemde ouer, en om fisies aan die ontvangkant van die vervreemder te sit. Dis so goed jy bestudeer ‘n bestuurhandleiding en klim vir die eerste keer agter die kar se stuurwiel in. Om die handleiding te ken is nie dieselfde as om fisies die sleutel te draai en die kar te bestuur nie.

Die konsep van ouervervreemding is dit: een ouer of voog beskadig en vernietig doelbewus ‘n gesonde verhouding tussen ‘n kind en sy of haar ander ouer, tot so ‘n mate dat die vervreemder en die kind saamwerk om die ouer suksesvol uit die kind se lewe te elimineer. Een oomblik het ek en my dogters ‘n wonderlike verhouding gehad. Die volgende oomblik was daar nie meer iets soos ‘n verhouding nie.

Mense het al vir my gesê dat ‘n normale, gesonde ma/dogter verhouding nie in ‘n kwessie van ‘n paar dae vernietig kan word nie. Wel, hulle is verkeerd. Dit kan. Ouervervreemding is soos ‘n trein sonder ligte wat deur ‘n donker tonnel dreun. Jy staan op die treinspore in die middel van die donker tonnel wanneer daardie trein jou tref. Jy verwag dit nie. Jy hoor nie eers die trein aankom nie. Geen gevaartekens, geen waarskuwing.

Die werklikheid is dat daar mense is (ouers en voogde ingesluit) wat kinders emosioneel mishandel. Hulle is wraaksugtig. Selfgesentreerd. Stel slegs belang in die vervulling van sy/haar behoeftes – ten koste van die kind, en van familielede. Hulle het nie die vermoë om te besef dat hulle eintlik die kind geweldig seermaak deur die kind kant te laat kies in konfliksituasies nie. Hulle kant. Dis ‘n geweldige misdryf wat teen ‘n kind gepleeg word, want:

  1. die vervreemder weier om te erken dat die kind een helfte van elke ouer is, so elke keer wanneer die vervreemder vir die kind vertel hoe aaklig en waardeloos die ander ouer is, vertel hy/sy eintlik vir die kind hoe aaklig en waardeloos daardie helfte van die kind self is.
  2. die vervreemder leer die kind verkeerdelik dat, om alle kontak te verbreek met die ander ouer, familielede, vriende, ens. die regte manier is om teleurstelling en seer te hanteer. Wat hy/sy egter nie besef nie, is dat die kind gaan grootword sonder die nodige vermoëns om gesonde en normale verhoudings met ander volwassenes te hê.
  3. die kind gaan eendag uit ‘n volwasse perspektief terugkyk op die vervreemder se gedrag en besef dat die vervreemder hom/haar van iets baie kosbaar beroof het: die liefde en ‘n gesonde verhouding van die ander ouer. Die kind sal besef dat sy vertroue in die vervreemder eintlik misplaas was, en verraai voel. En op daardie stadium sal die kind nie net een beskadigde verhouding met ‘n ouer hê nie, maar met albei ouers en diegene wat hy/sy uit sy lewe gesny het.

Wat vervreemders aan ‘n kind doen, is wreed en onaanvaarbaar. Hulle rig meer skade aan die kinders, as aan die eks wat hulle eintlik teiken. Hulle is narssistiese boelies en verdien hoegenaamd nie om eers ‘n ouer of voog genoem te word nie, want hulle is ‘n skreiende skande vir die samelewing, en plaas ‘n klad op ouerskap.

Van een vervreemde ouer na ‘n ander: Onthou, die een ding wat niemand van jou af kan wegvat nie, is die feit dat JY die natuurlike en wettige ouer is van jou kinders. Die voorreg en gawe van moederskap wat GOD vir jou gegee het, kan niemand uitwis nie al wil hulle ook hoe graag.

Sterk staan, jy is nie alleen in die stryd nie!

xoxo

 

die klein dingetjies in die lewe

Ons word dikwels gebombardeer met boodskappe soos: “Dink groot”…. “gaan vir goud”…. “klim die leer van sukses”…. “reik na die sterre”…. En doen dit NOU! Klink bemoedigend, tog het ek al gevind dat wanneer ek hierdie raad volg, is ek geneig om vinnig uitgebrand, uitgeput, en onvoldoende te voel.

Hoekom? Wat is verkeerd daarmee om “groot te dink”?

(Ek verpes selfhelp boeke!)

Wel, inherent is dit nie verkeerd om groot te dink nie. Maar as jy glo dat “groot” beter as “klein” is…. om buite jou vermoë te gaan eerder as om dit rustig te vat…. om die beste te wees wat jy kan wees…. troef jy die beginsel om te waardeer wie jy is en dit is nie regverdig teenoor jou ware self nie.

Kom ons wees eerlik. Nie almal is bedoel om “groot” te wees nie. Nie almal hou daarvan om die heeltyd te multitask en mal besig te wees nie. Nie almal wil al hul energie mors om vir goud te gaan nie. Baie van ons waardeer meer die rooi, oranje, geel, groen, blou, en pers in die lewe. Kleure. Kontraste. ‘n Klomp dinge wat niks te doen het met groot gaan of bo uit kom nie. En dis nie noodwendig verkeerd nie. Natuurlik kan ons nie almal daar bo in die hoogtes wees nie. Nie almal wil daar wees nie. Want daarbo kan dit eensaam raak. Die lug raak dun. So daar is nêrens om heen te gaan behalwe ondertoe nie.

So, wat is so wonderlik oor die klein dingetjies in die lewe?

Dit is iets wat ek myself moes aanleer nadat my kinders uit die huis is. Na twee mislukte huwelike. Tydens werkloosheid…. Dis die klein dingetjies wat ons altyd sal onthou en waardeer wanneer ons op die verlede reflekteer. Soos ‘n braai saam met vriende. Inkopies saam met jou ma. Jou kinders se verspotte laggies en armpies om jou nek. Daai warm gevoel wat jy kry as jy iemand in nood help; as jy die lentebloeisels bewonder.

As mens nie die klein dingetjies geniet nie, wat bly dan vir ons oor behalwe die uitdagings en teleurstellings van die lewe wat op ons voorstoepe plop wanneer ons dit die minste verwag.

Die lewe bestaan uit oomblikke. Ons dink daaraan in terme van dae, weke, maande, jare. Maar die kern van die lewe is oomblikke. Ek wil nie dat my oomblikke bestaan uit die stres van alles op een slag probeer doen, of die goed wat ek nie gedoen kry nie…. of die teleurstelling in myself vir die dinge wat ek vergeet om te doen…. of mislukkings…. of mismoedigheid omdat dit voel of ek in ‘n groef vasgeval is.

Partykeer is dit nodig om ‘n kopskuif te maak en meer te begin fokus op die oomblik van nou. ‘n Mens trek te gou skouers op en sê: “Dit was ‘n slegte dag, niks wou uitwerk nie.” Selfs ‘n slegte ervaring het ‘n waardevolle oomblik daarin toegedraai…. as mens net ‘n bietjie dieper delf om dit raak te sien.

Ek los hierdie woorde vir my dogters: Let op die dinge wat julle doen. Moenie dat die konstante spervuur om “meer te doen” en “meer te wil hê” en “meer te wees” en die stryd om “goed genoeg te wees” julle beroof van die mooi en goeie oomblikke nie. xxx

johnwooden384652

Enter a caption

 

Radikaal

Die wyse Salomo het geskryf:

“Daar is ‘n vaste tyd vir alles, elke ding onder die son het sy tyd…. ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou. ‘n Tyd om te huil en ‘n tyd om te lag. ‘n Tyd om hartseer te wees en ‘n tyd om van vreugde te dans…. ‘n Tyd om te skeur en ‘n tyd om vas te werk. ‘n Tyd om stil te bly en ‘n tyd om te praat. ‘n Tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat….” (Pred. 3)

Ons lewe in ‘n wêreld van veranderinge. Tye verander. Toestande verander. Mense verander. Dis die gang van die lewe, soos die konstante vloei van ‘n rivier. Van die een ekstreem na die volgende.

As ek dink aan al die radikale veranderinge in my eie lewe, dan sien ek hierdie patrone van veranderinge oor en oor en oor. En die wonder hiervan is dat elke verandering wat betrekking het op my lewe; en elke verandering wat betrekking het op jou lewe, onveranderlik vasgemaak is en beslis word deur ‘n Hoër Hand. Ons moet dinge vat soos wat dit kom want dit is nie in ons mag om dit wat aan ons toegeskryf word, te verander nie.

Die vervreemding van my dogters was sekerlik dié radikaalste verandering ooit. Ek sou dit nie gemaak het as ek nie een dag op ‘n slag gevat het nie. Dit is maar een voorbeeld van ‘n verandering waaroor ek geen beheer gehad het nie; wat my lewe – en my menswees – radikaal verander het. Nogtans kan ek vashou aan die hoop dat ook die laagste valleie aan die hoogste berge verbind is.

Maar ek het ook geleer om nie verhewe te wees deur hoop nie, ook nie platgeslaan deur vrese nie. Maar om met ‘n egaligheid van verstand elke verandering tegemoet te kom.

Vir elke ding onder die son is daar ‘n seisoen. Die dinge wat totaal in kontras met mekaar staan, kry elkeen sy beurt om af te speel. Die dag gee plek vir die nag, en die nag vir die dag. Somer vir winter, en winter vir somer. Post gaudia luctus: Blydskap oorwin uiteindelik verdriet. Post nubile phoebus: die son skyn helder agter die donkerste wolke. Daardie dinge wat vir ons alledaags en nietig lyk, selfs dit is in die raadsplan van God opgeteken. Vooraf bepaal. Die tye wanneer dit aanbreek is reeds vooraf bepaal, en kan nie met ‘n sekond vervroeg of vertraag word nie.

Maar dan het die Here ons ook vrye wil gegee. Gesonde verstand om besluite te kan neem en Hom te raadpleeg in die proses. Hy ken immers die begeertes van ons hart.

Ek het onlangs besef dat ek nie vir ewig in die rouproses van die vervreemding kan vasklem nie. Iewers langs die pad sal ek moet laat los en laat gaan, en met my lewe aangaan. Oor begin. Dit beteken nie dat ek van my dogters gaan vergeet nie. Inteendeel, hulle afwesigheid sal altyd ‘n leemte in my lewe agterlaat. Die holte in my binneste sal nooit weggaan nie. Die pyn is altyd daar. Maar ek kan nie vir die res van my lewe in hierdie groef vasgeval bly nie.

Vir vier jaar moes ek by mense loseer het omdat ek alles verloor het en nie ‘n heenkome gehad het nie. Toe kry ek werk. Op kontrak, maar dis steeds ‘n werk. Oor drie weke trek ek en Riaan in ons eie plekkie in. Ons eie spasie. Ons ruimte. Ons privaatheid. ‘n Nessie waarna ek so lank al smag. Want Hy het geweet. En Hy voorsien ver bo wat ons bid of dink.

Gaan ek nog oor 4 maande werk hê? Ek weet nie. Gaan ek en Riaan oor ‘n jaar of vyf nog saam wees? Dit weet ek ook nie. Al wat ek weet is, ek is gedaan van voortploeter op dieselfde trant. Nee, Postmasburg bied nie gulde geleenthede nie. Ons is uitgelewer aan geen werksopsies, duur en minimum behuising, duur lewensonkostes…. Hier sit ons in die middel van niks en nêrens. Maar ons moet iets van niks maak. Die beste van ‘n slegte saak. Dis hier waar God die deure oopgemaak het, en Hy kan dit enige tyd weer toemaak. Dis hier waar ek seker moet groei terwyl ek hier geplant is.

Daar is baie verskonings wat ‘n mens aan kan dink van hoekom jy nie radikale besluite moet neem nie. Hoekom is radikale verandering nie goed vir jou nie. Hoekom dit nie realisties klink nie. Want iewers langs die pad is jy reeds deur twee mislukte huwelike. En jy sit sonder jou kinders. En jou werk is ‘n onseker saak…. En dan sien ek ‘n foto van ‘n olimpiese basketbalspeler in ‘n rolstoel sonder bene, en ek besef dat daar ‘n groot verskil is tussen uitdagings en verskonings. It’s all in the mind.

Dan is daar die mense ook nog wat wil kommentaar lewer. Wat dink jy maak ‘n groot fout. Want die oomblik wanneer jy ‘n radikale besluit neem, raak dit angswekkend. Nie vir jou nie, maar vir die mense om jou. Want hulle bevraagteken hulle eie lewens. Hulle wonder hoekom hulle nie kan doen wat jy doen nie. Min mense voel geinspireerd deur iemand anders se radikale besluite. Hulle kan nie die veranderinge waardeur jy gaan, en die besluite wat jy neem, verstaan of hanteer nie. Daarom kritiseer hulle eerder. Maar dis okei. Want hier is wat ek nie wil doen in die lewe nie: gelykvormig wees. Conform. Saam met die stroom swem. Net dooie visse dryf saam met die stroom. Wat ek wil doen in die lewe is om te inspireer, en geïnspireer te word. Ten minste weet ek, ek is nie waar en wie ek was nie. Ek is besig om in ‘n iemand te verander.

Mense wat nie bereid is om te verander nie, word nooit vernuwe nie. Hulle bly altyd soos hulle is. Hulle omstandighede bly onveranderlik. Hulle harte verander selde of nooit.

Ek is bereid om ‘n bietjie buite my gemaksone te strek en ‘n stap in geloof te neem. Gaan my besluite slaag? Ek weet nie. Ek hoop so, maar ek kan nie met sekerheid sê nie. Al wat ek doen is om dit wat ek nou goedgevind het om te doen, met oorgawe en toewyding te doen. Ek werp my brood op die water in die hoop dat ek dit weer sal terugkry.

So, al lyk dinge op die oog af asof dit nie gaan regkom of gaan realiseer nie, en eerder vererger….

“Nogtans sal ek in die Here jubel, ek sal juig in die God van my heil.” (Habakuk 3:18)

nie vir sensitiewe lesers

Kyk, elke mens het goeie en innemende kwaliteite. Takt is egter nie een van myne nie.

Ek was altyd ‘n naiewe mens en het alles geglo wat mense gese het. Maar oor die jare het die lewe my in ‘n skeptikus verander. In plaas van om op gevoelens staat te maak, maak ek nou eerder staat op feite. Want feite is meer betroubaar as mense. So, aangesien ek nou op my eie aangewese is en emosioneel ‘onbevoegd’ om ‘n dagboek getrou te hou, is ek nou besig om vir myself ‘n reelboek op te stel. ‘n Reelboek gebasseer op feite uit lewenslesse wat ek so met die tyd leer.

Feit nommer 1 in my boek is dat, nie almal wat ‘n mens ontmoet of ken of mee saamwerk, van jou gaan hou nie. Jy hoef nie noodwendig iets te doen dat mense nie van jou hou nie. Net jou teenwoordigheid, jou bestaan is genoeg om iemand se battery nat te piepie.

Reel nommer 1: Dalk is aanstoot nie so sleg after all nie. Daar is baie belangriker dinge in die lewe as mense se gevoelens. ‘n Ongemaklike realiteit, want ons is anders grootgemaak. Ons is grootgemaak om “nice” te wees met ander mense. Beskaafd. En dis goed. Vriendelikheid is goed. Veilig. ‘n Mooi eienskap. Fantasties as jy status quo wil handhaaf.

Dodelik as jy iets in die lewe wil bereik.

Ongeag of jou werk of jou huis of die kerk die plek is waar jy graag ‘n verskil wil maak, as jy aan ander mense se emosies uitgelewer is (selfs jou eie), sal dit jou eventueel emosioneel lamle. As jy nie besluite wil maak sonder om elke keer aan iemand anders se gevoelens te dink nie, gaan jy niks in die lewe bereik nie.

Ek wens ek het dit vroeer in my lewe besef, dan sou die situasie met my kinders dalk baie beter gewees het.

People that can never offend anyone, can never delight anyone either.

Dit beteken nie dat as jy altyd die vark in die verhaal is, dit jou suksesvol sal maak nie. Maar as jy nie bereid is om by geleentheid die vark te wees nie, gaan jy beslis in sak en as opeindig.

Reel nommer 2: Haat is ‘n bysaak. Hoe meer impak jy maak, hoe minder gaan sommige mense jou verstaan en van jou hou. Alles wat jy doen of se word gemisinterpreteer. Natuurlik kan jy dit vermy deur niks te doen nie…. As dit jou grootste ideaal in die lewe is om net so af en toe jou laptop se wallpaper te verander…. Maar as jy vooruitgang wil maak in die lewe en hard werk om kop bo water te hou, moet jy maar leer om te cope met mense wat jou min of glad nie kan verdra nie.

Reel nommer 3: Net omdat iemand afgepiepie is, beteken dit nie dat hulle noodwendig reg is nie. Mense wat kwaad is het gewoonlik nie iets intelligent om te se nie. Dink bietjie aan die tyd toe jy kwaad was oor iemand wat voor jou ingedruk het by die winkel, of jou afgesny het in die verkeer. Het jy toe iets intelligent gese? Woede is ‘n emosionele reaksie. Niks verkeerd daarmee om kwaad te raak nie, maar ‘n mens is nogal geneig om ‘n opvallende spektakel van jouself te maak as jy kwaad is. Heeltemal buite proporsie, soos ‘n verbyvlietende impuls. En soos enige impuls is die uitlokkingspunt niks anders as assosiasie nie. Party haat Apple, ander haat Google. Party is regs, ander is links. Se iets positief oor die een groep en jy steek ‘n fundamentele woede-vuur by die ander groep aan.

Wat my tot ‘n deurslaggewende slotsom gelei het: Om aan ander mense se kwaadheid gelykvormig te raak, is om aan die domste deel van hulle natuur toe te gee.

So, wees maar die vark in die verhaal en ignoreer die ander, uhm, varke.

Hoekom is mense inherent bang dat hulle ander mense se gevoelens gaan seermaak? Dat hulle ander gaan omkrap? Of ontstel? Want as ons mense ontstel of omkrap, is ons genoodsaak om onsself te regverdig. Ons smag so daarna om ons kwaadsprekers en gifsaaiers se guns te wen. Ons wil almal se goedkeuring wegdra, en net een kritiek uit ‘n honderd komplimente brand in ons breine soos ‘n sigaret wat doodgedruk word.

Laaste wat ek ‘n realiteitsanalise gedoen het, is dit ‘n futiele wensdenkery om die persoon wat jou nie kan verdra nie, se guns te probeer wen. Haters haat jou. Punt. Einde. Klaar. Of jy nou daartoe bygedra het of nie. Maak vrede daarmee. Iemand het gese:”Don’t try to win over the haters; you are not a jackass whisperer.” Party mense put eenvoudig genot daaruit om jou liggie te verdof. Hulle sal alles in hul vermoe doen om helderder as jy te skyn – ten koste van die waarheid.

Wanneer ek nou in die spieel kyk, besef ek…. sjoe, na al die seerkry, wonde, kneusplekke, teenspoed…. het ek dit gemaak. Ek is daardeur. Ek het dit oorleef wat veronderstel was om my plat te slaan en tot niet te maak. So ek kan my kroon reg skuif en soos ‘n oorwinnaar wegstap. Want die kettings wat ons soms bind is meer in ons koppe as enige iets anders….

xxx

 

moenie die PAD onderskat nie

Die grondpad na my ma-hulle se plaas toe is tans ‘n riller. Dis erg sinkplaat. Die stomme huurmotortjie waarmee ek ry het klaar ‘n paar ratel geluide by gekry. Die teerpaaie in Postmasburg is vol slaggate. Mens weet nie meer watter kant toe om te ry sonder om deur ‘n slaggat te ploeter nie.

Dit herinner my nou aan die tyd toe ons in Brandfort in die Vrystaat gebly het – ek en my eksman en my twee meisiekinders. My oudste, Manee, kon al goed bestuur het (as my geheue my nou nie in die steek laat nie was sy so dertien/veertien jaar oud op daardie stadium). Ouma het haar op nege jaar al met die plaasbakkie op die plaas leer bestuur.

Ons het daai tyd so ‘n silwer Ford Focusie gery. Nou Brandfort is ‘n klein, stil dorpie vir die wat nie weet nie. Baie geskiedkundige ou plekkie vol van die Anglo-Boereoorlog se geskiedenis. Taamlik stewige en stoere boeregemeenskap. Paar winkels in die hoofstraat (amper al die besighede sit in die hoofstraat!). Die pad is breed, maar net so vol slaggate. Soos die ander paaie in Brandfort se woongebied.

Dit was vir ons ‘n treat party middae wanneer Manee vir my en kleinsus deur die dorpie vat in ons Ford Focusie. Dis nou as ons klaar is met die dag se tuisonderrig en huistakies. Ek was so trots op Manee oor hoe vinnig sy geleer het om verby of oor die slaggate te ry, vir ‘n kind van haar ouderdom wat net plaaspaaie geken het. Ek gee nie om wat mense se, dat ek onverantwoordelik was om haar sonder ‘n leerlinglisensie te laat ry nie. Dit was ek en my dogters, alleen meeste van die tyd. So goed soos ‘n enkelouer. Ek wou gehad het my kinders moes leer om onafhanklik en selfstandig te wees. So hierdie ritte was beslis vir haar ‘n goeie leerskool en het haar bestuursvernuf goed verskerp. Ek was gerus dat, sou ek iets moes oorkom en daar nie ander hulp naby was nie, sou Manee agter die stuurwiel kon inklim en haarself en haar sussie na veiligheid kon neem. Geen pad sou vir haar te ‘n groot uitdaging gewees het nie, want sy was bekend met die meeste pad toestande.

Hoe lyk my PAD? Hoe lyk jou PAD?

Die woordjie PAD vorm eintlik ‘n mooi akostiek:

Persone in jou sfeer van invloed…. familie, vriende, kollegas…. elke persoon in jou lewe. Goed of sleg.

Aksies wat jy geneem het. Geleenthede wat jy aangegryp het. Of deur jou vingers laat glip het.

Dink met ‘n goeie oortuiging. Wandel in geloof, of in ongeloof.

Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek dat die mens se verlede (goed of minder goed) hom tog in ‘n mate voorberei vir die toekoms. Vir die PAD wat hy nog moet stap. En tussen die verlede en die toekoms staan God as bemiddelaar, om die ervaringe van die verlede met die toekoms te versoen. Hy is, per slot van rekening, ‘n God van versoening.

Die pyn en seer van die verlede help ‘n mens beslis op die PAD vorentoe. Elke tree wat ons gegee het, het ons tot op hierdie punt gebring. En elke tree wat ons nog vorentoe gaan gee, gaan ons iewers heen vat. Al gaan dit vallende en struikelende.

U sal my die pad van die lewe bekend maak…. U leer my hoe om te lewe. Psalm 16:11

xxx

als is wel

Wel, vandag was ek by die huis. Ek was verbied om te gaan werk…. En ek het nie juis ‘n keuse gehad nie. Die werk het so besluit. Nie dat ek kla nie, dit was ook nodig. Hoekom? Want blykbaar as ‘n kontrak verleng word, moet daar ‘n “af” dag tussen die twee kontrakte wees. Glo iets met die arbeidswet te doen.

Jip, my kontrak is met nog ses maande verleng. Harde werk, lojaliteit, deursettingsvermoe en inisiatief is toe nie net sentimentele cliche’s nie. Dit dra eventueel vrug.

Hard work pays off.

Dis genade.

Daar is vir die mens niks goeds behalwe dat hy kan eet en drink en ten spyte van sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het besef dit is ‘n gawe wat uit God se hand kom. Prediker 2:24