Koljander, koljander

Ek het vanoggend ‘n stukkie waarheid geleer…. by ‘n bossie koljander. Ek lees van ‘n persoon wat skryf oor die bossie koljander wat al vir meer as ‘n week in die yskas lê. Toe kom hy agter dat party van die blare erg verlep is. Sy eerste instink was om die hele bossie weg te gooi, maar besluit eerder om die blare wat nog groen is te hou deur die vrottes en verleptes af te pluk en weg te gooi. Die varses het hy in ‘n plastieksakkie terug in die yskas gesit.

Terwyl hy die verlepte blare pluk, besef hy daar is eintlik meer van die groenes oor as wat hy gedink het. So hy het darem nie sy geld gemors nie. Tog, toe sy oog aanvanklik die slegtes gevang het, het hy die ergste daarvan gedink (nes mense ook is).

Dit het hom nogal ‘n rukkie geneem om die bruikbare blare van die nie-bruikbares te skei. Hy moes dit metodies en versigtig doen, maar het beter gevoel toe hy klaar met die proses was. ‘n Propvol sakkie om te bewys hoeveel van die goeie daar nog oor was…. En sy yskas en kombuis ruik heerlik!

Dankie tog, die Here sien nie net die sleg in ons raak en besluit dis beter om die hele “bossie” weg te gooi nie. Hy sien die goeie in ons raak en snoei elke tak en loot wat nie vrug dra nie, terwyl Hy die lote wat wel vrug dra, weer en weer snoei sodat dit nog meer vrug kan dra.

Metodies en versigtig pluk Hy die sondige neigings uit ons lewens om te verhoed dat dit ons verder besmet; en Hy gebruik die goeie wat Hy in ons vind om Sy wil te doen. Dan “verpak” en “verseël” hy ons in Sy Gees om ons te beskerm en ons “vars” te hou totdat Hy ons kan gebruik.

In plaas daarvan om aanhoudend op die slegte en vrot en aaklige dele in onsself te fokus, moet ons dalk begin raaksien hoeveel van die goeie God ook in ons menswees ingeweef het. Ons moet leer om na onsself deur God se oë te kyk. Hy sien elke blaartjie raak en bepaal of dit die moeite werd is om nog te hou vir Sy gebruik. Daar is baie meer van die goeie in onsself as wat ons besef, wat Hy ten goede kan en wil gebruik.

Ek weet nie van jou nie, maar dit maak my net meer dankbaar vir die proses, ongeag van hoe lank dit vat. Want ek besef net dat daar saam met die sleg tog nog goed ook in my is – en dat dit goed genoeg is vir Hom om te snoei en te bewerk en te red.

xxx

Hoe bedryf jy menseverhoudings?

Wanneer dit by alledaagse menseverhoudings kom, wat vorm die basis van jou bedrystelsel? Hoe opereer jy?

My persoonlike bedryfstelsel werk so: Ek het nie ‘n saak wat ander mense van my dink of sê nie. Voorheen was ek ‘n glorified people’s pleaser. Vandag het ek my identiteit gevind in die vorm van ‘n siniese, apatiese kritikus. As mens dit te ver vat, kan die een kant so verkeerd wees soos die ander kant. Een lei na ‘n ongesonde trots en sin van onafhanklikheid…. die ander kant tot die gevolg dat jy mense aanhang en verafgod.

Paulus sê ons moet bedag wees daarop om eerbaar op te tree – voor God en voor mense1 so ‘n mens moet maar jou optrede teenoor ander evalueer en dink hoe ander jou optrede interpreteer.

Ons kry daagliks met situasies te doen waar ons teenkanting en opposisie ervaar. Situasies waar ons gemoedstoestand deur ander se optrede bepaal word. Ek het ‘n motto wat sê: “My reaction is based on how you treat me.” Maar ek vergeet dikwels dat ek ook kan seermaak en beledig en aanstoot gee.

Wanneer is ons té waaksaam?

Hoe keer ons dat ons nie soos robotte voortgedryf en gemotiveer word deur ander mense se eise, begeertes en persoonlike agendas nie?

Wanneer daag ons ander mense se optrede uit in plaas van om op eiers rondom hulle te loop?

Die antwoorde op hierdie vrae verg ongelooflike wysheid, en die wyse Salomo het geskryf:

“Moenie dat jy tekort skiet aan liefde en getrouheid nie. Koester dit soos iets waardevols wat jy om jou nek dra. Skryf dit op die tafel van jou hart. Jy sal guns vind by God en by mense.”2

Ons optrede moet dus gemotiveer word deur liefde, gegrond in waarheid. Dit gaan nie noodwendig ‘n vreedsame atmosfeer waarborg nie, en omdat ons net mens is, is dit nie altyd maklik om hierdie beginsel elke dag suksesvol uit te voer nie.

Die Here alleen weet, ek self skiet baie ver tekort. Maar as ek my daarop gaan fokus om my bedryfstelsel elke dag te probeer bou op liefde en waarheid, en na wysheid en leiding te soek in elke situasie, kan ek verseker weet dat God my sal help juis in elke gebied waarin ek faal.

  • 2 Kor 8:21

  • Spr 3:3-4

Radikaal

Die wyse Salomo het geskryf:

“Daar is ‘n vaste tyd vir alles, elke ding onder die son het sy tyd…. ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou. ‘n Tyd om te huil en ‘n tyd om te lag. ‘n Tyd om hartseer te wees en ‘n tyd om van vreugde te dans…. ‘n Tyd om te skeur en ‘n tyd om vas te werk. ‘n Tyd om stil te bly en ‘n tyd om te praat. ‘n Tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat….” (Pred. 3)

Ons lewe in ‘n wêreld van veranderinge. Tye verander. Toestande verander. Mense verander. Dis die gang van die lewe, soos die konstante vloei van ‘n rivier. Van die een ekstreem na die volgende.

As ek dink aan al die radikale veranderinge in my eie lewe, dan sien ek hierdie patrone van veranderinge oor en oor en oor. En die wonder hiervan is dat elke verandering wat betrekking het op my lewe; en elke verandering wat betrekking het op jou lewe, onveranderlik vasgemaak is en beslis word deur ‘n Hoër Hand. Ons moet dinge vat soos wat dit kom want dit is nie in ons mag om dit wat aan ons toegeskryf word, te verander nie.

Die vervreemding van my dogters was sekerlik dié radikaalste verandering ooit. Ek sou dit nie gemaak het as ek nie een dag op ‘n slag gevat het nie. Dit is maar een voorbeeld van ‘n verandering waaroor ek geen beheer gehad het nie; wat my lewe – en my menswees – radikaal verander het. Nogtans kan ek vashou aan die hoop dat ook die laagste valleie aan die hoogste berge verbind is.

Maar ek het ook geleer om nie verhewe te wees deur hoop nie, ook nie platgeslaan deur vrese nie. Maar om met ‘n egaligheid van verstand elke verandering tegemoet te kom.

Vir elke ding onder die son is daar ‘n seisoen. Die dinge wat totaal in kontras met mekaar staan, kry elkeen sy beurt om af te speel. Die dag gee plek vir die nag, en die nag vir die dag. Somer vir winter, en winter vir somer. Post gaudia luctus: Blydskap oorwin uiteindelik verdriet. Post nubile phoebus: die son skyn helder agter die donkerste wolke. Daardie dinge wat vir ons alledaags en nietig lyk, selfs dit is in die raadsplan van God opgeteken. Vooraf bepaal. Die tye wanneer dit aanbreek is reeds vooraf bepaal, en kan nie met ‘n sekond vervroeg of vertraag word nie.

Maar dan het die Here ons ook vrye wil gegee. Gesonde verstand om besluite te kan neem en Hom te raadpleeg in die proses. Hy ken immers die begeertes van ons hart.

Ek het onlangs besef dat ek nie vir ewig in die rouproses van die vervreemding kan vasklem nie. Iewers langs die pad sal ek moet laat los en laat gaan, en met my lewe aangaan. Oor begin. Dit beteken nie dat ek van my dogters gaan vergeet nie. Inteendeel, hulle afwesigheid sal altyd ‘n leemte in my lewe agterlaat. Die holte in my binneste sal nooit weggaan nie. Die pyn is altyd daar. Maar ek kan nie vir die res van my lewe in hierdie groef vasgeval bly nie.

Vir vier jaar moes ek by mense loseer het omdat ek alles verloor het en nie ‘n heenkome gehad het nie. Toe kry ek werk. Op kontrak, maar dis steeds ‘n werk. Oor drie weke trek ek en Riaan in ons eie plekkie in. Ons eie spasie. Ons ruimte. Ons privaatheid. ‘n Nessie waarna ek so lank al smag. Want Hy het geweet. En Hy voorsien ver bo wat ons bid of dink.

Gaan ek nog oor 4 maande werk hê? Ek weet nie. Gaan ek en Riaan oor ‘n jaar of vyf nog saam wees? Dit weet ek ook nie. Al wat ek weet is, ek is gedaan van voortploeter op dieselfde trant. Nee, Postmasburg bied nie gulde geleenthede nie. Ons is uitgelewer aan geen werksopsies, duur en minimum behuising, duur lewensonkostes…. Hier sit ons in die middel van niks en nêrens. Maar ons moet iets van niks maak. Die beste van ‘n slegte saak. Dis hier waar God die deure oopgemaak het, en Hy kan dit enige tyd weer toemaak. Dis hier waar ek seker moet groei terwyl ek hier geplant is.

Daar is baie verskonings wat ‘n mens aan kan dink van hoekom jy nie radikale besluite moet neem nie. Hoekom is radikale verandering nie goed vir jou nie. Hoekom dit nie realisties klink nie. Want iewers langs die pad is jy reeds deur twee mislukte huwelike. En jy sit sonder jou kinders. En jou werk is ‘n onseker saak…. En dan sien ek ‘n foto van ‘n olimpiese basketbalspeler in ‘n rolstoel sonder bene, en ek besef dat daar ‘n groot verskil is tussen uitdagings en verskonings. It’s all in the mind.

Dan is daar die mense ook nog wat wil kommentaar lewer. Wat dink jy maak ‘n groot fout. Want die oomblik wanneer jy ‘n radikale besluit neem, raak dit angswekkend. Nie vir jou nie, maar vir die mense om jou. Want hulle bevraagteken hulle eie lewens. Hulle wonder hoekom hulle nie kan doen wat jy doen nie. Min mense voel geinspireerd deur iemand anders se radikale besluite. Hulle kan nie die veranderinge waardeur jy gaan, en die besluite wat jy neem, verstaan of hanteer nie. Daarom kritiseer hulle eerder. Maar dis okei. Want hier is wat ek nie wil doen in die lewe nie: gelykvormig wees. Conform. Saam met die stroom swem. Net dooie visse dryf saam met die stroom. Wat ek wil doen in die lewe is om te inspireer, en geïnspireer te word. Ten minste weet ek, ek is nie waar en wie ek was nie. Ek is besig om in ‘n iemand te verander.

Mense wat nie bereid is om te verander nie, word nooit vernuwe nie. Hulle bly altyd soos hulle is. Hulle omstandighede bly onveranderlik. Hulle harte verander selde of nooit.

Ek is bereid om ‘n bietjie buite my gemaksone te strek en ‘n stap in geloof te neem. Gaan my besluite slaag? Ek weet nie. Ek hoop so, maar ek kan nie met sekerheid sê nie. Al wat ek doen is om dit wat ek nou goedgevind het om te doen, met oorgawe en toewyding te doen. Ek werp my brood op die water in die hoop dat ek dit weer sal terugkry.

So, al lyk dinge op die oog af asof dit nie gaan regkom of gaan realiseer nie, en eerder vererger….

“Nogtans sal ek in die Here jubel, ek sal juig in die God van my heil.” (Habakuk 3:18)

elke seer het sy eie storie

En ‘n seer storie is wanneer mense jou in die rug steek…. vriende, familie, kollegas, wederhelftes, kinders…. Mense met wie jy nou ‘n pad begin stap het, of al lewenslank ‘n pad mee stap. Mense wat jy nou leer ken het, of jou lewe lank al ken. Mense wat jy vertrou. Met wie jy jou hart en jou lewe gedeel het. Mense van wie jy dit die minste verwag.

Dis nie lekker as mense jou in die rug steek nie. Dit gooi jou hele lewensopvatting en sieninge omver, en sny jou hart in skerwe. Maar nie net breek dit jou hart nie, dit verdonker jou siel. Jy vergeet nooit die pyn nie, soos ‘n miswolk wat altyd oor die dieptes van jou siel hang. Jy verloor vertroue in mense. Begin twyfel in jouself, jou oordeel, jou emosies. Dis soos om deur ‘n slang gepik te word en jy wonder hoe jy dit nooit sien kom het nie, hoekom jy nie die tekens gesien het nie. Jy begin om jouself te blameer; om op te hou glo in liefde en lojaliteit, want dit verblind jou net. Jy verwyt jouself omdat jou gevoelens jou verraai het. Jy skakel stadig maar seker af totdat die mooiste en beste dele van jouself bitter word. Jy vra en jy vra, maar die antwoorde kom nie. Niks maak sin nie….

Ek worstel met die gedagte dat ek van my kinders vervreem is – dat hulle my summier afgesny het – en ek worstel ook met die gedagte dat ek van my pa vervreem is – dat hy my afsny. Wend geen poging aan om te versoen en te rekonsilieer nie. Grootliks as gevolg van ander mense se invloed, en ek verstaan nie hoekom mense so is nie. Hoekom moet daar altyd mense wees wat ander wil trap en onwaardig laat voel. Wat bereik hulle daardeur? Probeer hulle goed voel oor hulleself of wat? Is dit wat Jesus bedoel met, ons moet soms van ons families afstand doen? Van mense afstand doen? Voorsien Hy soms dat daar dinge is wat verwydering tussen ons en mense kan bring…. sodat ons ons regte familie en vriende in geloofsgemeenskappe kan vind? Is dit hoekom die kerk Sy liggaam genoem word?

Ek is tot in my siel in moeg vir ‘n rugstekery (dis iets wat ‘n mens eventueel aftakel). Ek is net moeg vir “fake” mense met lafhartige en duistere motiewe. Asof dit nie genoeg in my persoonlike lewe gebeur nie, kry ek dit by die werk ook van alle kante. Mens se hand van vrede word net vir jou teruggegooi en jy word heeltyd vertrap…. En ek het nie geloofsvriende hier wat my kan deurdra behalwe die een of twee wat ver van my af is nie. Dit is hartseer dat die kerke hier so lou en flou is; dat dit nie ‘n veilige hawe bied nie.

Dan moet ek myself ook daaraan herinner dat ek hierdie seer na God toe moet vat. Daar is niemand anders nie, en uiteindelik moet ek my krag en alles uit Hom put.
Net omdat ons mense goed behandel, beteken dit nie hulle gaan ons terug goed behandel nie. Net omdat ons opreg is, beteken nie mense gaan nie vir ons jok en om die bos probeer lei nie. Mense gaan soms buitensporig optree om ons tena te kom…. ek reken dis wanneer ‘n mens leer om jou nie te ontstel oor ander se rugstekery nie; dat jy die verskil leer ken tussen die waarheid en die leuen; tussen selfsug en opregtheid.

Ek reken dat ek eintlik kan dankbaar wees ten spyte van my bitterheid, te midde van my donker sielstoestand, oor die groei wat in my lewe plaasvind. Die soort groei wat my help om dinge te sien soos wat dit is en dit te aanvaar; wat gee dat ek nie na dieselfde vlak toe daal as die rugstekers en klippe teruggooi nie (want as jy die klippe waarmee jy gegooi word, optel en daarmee teruggooi, staan jy ‘grond’ af aan jou teenstanders!). Die beste reaksie is soms om geen reaksie te he nie. Dit is soos om warm kole op jou vyand se kop te hoop.

Op die ou end van die dag kan mens seker opsom dat jy nie enige iemand se spitefulgeit, haat, drama, en negatiwiteit moet toelaat om in jou pad te staan en te keer dat jy die beste persoon is wat jy kan wees nie. Ek en jy is immers die CEO van ons eie lewens, so ons het die mag om mense wat oor ons pad kom, te evalueer, te”bevorder” – of te”termineer”.

Die lewe raak nie makliker nie. Mense is onvergewensgesind teenoor mekaar. Maar iewers langs die pad vind ek tog dat my selfwaarde nie bepaal word deur ander mense se rugstekery nie. Dit word nie bepaal deur werkskollegas wat bedreig voel deur my teenwoordigheid nie. Of deur die hoeveelheid “likes” en volgelinge wat ek het nie. Watookal ‘n mens doen, goed of sleg, ander sal altyd iets negatief te se wees.

Die geheim is net om bo dit alles uit te styg. Soos olie bo water.

wegkruipertjie

Onthou julle “wegkruipertjie”? Daai speletjie wat ons as kinders gespeel het as die buurt se kinders bymekaar gekom het op ‘n Vrydag of Saterdag, en tot donker gespeel het? As kind was wegkruipertjie een van my gunsteling speletjies. Ek kon nogal goed weggekruip het, en ek het altyd die beste wegkruipplekke gehad. Ek kon stilletjies wegkruip totdat al die ander gekry was…. En as almal my kom soek het, kon ek stilletjies uitglip en myself gaan blok (onthou julle nog? “1-2-3 blok myself!”).

Die mees gevreesde woorde was: “Gereed? Hier kom ek!” As jy die woorde gehoor het, dan weet die wat wegkruip die soektog het begin, en jy wend elke poging aan om seker te maak jy word nie gekry nie. Party het sommer begin huil as hulle te gou gekry was, ander het gestry dat die een wat aan gehad het, te vinnig getel het en dat hulle nie kans gekry het om weg te kruip nie. Dit was partykeer nogal ‘n taamlike gestryery omdat die wat weggekruip het, gedink het die een wat aan was, onregverdig was. En dan, omdat hulle verontreg gevoel het, het hulle sommer die reëls van die speletjie tot hulle voordeel probeer verander. Net diegene wat dit kon regkry om goed weg te kruip en den toe te hardloop sonder om gevang te word, kon weer gaan wegkruip. Niemand wou aan hê om te gaan soek nie.

Is dit nie hoe ons die spel van die lewe ook speel nie?

Vir die meeste van ons, verander die speletjie nie veel soos ons grootword nie. Ons is nog steeds baie goed met wegkruip, maar nie meer so goed daarin om die beste wegkruipplekke te vind nie. Kom ons wees eerlik: almal van ons – of die meeste van ons – weet goed hoe om weg te kruip. Die probleem is egter: Ons kruip soms op die verkeerde plekke weg. En waar ons kies om weg te kruip, sal uiteindelik bepaal of ons oorwinning sal smaak, of neerlaag en mislukking.

Ek het baie foute in my lewe gemaak. ‘n Paar grotes. Lelik opgemors, meer as eenkeer…. En ek het altyd agter hierdie gemors weggekruip, want ek het nie geweet waar om anders heen te gaan nie. Of eerder, ek het geweet, maar ek het nie die vrymoedigheid gehad nie. Ek was te skaam.

Die lewe het ‘n manier om ons te stroop van ons wegkruipplekke, tot daar niks meer oor is nie behalwe ‘n donker, koue, uitsiglose, hooplose gat. Rock bottom. Ek het gedink ek weet wat rock bottom is, maar daar is altyd net nog ‘n rock bottom, een dieper as die vorige een. Dit het ek besef met die vervreemding van my kinders.

Wanneer ‘n mens alles verloor en jy fisies en emosioneel niks meer oor het nie, is daar een wegkruipplek wat nooit van jou gestroop kan word nie. Lees maar die psalmskrywer, Dawid, se psalms. Hy het goed geweet waarheen om sy toevlug te neem behalwe om agter sy foute en mislukkings weg te kruip. Hy het sy toevlug tot die Here geneem.

Al wat ander skuilplekke ons bied is skuldgevoelens, verwyte, skaamte, vrees, mismoedigheid…. Al dink ons ons is weggesteek, is ons eintlik blootgestel en onbeskerm. Gedurig ongelukkig oor en ontspoor deur die giftige vuurtonge van ander, wat tot op die been sny met kritiek en leuens en verwyte….

Ons kan nie die gemors van die lewe eenkant toe skuif en maak asof dit nooit gebeur het nie. Ons kan nie chaos met ‘n hammer oor die kop slaan en ignoreer nie. Maar ons kan ons toevlug neem tot die Een wat gekies het om alle chaos aan ‘n houtkruis te dra. As ek van niks anders in my lewe seker is nie, dan lê my grootste sekerheid hierin: Ek is nie die held van my eie storie nie. Ek kan myself nie red nie. Ook nie my kinders nie. In ‘n wêreld wat daagliks probeer om die reëls van die lewenspel te verander…. ek kan dit nie doen nie, al wil ek ook hoe graag.

By God is daar ‘n permanentheid; ‘n gevestigdheid; ‘n onveranderlikheid, wat geen mens of situasie kan verander nie. Ongeag van wat ons verkeerd gedoen het, waarvandaan ons kom, waar ons ons bevind het, in die skuilplek van die Allerhoogste vind ons vergifnis, genade, vertroue, hoop, sekuriteit.

In wegkruipertjie is dit slegs die een wat vir die “vyand”; die “jagter”; die “soeker” kon wegkruip sonder om gevang te word, wat die speletjie wen. Die een wat dit reggekry het om so goed weg te kruip dat die soeker naderhand moed opgegee het om verder te soek.

Het die warrelwind van chaos jou ook beet in ‘n geveg vir jou lewe? Ek weet hoe jy voel. Maar partykeer moet ons ons bokshandskoene afhaal, ons gebalde vuiste ontspan en oopmaak…. En geopende hande uitsteek. Dis okei om te sê, ek kan nie meer nie, ek weet nie meer nie, ek wil nie meer nie…. en te gaan wegkruip “in die skuilplek van die Allerhoogste”, waar jy sal “rus in die skadu van die Almagtige.”

Verseker sal Hy jou red uit die strik van die voëlvanger, en van die plaag wat vernietig. Hy sal jou oordek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou sal jou beskerm soos ‘n skild. Jy sal nie bang wees vir die skrik van die nag, of die pyle van die dag; vir die plaag wat in die donker kom of die ramp wat teen die middag verwoes nie. Al sou duisend langs jou val, of tienduisend om jou sterf, naby jou sal dit nie kom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou, en die straf van die goddelose sien…. Geen kwaad [sal] jou tref, en geen ramp naby jou tent kom nie. Want Hy sal sy engele beveel om jou te beskerm oral waar jy gaan. Hulle sal jou op die hande dra sodat jy nie jou voet teen ‘n klip stamp nie. Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom verlos; omdat hy my Naam ken, sal Ek hom beskerm. Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel. Ek sal hom ‘n lang lewe gee, en hy sal my verlossing sien.”

(teksgedeelte: Psalm 91, NLV)

transformasies

Na ‘n 6 maande “sabbatsrus” het ek weer moed geskep om te begin skryf. Nie dat dit enigsins ‘n avontuur of ‘n rusperiode was nie, meer stresvol en onseker oor wat vir my in die toekoms voorlê. Ek het deur baie sielewroeginge geworstel, onder andere werkloosheid (na skielike werksafleggings), en die krisis wat my lewe toetentaal omver gegooi het vir die afgelope vier jaar. Genadiglik het ek weer werk gekry, net tydelik, maar dis werk en beter as niks. Ek het ingeskryf vir ‘n kreatiewe skryfkursus, en ek het besluit om my te beywer vir die saak van VOS: Vervreemde Ouer Sindroom. Volgende keer meer hieroor. Ek is seker daar is talle ander ouers wat met dieselfde probleem as ek sit, en nie weet watter kant toe nie….

Die laaste paar maande was weer ‘n transformasie. Soms, as dit voel of jou lewe uitmekaar uit val, is dit eintlik ‘n bedekte seën want dan kan jy die stukke wat jy optel weer terug aan mekaar sit. Die keer net anders. Dan tel jy stukke op wat jy nie voorheen raakgesien het nie.

Well, sometimes I must endure the presence of a few caterpillars if I wish to become acquainted with the butterflies. ~Antoine de Saint-Exupery

Wie raak nie wiebelend gedurende lewenstransformasies nie? Ek wil graag daardie persoon ontmoet! Transformasie is goed en wel as dit met ander mense gebeur, maar as dit met my gebeur wil ek dit net stopsit. Dis soos die verskuiwing van tektoniese plate, dan soek ek die naaste ding om aan vas te gryp en te klou vir al wat ek werd is! Ek hou nie van sulke skielike aardbewings nie, ek hou van vaste grond onder my voete.

Hoekom voel iets nuuts altyd minder standvastig as die oue? Seker omdat ‘n mens se brein so werk: die bekende is altyd makliker want dit verg minder aandag, tyd en energie…. waar ‘n mens makliker op autopilot kan gaan.

As daar iets is waarteen enige ETO (emosioneel trauma oorlewende) is, is dit om onverwags gevang te word. En die nuwe/onbekende is ‘n hele nuwe wêreld waar jy onkant gevang word. So vinnig as wat ons in die begin-blokkie van die nuwe bordspel staan, so vinnig soek ons ook die uitgang. “Moenie by die begin verby gaan nie, hou sommer reguit aan.” Dis soos kryptonite, maar tog ook een van die sterkste medisynes van innerlike genesing…. Daardie oomblikke wat jy nie kan voorspel nie, waar jy ‘n nuwe deel van jouself ervaar wat jy heel waarskynlik nog nooit vantevore ervaar het nie. ‘n Ongeoefende, ongetraumatiseerde deel van jouself. Dit is transformerend. Dit skuif die versteekte dele van jou wese rond, en help om jou weer aanmekaar te sit. Stewiger as ooit.

Maar dit kan slegs gebeur wanneer jy “laat los en laat gaan”. Nee, nie “laat los en laat God” nie. “Laat los en laat gaan”…. EK. JY. SELF. Want dis net ek en jy wat kan losmaak van ou denkpatrone, ou gewoontes, ou oortuigings. Soms moet ‘n mens net die besluit neem om te laat los…. en te val…. en wankelrig te voel…. en vir ‘n rukkie nie te weet wat om volgende te doen nie. Dit laat my dink aan daardie eerste treë wat ‘n baba gee. Of wanneer die kantwielietjies van die fiets afgehaal word. Wiebelende oomblikke, maar ook oomblikke van versterking.

Ek raak benoud as die kokon so styf om my trek. Veral as ek wil losbreek, of wens dat iemand my wil bevry. Een troos wat ek geleer het, is dat God nie van ons verwag om alles self uit te figure nie. Vertrou op Hom in die proses van transformasie, wees geduldig terwyl jy wag, want alles is reeds klaar uitgefigure.

Tot volgende keer

xxx

 

 

 

 

 

 

die Slaggat van persoonlikheidstoetse

enneagramIn ‘n tyd waar Christene baie min kennis dra van ander gelowe (die okkulte ingesluit), word voor ons die keuse gestel om getransformeer te word saam met die res van die wêreld wat nie oor die Christelike geloof beskik nie. Dis een van die grootste slaggate van ons tyd, een van die mees subtiele leuens waarmee die Satan nog vorendag gekom het in my opinie.

Deur die in-diepte navorsing wat ek gedoen het oor die Enneagram en ander persoonlikheidstoetse, word ek gekatagoriseer as ‘n tipe 7 genotsoeker vir wie ervaring die beste lewensgids en leermeester is. Ek stry nie, die beskrywings van my persoonlikheidstipe is in die kol. Dan ook grens ek sterk aan tipes 6 (die lojalis) en 8 (die baas) persoonlikhede. So, by die onversadigbare, plesiersoekerige mens wat ek is, is ook ingeweef my skeptiese/ondersoekende/agterdogtige kant, en my onsensitiewe/aggressiewe/swart-of-wit kant. Voeg dit alles saam en plaas dit onder die sambreel van my Christelike geloof, en jy kry nie net ‘n avontuurlustige optimis nie, maar ook ‘n vurige apologeet: iemand wat baie sterk voel oor fundamentele Christelike beginsels en dit ten alle koste sal verdedig.

Ek was aanvanklik baie opgewonde dat ek ook nou uiteindelik myself in ‘n persoonlikheidstipe kon klassifiseer (‘n mens raak opgewonde oor sulke goed as jy in die middel van ‘n identiteitskrisis is). Ek wou sommer alles verder weet en hoe ek met ander persoonlikheidstipes integreer; en tipies my geaardheid, het ek myself op hierdie opwindende ontdekkingsreis gesit want hier het ek iets groot beet. Dalk die deurbraak van ‘n leeftyd, net wat ek op hierdie stadium van my lewe nodig het. Reg?

Verkeerd.

Ek het begin delf, maar nie baie ver gekom nie. Daar was ‘n sagte tik aan my skouer, ‘n sagte stem in my oor wat fluister: “Hier is die regte pad. Draai om en loop hierlangs” (Jes. 30:21, NLV). Ek was reg. Ek het iets groot beetgehad. Presies wat ek nodig gehad het: die bottom line-vraag: Is Jesus vir my voldoende, of is Hy nie?

Die Enneagram

Die Enneagram is ‘n nege-punt sisteem van geestelike sielkunde wat ontwerp is om iemand se sielkunde oriëntasie van sterk punte, swak punte, beperkinge, talente, ens. te ontdek. Dit wys vir jou hoekom jy optree en dink soos jy soms doen. Dit identifiseer daardie versteekte motiverings agter jou optrede en denke. Kortliks: die Enneagram help jou om jou “self” te ontdek, ander mense beter te verstaan, en op hierdie vlakke jouself te fine-tune.

Wonderlike hulpmiddel, baie akkuraat. Maar daar is ‘n probleem.

Ek het ontdek dat stelsels soos die Enneagramm ‘n opeenhoping is van ‘n verskeidenheid van geestelike bronne en gelowe – Christenskap, Buddhisme, en Judaisme onder andere. Almal gebruik dit: terapeute, sielkundiges, bestuurders, onderwysers, ens. Dis ‘n oeroue hulpmiddel wat interpersoonlike begrip, selfbewuswording en persoonlike groei bevorder; en nou hou die Enneagram ‘n besondere plek op persoonlike sowel as geestelike vlak ook in.

New Age eks-Katolieke priester, Matthew Fox (wie se boeke toevallig in Christelike boekwinkels ook verskyn), beskryf die Enneagram stelsel as ‘n belangrike middel waardeur die Kosmiese Christus “in elke individu gebore gaan word” (Matthew Fox, The Coming of the Cosmic Christ, p. 122). Hy het boeke geskryf soos The Coming of the Cosmic Christ, The Healing of Mother Earth, en The Birth of a Global Renaissance. Matthew Fox is dus ‘n New Age mistieke wat nie aan die Christelike geloof voldoen nie.

New Age is besig om die Kerk van Christus baie sterk, maar baie subtiel binne te dring. ‘n Geruime tyd terug het die Kerk ‘n ander persoonlikheidstelsel gehad – die vier temperamente. Dit definieer die vier persoonlikheidstipes: Sanguisties, Choleries, Melancholies, en Flegmaties. Navorsing dui daarop dat hierdie vier temperamente op astrologie gebasseer is, nie op die Bybel of selfs eers op wetenskap nie. Stelsels soos hierdie filtreer die Kerk in “ge-christende” vorme; en die ironie is, die kenners wat hierdie stelsels nagevors het, het tot die slotsom gekom dat daar geen inherente waarde in persoonlikheidstoetse is nie (Bobgan’s book of Four Temperaments, Astrology and Personality Testing, pp. 131-172).

Persoonlikheidstoetse is dus soos enige ander ding in die lewe: dit werk, maar net tot op ‘n sekere punt. Ek het in die slagyster getrap en dis angswekkend om te dink dat ek op die punt was om my geloof in die Here Jesus te verruil vir sielkundige, pragmatiese metodes. Metodes wat in dele van die wêreld gebruik word vir fortuinvertelling deur middel van numerologie. Idees wat beoordeel word as goed of sleg deur assosiasie met humanistiese stelsels en oortuigings wat blykbaar werk vir alle mense…. Maar Skriftelik beoordeel werk dit eintlik nie, want dit is gewortel en gegrond op okkultiese konsepte en tegnieke, en dit kan nie aangepas word vir Christelike doeleindes soos persoonlike groei nie. Dit is onaanpasbaar met Christelike beginsels. Hoe kan iets wat gewortel is in die okkultiese gebruike, gebruik word in die proses van geestelike groei en ontwikkeling? Paulus sê in 1 Korinthiërs 2:4-6 ons geloof moenie “berus op menslike geleerheid nie, maar op die krag van God.” Die Skrif leer ons om aan onsself te sterf, nie om uit te vind watse persoonlikheidstipe ons is en dan om dit self te probeer verander nie. “Daarom – iemand wat een is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!” (2 Kor. 5:17).

Op die Enneagram webwerf sê hulle mense kan nie verander van een basiese persoonlikheidstipe na ‘n volgende nie. Die Bybel leer ons dan dat ons tot alles in staat is deur Jesus Christus wat ons die krag gee as ons onsself vir Hom gee (Fil. 4:13). Woede kan geblus word. Haat kan verwyder word. In Christus is ons nuwe skepsels en word ons daagliks vernuwe na Sy beeld as ons toelaat dat die Heilige Gees sy transformerende werk in ons doen. Is dit nie juis in ons swakhede waar God ons gebruik nie, en nie noodwendig in ons sterk punte nie? So in watter persoonlikheidstipe ons ookal gedruk word, dis verkeerd, want die Bybel sê ons is nuwe skepsels in Christus. Ons word verander deur die werking van die Heilige Gees wat alleen die toestand van die menslike hart ken, nie deur selfevaluasie en menslike krag nie.

Ons moet onthou dat nie enige iets sommer net by Christenskap aangepas kan word nie. Die bron van alle waarheid vir geloofskwessies in die praktyk is die onfeilbare Woord van God waar “al die geheime skatte van wysheid en kennis” gevind kan word (Kol. 2:2-4). Moet dus nie “die praktyke van die nasies navolg nie” (Jer. 10:2).

“Wees op julle hoede en laat niemand julle op sleeptou neem met ‘n leë, misleidende filosofie wat wel rekening hou met menslike tradisie en met kosmiese magte, maar nie met Christus nie” (Kol. 2:8-10).

Jesus Christus is wat ons nodig het. Hy is die antwoord op elke probleem, selfs die swart kolle in ons persoonlikhede is nie vir Hom ‘n uitdaging nie. Hy is die antwoord op probleme in die samelewing en in persoonlike verhoudinge. Geen metode – maak nie saak hoe behulpsaam dit mag blyk nie – kan die wysheid van God vervang nie.

Persoonlikheidstoetse mag dalk ‘n doel in die samelewing dien, maar dit is nie die Weg, die Waarheid, en die Lewe nie. Jesus Christus is. Christene (myself ingesluit) moet meer tyd saam met Hom spandeer in Sy Woord, dan sal hulle nie allerhande psigiese tegnieke nodig hê om hul persoonlikhede te analiseer vir selfverbetering nie.

Laat die wêreld sy gang gaan deur mensgemaakte filosofieë na te jaag. Ek kies die beter weg – die weg van die Heilige Gees wat in die Skrif geopenbaar word.

Hou die Lied in die Hart…. ‘n orrelis se bepeinsing

organistToe ek ‘n paar maande gelede deur die twee kerke genader is om vir hulle orrel begeleiding te doen op Sondae was ek redelik skepties en onseker in die begin. Eerstens is daar ‘n mate van rigiditeit waarmee ek nie bekend (of noodwendig gemaklik) is nie. Tweedens, hulle sing Psalms en Gesange. Die een gebruik die Liedboek van die Kerk; die ander die Koraalboek – en ek is meestal bekend met ou Halleluja koortjies en geestelike liedere. Een is Hervormd, die ander Protestant – en ek is Pinkster (of soos ‘n engelse vriend van my sal sê, ‘n “ceiling sweeper”). En wie’t gedink God het nie ‘n sin vir humor nie!

Mense van ander denominasies is geneig om die onbuigsaamheid en gestrengheid van die gereformeerde leer te kritiseer of te bespot. Veral as dit kom by die sing van Psalms en Gesange. Maar wie het nou eintlik besluit dat moderne, kontemporêre voorsang juis beter of meer geestelik is? Ek vra net, want die skrywers van ouds wat die Psalms en Gesange en ou koortjies geskryf het, het oor poëtiese vermoëns beskik wat lewenswaarhede op so ‘n ongelooflike wyse verwoord het, dat dit vandag nog van toepassing is. Wat my betref, is daar nie beter poësie en skrifberymings as juis te vinde in die ouderwetse Psalms, Gesange, en Halleluja liedere nie. Dit is nog net so kragtig en volgens my sal dit nooit afgeleef raak nie.

In diepe nederigheid beskou ek dit as ‘n groot eer om oor musikale talent te beskik wat my in staat stel om nie net ‘n diens aan die Kerk te lewer nie, maar ook om ‘n speelgenoot te wees van die skrywers van hierdie diepdinkende, verreikende lirieke. Oor tyd het dit stelselmatig begin om weer die balans in my lewe te herstel, asook my ingesteldheid teenoor God, Kerk en medemens. Dat die geleentheid juis nou oor my pad gekom het, was ook so beskik. Ek sou op geen ander manier teruggekeer het na die Kerk, en uit Sy genade geleef het nie – as juis deur die bitter beker van my lewe.

Ruwe storme breek in woede
Alles om my heen is nag
Tog hou God my in sy hoede
Hy hou oor my heil die wag
Kon ek soms sy hulp nie sien nie
Ook sy liefde nooit verdien nie
Het sy Gees my steeds gelei
Staan Hy my in alles by

Wat my tref in dood of lewe
Watter teenspoed my ook wag
Jesus sal my nooit begewe
Is ek swak, by Hom is krag
Ook die Satan het sy perke
In die Heer se almagswerke
Hoogte, diepte, vreugd’ of rou
Niks ontruk my aan Gods trou!

Wat meer kan ek sê…. Hou die lied in die hart!