die dinge wat ons doen

the-benefits-of-meditation-440x264Ek wonder soms, hoekom doen ek sekere dinge. Hoekom werk ek. Hoekom is ek ‘n orrelis. Hoekom skryf ek. Want partykeer voel dit so leeg en futiel en eentonig; dit voel of ek niks daardeur bereik nie en of dit maar net nog dinge is wat ek doen….

 

…. dinge wat ek nie hoef te doen nie, maar ek doen dit in elk geval….

Ons besef nie altyd die opofferinge wat ons maak in die dinge wat ons doen nie. Dit voel nie soos opofferinge nie ,want ons besef nie dat ons eintlik dinge doen volgens die vermoëns en gawes en talente wat aan ons gegee is nie.

Hetsy ons iets doen vir ‘n lewe, vir ‘n medemens, vir kollegas, vir behoeftiges, vir onsself…. Dit is nooit onbelangrik nie, want dit is waarvoor God ons gemaak het en hoe Hy ons gebruik. Ons IS meer, en ons DOEN meer , en dit beteken meer as wat ons dink.

Ons is GEROEP om te doen, en te dien in wat ons doen.

xxx

Advertisements

Vir die moedelose moet daar liefde wees

___hopeless_dreamer____by_pure_poison89-d6e87s5Soms, as ‘n mens jou verdriet en ongeluk en onbarmhartige smart weeg, voel dit swaarder as al die sand van die see. Jy kan nie bid nie, jy het geen verwagtinge nie, jy voel net eenvoudig verpletter, hulpeloos in jouself. Jy kyk toe hoe geliefdes en vriende troueloos teenoor jou handel, hoe hul paaie kronkelend van jou af wegloop en heengaan. Jy bly alleen agter staan – beskaamd en teleurgesteld – want skielik is jy niks; uitgeloot soos ‘n weeskind en verhandel soos ‘n slaaf.

Dit is dán – wanneer jou siel soos ‘n opgedroogde spruit is, troebel en moedeloos – wanneer jy die liefde van God en van ware vriende ervaar; want “vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir Almagtige vaar.”1

Dit is dán wanneer jy leer om te swyg en stil te raak sodat God jou kan onderrig; jou kan verlos van jou smarte, en jou red uit die hand van jou teëstanders; want “in die tyd van gloeihitte verdwyn hulle; as dit warm word, droog hulle op uit hul plek.”2

Op ons lewenspad, teen die opdraandes en steiltes, hoogtes en laagtes, doof ons lampe soms uit. Ons soek die foute in ander uit en kyk die waardes mis; ons raak so behep met ander se lewens dat ons nalaat om ons eie te meet.

But the right Christian mind will seek for what it loves, and draw out of all dens and curves, and it will believe in its being, often when it cannot see it; and so it will lie lovingly over the faults and rough places of the human heart, as the snow from heaven does over the hard broken mountain rocks. ~John Ruskin

xxx

(volgens Job 6; 1Job 6:14; 2Job 6:17)

Die realm van “e-lationships”

Concept Of Communication

Ek wil vandag skryf oor die realm van “e-lationships”….

E-lationship: verwys na twee persone wat mekaar leer ken via aanlyn korrespondensie.

My storie is kortweg as volg: Ek was ‘n paar jaar gelede betrokke by aanlyn korrespondensie en kletskamers, en het in baie slaggate getrap. Soos wat ek in en uit die virtuele sfeer beweeg het, het ek in die proses nie net besef dat dit uiters ekstreem is nie, maar ek het ook baie dinge uitgevind oor myself. Terloops, ek het ‘n ekstreme skok nodig gehad sodat ek tot my sinne kon kom. My advies vir e-lationshippers? Bly weg!! It is not what it seems.

E-lationships is ‘n aanlyn irritasie wat absoluut vlam gevat het. As dit kom by aanlyn afsprake, kan jy jou maar regmaak vir misleiding, leuens en bedrog. Jy kry nooit daaruit wat jy wil hê nie, en as jy tevrede is daarmee om onbepaald met iemand te korrespondeer wat nie van plan is om jou persoonlik te ontmoet nie, is jy besig om jou tyd te mors. Dit is nie die moeite werd nie. Hierdie sogenaamde “romantiese” interaksie – die ontmoeting van twee siele iewers in die kuberruim – skep ‘n valse illusie van liefde en intimiteit. As ‘n slagoffer daarvan weet ek waarvan ek praat, en omdat ek my vingers met aanlyn korrespondensie verbrand het, wil ek graag by mense wat hulleself aan dieselfde tendens blootstel, die volgende probeer tuisbring. Dit is waardevolle lewenslesse wat ek persoonlik op die harde manier geleer het, en ek moes ‘n duur prys betaal het vir my onkunde. ‘n Dwaas wandel altyd in duisternis.

Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs! Ek het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs. (Pred. 1:2, 2:1)

Waak teen verveeldheid. “Luiheid laat in ‘n diep slaap val” (Spr. 19:15). Moenie dat verveeldheid jou bekruip en jou onkant vang nie want dis wat met my gebeur het (ek was ‘n enkelma en huisvrou op daardie stadium). As verveeldheid van jou besit neem en jy dink jy vind ‘n tydelike ontsnapping aanlyn, gaan jy skielik verveeld raak by die huis ook, verveeld met jou vriende, jou man, jou kinders, verveeld met alles. Glo my, die opwinding wat jy aanlyn kry is van korte duur. Dit raak maar net so vervelig, en boonop kos dit jou ‘n klomp geld en veroorsaak dit hope frustrasie.

Niemand is werklik wie hul sê hul is nie. Wanneer jy iemand aanlyn ontmoet, bou jy ‘n idee in jou kop van die persoon aan die ander kant. Jy bou vir jouself hierdie ideaal en dink by jouself: “Wow, waar was jy my hele lewe?” Dis ‘n vals hoop en nie realisties nie. Jy hoop op die goeie, maar op die ou end tref net onheil en donkerheid en ontnugtering jou – “Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” (1 Joh 2:16).

Virtuele flankering werk nie. “Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie…” (Efes. 6:6). Jy dink dalk dat daar ‘n spesiale energie tussen jou en die ander persoon is, maar daar is nie. It is all brain, and no heart.

Jy raak oppervlakkig. Of dit nou in die werklike lewe of virtueel is, die eerste ding wat jy sien is hoe iemand lyk. In die werklike lewe sien jy hoe iemand optree, hoe hy of sy praat, reageer, ens. Jy sien belangrike kwaliteite en karaktertrekke raak wat daardie persoon individualiseer en uniek maak. As jy aanlyn iemand sien waarvan jy nie hou nie, dan kliek jy net delete sonder om twee keer te dink. Voorkoms raak die statistieke in jou virtuele wêreld wat jy voorheen nooit gebruik het om jou keuse te maak in wie jy belangstel nie. Ja, hierdie dinge vorm deel van ons besluitnemingsproses, maar aanlyn raak dit AL wat jy sien en waarin jy vaskyk, en jy laat geen ruimte om meer oopkop en objektief te wees nie. Pasop wat jy dink jy aanlyn gaan kry!! Salomo sê baie duidelik dat skoonheid net ‘n nietigheid is (Spr. 31:30).

Dis alles net ‘n spel. Daar is engelse spreekwoord wat sê: “Don’t hate the player, hate the game”. Dis presies wat ‘n e-lationship is: ‘n spel. Jy raak die speler, en die res is die spel. Ek het wel die spel gehaat maar dit het gemaak dat ek myself ook al meer en meer haat.

Jy eer nie jou beginsels nie. ‘n Mens verander baie vinnig om die beste speler in die spel te word. Jy hou ‘n bietjie van jouself terug, gee meer op ander vlakke, steek van jou beste karaktertrekke weg…. net om meer “begeerlik” te kan wees. Jy word wie jy dink jy veronderstel is om te wees, nie wie jy in werklikheid is nie. Jy tree meer gemaklik op, minder objektief, plaas die beste foto’s van jouself aanlyn. Jy filter jouself basies in elke denkbare opsig en vat dit wat jou uniek en spesiaal maak uit die totale som uit…. net sodat jy meer bemarkbaar kan wees. Glo my as ek sê: dit is nie sexy nie. Dit is nie romanties nie. Dit is nie interessant nie. Dit is oneerlik en pleinweg common. “Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense…” Kol 2:8)

Wat jy ervaar is nie ware geluk nie, al dink jy so. Wag maar totdat daar ‘n paar maande verbygaan. Jy dink jy is gelukkig maar in werklikheid is jy glad nie. Vir my was aanlyn afsprake en korrespondensie ‘n manier om te ontsnap van my eie lewe: die gevoel van mislukking as vrou en as ma. Dis maklik om te dink dat, wanneer jy iemand anders ontmoet, gaan al jou probleme soos mis voor die son verdwyn, maar die waarheid is: totdat jy nie in die spieël kyk en aan jouself begin werk nie, gaan jy nooit gelukkig wees nie. “Verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” (Ps 37:4).

Jy raak obsessief. Om heeltyd te dink aan wie jy gaan ontmoet, die honderde gesprekke wat jy met honderde mense het…. probeer volhou daarmee? Dis sieldodend. Buitendien, wie in sy of haar normale denke is in staat om so baie afsprake te “juggle”? “Wat uit ‘n mens gaan, dit is wat jou onrein maak. Want uit jou binneste, uit jou hart, kom slegte gedagtes, soos onsedelikheid, diefstal, moord, huweliksontrou, gierigheid, slegte bedoelings, skelmstreke, ongedissiplineerdheid, jaloesie, vloekery, hoogmoed en dwaasheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af. Dit is wat jou voor God onrein maak.” (Mark 7:20-23).

Jy gaan nie ‘n ernstige verhouding so ontdek nie. Ek weet baie mense vir wie aanlyn afsprake suksesvol was, gaan nie saam met my stem nie, maar ek praat uit my eie ervaringsveld. Jy ontmoet persoon na persoon wat net eenvoudig nie belangstel in iets ernstigs nie. Hulle soek iets, maar beslis nie ‘n verhouding nie. Aandag, validasie, waardering, seks…. Maar nie ‘n ernstige verhouding nie. Hulle einddoel is om uiteindelik die spel te wen en te kry wat hulle wil hê. Niks meer nie. Daar is nooit twee wenners aan die einde van die spel nie, so hoekom wil jy deelneem aan iets as jy weet jy gaan verloor? Kies die betroubare pad (Ps 119:30).

Ek het uiteindelik op ‘n punt gekom het waar ek vir myself moes onderskei wat reg en wat goed is. Een van die beste dinge wat ek vir myself kon doen was om weg te breek van aanlyn afsprake en e-lationships. Vandag kan ek in alle eerlikheid sê dat ek ‘n stukkie van die vrede ontdek het wat alle verstand te bowe gaan – met, of sonder ‘n liefdeslewe.

Mag die Here jou ook help om jou lewe weer reg te kry sodat jy ‘n beter hoop op die toekoms het. Doen wat reg is. “Beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.” (Fil 4:8).

Baie sterkte!!

Storms

Vir die van julle wat die nuus oor Hurricane Irma volg, sal saam met my stem dat die gevolge van die storm verwoestend is. Dit het begin as ‘n vlak 5 storm, maar is ‘n kort rukkie gelede verklaar dat dit afgeneem het tot ‘n vlak 3. Nietemin, die verwoesting en skade wat Irma agterlaat, is enorm.

Florida in die VSA is vandag getref. Met winde van oor die 200 km/h wat die dood van talle mense tot gevolg het, het dele van Miami onder vloed gelaat en meer as ‘n miljoen sonder krag. Palmbome is ontwortel. Padtekens warrel soos veertjies deur die lug. Huise en karavane se dakke is afgeruk. En dit is nog nie eers die volle omgang van die storm nie. Kenners reken dis maar net die begin.

Rick Scott, Florida se goewerneur, het vandag in ‘n nuuskonferensie gesê: “People ask what they can do for us. Pray for us. We need volunteers, nurses. I hope everybody will pray for us. We can pray, that’s the biggest thing we can do.”

Die lewe is soms soos ‘n storm. Stormagtig, gooi ons heen en weer met winde van ongeluk, teëspoed, hartseer, kommer…. Daar is ‘n ou hallelujalied wat sê:

Master, with anguish of spirit

I bow in my grief today

The depths of my sad heart are troubled

Oh, waken and save, I pray!

Torrents of sin and of anguish

Sweep o’er my sinking soul

And I perish! I perish! dear Master

Oh, hasten and take control!

Daar is Een wat nie net die storm op die see van Galilea kon stilmaak nie. Hy maak ook die storms in ons harte stil. Maar dis nie altyd maklik om te onthou dat daar Iemand is wat vrede en kalmte kan bring wanneer ons so hard heen en weer gegooi word dat dit vir ons voel ons kan nie meer bo bly nie. Soms probeer ons net die storms oorleef, en ons vergeet om die Een wat dit kan stilmaak, aan te roep.

Fear not, I am with thee

Oh, be not dismayed

For I am thy God and will still give thee aid

I’ll strengthen thee, help thee

And cause thee to stand

Upheld by My righteous, omnipotent hand

Hy wat die mag het om aardse elemente tot kalmte te bring, het die mag om ons harte ook tot bedaring te bring en ‘n veilige skuilplek te bied.

Your trials may be many and great. Your cross may be very heavy. But the business of your soul is all conducted according to an everlasting covenant, ordered in all things and sure. All things are working together for your good. Your sorrows are only purifying your soul for glory; your bereavements are only fashioning you as a polished stone for the temple above, made without hands. From whatever quarter the storms blow, they only drive you nearer to heaven! Whatever weather you may go through it is only ripening you for the garner of God. Your best things are quite safe. ~JC Ryle

Dit is wel

Ongelukkig het ek nie groen vingers soos my ma nie. In die verlede het plante by my gevrek en niks wou groei nie. Selfs die kaktusse het dit nie gemaak nie. So ‘n paar maande gelede het ek vir my ‘n paar klein huisplantjies aangeskaf en wonder bo wonder leef hulle nog! Ek het mos nou geen kind of kraai wat ek kan vertroetel of versorg nie, so die plantjies het op ‘n goeie tyd gekom. Nou is my ma besig om vir my groter potplante aan te ry van die plaas af, sy sê sy gaan nie met al haar plante see toe trek nie. Soos met mense se name is ek baie swak met plantname, so ek weet nie watter plant moet in die son en watter plant in die skaduwee moet staan nie. Ma het my gesê maar dit het by my uitgewaai. As ek sukkel sal ek maar ‘n foto neem en vir haar whatsapp dat sy instruksies kan gee. Ek is so opgewonde soos ‘n kind met nuwe speelgoed! Met my nuwe gieter en handskoene en tuingereedskap gaan ek net môre begin om aan my tuintjie te werk, en iets uit niks probeer maak. Ek voel dit net aan my dat die keer sal hulle oorleef. Alles sal okei wees….

….wat my laat dink aan wat Romeine 8:28 sê, dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Nie ‘n Polyanna-uitkyk op die lewe dat alles in die lewe “happy-go-lucky” gaan uitdraai vir ons onthalwe nie, maar dat Hy wat by magte is om alles te doen en vir wie niks onuitvoerbaar is nie, ook by my is – en by my dogters. Alles sal okei wees. Ten spyte van ons huidige situasie; watookal oor my pad en oor hulle lewenspad vorentoe mag kom – prys die Heer, dit is wel met my siel!

As vrede my pad deur die wêreld verlig
As smarte my dreig te verniel
Dan antwoord ek vry, watter lot my ook tref
Dit is wel, dit is wel met my siel!

Dit is wel, met my siel
Dit is wel, dit is wel
Met my siel

Hoe fel die besoeking, hoe Satan ook trag
Om my te vertrap met sy hiel
Steeds gryp ek weer moed, want my Heiland is daar
En Hy stort nuwe krag in my siel

Dit is wel, met my siel
Dit is wel, dit is wel
Met my siel

 

Die vreugde van pen op papier

Ek het ‘n besondere passie en liefde vir skryf. Van kleins af. Ek hou van woorde. Baie daarvan. Elke skrywer glo dat sy of haar woorde saakmaak; dat dit ‘n verskil maak; dat dit iemand aangryp.

Ek het myself lanklaas die vraag afgevra: hoekom skryf ek eintlik? Ek doen dit nie vir ‘n lewe nie. Dis nie my beroep nie. Ek verdien nie geld daarvoor nie. Verwerf nie roem nie. Het nie ‘n diploma of graad in letterkunde of joernalistiek nie…. So hoekom doen ek dit?

Die afgelope paar maande was vir my ‘n gesukkel om te skryf. Ek het met so baie dinge geworstel dat ek te hard probeer het om een deel van myself perfek te doen – en dit is skryf. En in die proses het ek vergeet hoekom ek eintlik skryf.

Liefde hoef nie ‘n rede te hê nie, sê hulle. Maar my liefde vir skryf mag dalk ‘n rede hê; en ek dink ek het in die begin geweet wat dit is, maar in die proses verloor of begrawe.

Die opwinding van pen op papier lê nie in erkenning of waardering nie. Die beste skrywe is juis dit wat jy nie met ander deel of wil deel nie. Jou papier, jou gedagtes, joune. Niemand anders se gedagtes oordonder jou eie nie. Net jy maak sin daarvan.
‘n Mens se gedagtes word so vasgelê met dinge van die verlede. Die gedagtes vol herinneringe, en die hart vol emosies. Dit begin in die verstand en eindig in die hart. Lief en leed. Blydskap en pyn.

Ek skryf om myself beter te kan uitdruk. Ek skryf omdat ek probeer sin maak uit die lewe. Te veel gedagtes glip net weg in ‘n diep, donker, onbekende gat van onherroeplike dinge.

Daarom wil ek my toewy aan die kuns van skryf – solank as wat ek nog gespaar bly – en leer om meer uit die hart te skryf.

Want as jy uit die hart skryf, sal jy nooit uit woorde uit raak en stories om oor te skryf nie.

Xxx

 

 

Tweede kans

Die meeste van ons glo dat elke mens ‘n tweede kans verdien. Ek persoonlik is baie hard op myself en op ander mense. Ek gee nie sommer tweede kanse nie. As jy my eenmaal teleurgestel of seergemaak het, is dit verby. Ek sny jou af soos ‘n dooie tak. Seker omdat ek al te veel in my lewe seergemaak is en omdat my kinders hulle van my vervreem het en redeneer dat ek nie ‘n tweede kans verdien nie. Dit maak ‘n mens seer en jy verhard jou hart – nie om ander terug seer te maak nie, maar om jouself te beskerm teen nog verdere seer in die lewe.

Ek erken dat ek deur ‘n slegte tyd in my lewe gegaan en die pad byster geraak het. Ek was ontrou teenoor myself, my dogters, en teenoor God. En soms moet die Here ‘n mens op ‘n plek in jou lewe bring waar jy besef jy is nou heeltemal van die pad af.

Het jy al deur so iets gegaan?

Ek dink byvoorbeeld aan Jona, ‘n profeet van God wat besluit het hy wil nie vir God luister en gaan profeteer nie. Jona moes in opdrag van God ‘n boodskap aan Nineve gaan oordra om hulle te waarsku dat God hulle sou vernietig as hulle hul nie bekeer van hul verkeerde weë nie. Jona se hart was hard teenoor die mense van Nineve. Hy het nie omgegee of hulle hul bekeer of nie. So, in plaas van om na Nineve te gaan, spring hy eerder op ‘n boot en foeter in die teenoorgestelde rigting in. Jy ken die res van sy storie. Hy word deur ‘n groot vis ingesluk en spandeer dae in die vis se maag waar hy oor sy doen en late nadink.

Daar kom altyd ‘n tyd en ‘n plek in ‘n mens se lewe waar jy nie anders kan as om te luister nie. Watter omstandighede moet plaasvind vir ons om te luister en te doen wat reg is? Vir my was die vervreemding van my kinders ‘n groot wake-up call. Dit het my tot stilstand geruk. Vir Jona was sy wake-up call in ‘n vis se maag want hy was God se profeet wat 120,000 mense moes gaan red het en hy wou nie. Hy was deur God gekies om deur God gebruik te word…. en God het nie moed opgegee met Jona nie.

Is dit nie vertroostend nie? God gee nooit moed op met ons nie.

Vandag, 6 jaar later sedert die vervreemding, meer as ooit, verstaan en glo ek dat God ons ongehoorsame harte verstaan. Hy sien ons vir wie ons regtig is…. en tog gee Hy ons ‘n tweede kans. Hy het immers vir Jona ‘n tweede kans gegee. Hy het die mense van Nineve ‘n tweede kans gegee. Wat sê dit vir ons? Dat God spesialiseer in tweede kanse.

Het jy jou kanse geblaas? Het jy iemand na aan jou diep teleurgestel? Haal diep asem en onthou: God is ‘n God van tweede kanse. Al wat ons moet doen is om ons afvalligheid te erken en dit te laat staan. Hy sal herstel. Hy sal genade gee…. Al gee ander dit nie. Hy vergeef wanneer ander nie wil vergewe nie.

Vra Hom.

Xxx

Soos mens ouer word

Ek is besig om vir my “boekmerke” bymekaar te maak. Spesifiek rondom die kwessie van ouer word. Nóú vs. twintig jaar terug. Dinge het verander. Ek het verander. Drasties. So ek het bietjie gaan rondgrawe en ge-brainstorm, en dit geselekteer wat op my persoonlik van toepassing is. Ek het selfs vir my ‘n dagboek aangeskaf waarin ek alles neerpen sodat ek dit kan lees op die minder goeie dae wanneer dinge vir my nie sin maak nie. Want ouer word is nie meer ‘n probleem nie, dis ‘n avontuur.

*****

Soos mens ouer word begryp jy al hoe meer dat dit nie saakmaak wat jy besit nie. Dit gaan oor die persoon wie jy is.

Soos mens ouer word besef jy dat ware geluk nie gaan oor hoeveel jy verdien of hoe groot jou huis of hoe duur jou motor is nie. Dit gaan oor die innerlike vrede en vergenoegdheid wat jy in jou hart en siel vind.

Soos mens ouer word kan jy baie duidelik die verskil voel tussen mense wat regtig vir jou omgee, en mense wat net gerieflikheidshalwe omgee.

Soos mens ouer word kan jy sien wie het ‘n goeie opvoeding gehad, en wie nie.

Soos mens ouer word wil jy deur goeie mense omring wees. Mense wat goed is vir jou; mense wat goed doen aan jou; en mense wat jou siel goeddoen.

Soos mens ouer word begin doen jy dinge in tru-rat. Jy begin mense uit jou lewe sny en jou Kersfees-lys raak aansienliker korter omdat jy besef die dinge wat jy die graagste wil hê, kan nie met geld gekoop word nie.

Soos mens ouer word het jy al minder die behoefte om in alles eerste en die belangrikste te wees.

Soos mens ouer word leef jy jou lewe al meer op jou eie terme – sonder om verskonings te maak of skuldig te voel. Gaan teen die norm. Weier om saam met die stroom te swem; om in te pas. Loop die smal pad, of kap jou eie paadjie deur die wildernis oop. Lag in die gesig van teëspoed.

Soos mens ouer word struikel jy nie meer oor die nonsens en kleinighede wat onverwags oor jou pad kom nie. Jy loop sommer bo-oor.

Soos mens ouer word het jy al minder lus vir oppervlakkige, platoniese vriendskappe, geforseerde interaksies en onnodige ligtelike gesprekke. Jy het jou groepie vriende saam met wie jy grasieus oud word; jou hartsmense met wie jy alles kan deel en nog steeds vir hulle die belangrikste mens op aarde is.

Soos mens ouer word besef jy dat daar altyd mense sal wees wat sal kritiseer, en niks wat jy gaan doen of sê gaan hulle van opinie laat verander nie, so jy mors nie jou kosbare tyd en energie op hulle nie.

Soos mens ouer word leer jy wat nederigheid is. Jy leer om stil te raak te midde van goed en sleg.

Soos mens ouer word en deur allerhande dinge in die lewe gaan, besef jy dat dit baie wys is om grense te stel. Trek die streep wanneer jy hom moet trek.

Soos mens ouer word raak dit al hoe makliker om weg te stap van al die dramas en die mense wat dit veroorsaak.

Soos mens ouer word kry jy meer plooie, maar minder kommer. Gryser hare, maar ‘n meer kleurvolle lewe. ‘n Ouer verstand, meer ‘n jonger gees.

Soos mens ouer word raak jy sterker – omdat jy swakheid ken. Jy raak vreesloos – omdat jy vrees ken. Jy raak wyser – omdat jy dwaasheid ken.

Soos mens ouer word raak jy nougeset in jou denkwyse en weë. Net soos ‘n mens se liggaam styf en oud raak, raak jou verstand ook verstyf. Jou sieninge raak eng. Tensy jy doelbewustelik besluit om oopkop en buigbaar te wees.

Soos mens ouer word, word dit makliker om jouself te aanvaar vir wie jy is: jou swak punte sowel as jou sterk punte. Jy voel gemaklik in jou eie vel.

Soos mens ouer word kom alle vrae in die lewe neer op die volgende: Hoe lank het ek nog oor? Wat kan ek doen met die tyd wat ek oor het? Wat wil ek doen?

*****

Word vervolg.

Xxx

‘n Skielike dood

‘n Skielike, onverwagse dood skud ‘n mens se wêreld gruwelooslik. Dis ‘n verlies wat nie sin maak nie. ‘n Mens besef opnuut die lewe is nie altyd regverdig nie. Soms gebeur slegte dinge met goeie mense. Familie, vriende en kollegas is nou skielik geforseer om die verlies van ‘n geliefde sonder waarskuwing in die gesig te staar.

Die tannie wat soggens saam met my werk toe ry het my vertel van haar vorige baas se vrou wat skielik oorlede is. Ek het nie veel notisie geneem nie want ek ken per slot van rekening nie die mense op die myn nie…. Of so het ek gedink.

Vanoggend stuur die myn ‘n kennisgewing uit van die vrou se roudiens wat later in die week gehou gaan word. Ek maak die epos oop en staar met skok na die foto.
Ek ken dan die vrou. Die vrou waarvan die tannie gepraat het. Samantha. Ek was op hulle troue gewees. Eintlik ken ek haar man baie beter. Nolen. Ek het jare gelede, toe my kinders nog klein was, saam met hom in die orkes gespeel toe ons in die Assembly of God gemeente in Lime Acres was. Ons het op baie plekke opgetree en vir kerkfunksies en samekomste gespeel. Hy is ‘n uitstekende musikant; een van die talentvolste mense wat ek ken en die voorreg gehad het om mee te kon saam optree.

I am so sorry Nolen, for your loss. The right words seem to elude me at this moment, but I know that Samantha lived an inspired, spiritual and happy life. Be encouraged by that. Be encouraged by her legacy. Live each day knowing that she was very proud of you and that she loved you very much. Although it’s difficult today to see beyond the sorrow, may looking back in memory help comfort you tomorrow.

“For I am convinced that neither death nor life, neither angels nor demons, neither the present nor the future, nor any powers, neither height nor depth, nor anything else in all creation, will be able to separate us from the love of God that is in Christ Jesus our Lord.” Romans 8:38-39

xxx

 

Sommer net

Na my laaste plasing tot nou toe beleef ek erge skrywersblok. My verstand voel so toe soos ‘n klei-os se agterstewe. As ek saans so deur almal se blogs blaai en deurlees dan wens ek ek was minder ernstig en perfeksionisties en “beskaafd”. Ek wens ek het die vermoë gehad om soos ander bloggers sommer net enige iets oor enige iets te kan skryf. Sommer oor alledaagse dinge. Sonder om te wonder of dit ‘n gewigtige betekenis sal dra, sonder om dit honderd maal oor en oor te lees om te kyk hoeveel foute ek gemaak het, of ek nie dalk op iemand se tone trap nie…. Dis sieldodend! Want ek kan enige tyd van die dag met myself ‘n gesprek in my kop voer asof dit uit die mode gaan, maar wanneer ek die gedagtes wil neerpen op papier slaan ek toe. Dan vind ek skielik nie die regte woorde om neer te pen nie, en alles wat ek skryf lyk so afgewater. Hoekom, vra ek myself?

Hoe simpel kan ‘n mens wees!!

Daarby kan ek seker ook die werk blameer. Vir die afgelope paar weke is ek dun gerek van al die werk. Oorwerk, oormoeg, uitgebrand. Ek kan nie meer lekker dink nie. Hoe sê daai een gesegde? Ek is so moeg, tot my moeg is moeg! Nou dis hoe moeg ek is. Ek het nou die aand lê en dink, is dit hoe my lewe moet gaan? Werk toe en terug. Mens kom moeg in die aande by die huis, maak kos, maak skoon, stort, en slaap. Dag na dag. Oor en oor. Lewe by mekaar verby. Dit is regtig soos Salomo gesê het, alles net ‘n gejaag na wind. Dit put my uit.

En dan weet ek nou nog nie wat met my kontrak gaan gebeur nie. Ek het nog nie eers die nuwe kontrak geteken nie – en die 6 maande is amper weer verby! Iewers in die pyplyn is daar ‘n motivering vir ‘n permanente aanstelling, maar dit kom ook nie tot uitsluitsel nie. Soveel van ongeorganiseerdheid en diskriminasie het ek nog nie teëgekom nie. My kollegas word vir opleiding in Johannesburg gestuur. Waar sit ek? Net hier vasgekluister. Want dis hoe dinge rol. Maatjies sorg vir maatjies, en die res van ons veg vir oorlewing.

Maar buiten die werk het ons so ‘n klomp probleme met die woonstel gehad. As dit nie die stort se drein is wat verstop nie is dit die  kragmeter wat foutief is en kan ons nie krag oplaai nie. Die een plug na die ander blaas of smelt. As die stoof aan is kan ons nie die ketel aansit nie. Die verwarmer en die mikrogolf kan nie gelykertyd werk nie.  My stiefpa (wat ‘n gesertifiseerde elektrisiën is) sê die ou wat die bedrading gedoen het, het nie ‘n benul gehad wat hy doen nie. En waar is diegene wat eintlik verantwoordelik gehou moet word? MIA. Missing In Action. As dit nie vir Riaan was wat alles van alles af geweet het en reggemaak het nie (op ons onkostes, I’ll have you know), weet ek nie hoe sou ons gemaak het nie. Stort se drein reggemaak. Kragboks uitgesorteer (na erge dreigemente aan die munisipaliteit). Hulle het tot vir ons ‘n vergoeding van 350 eenhede gegee vir al die ongerief! Bid jou dit aan.

Gepraat van die munisipaliteit, hier staak hulle weer. Postmasburg lyk soos ‘n hool. Rommel is oral in die dorp rondgestrooi. In die strate, op die sypaadjies, voor die winkels se deure. Dan steek hulle nog daai groot staaldromme ook aan die brand. Dit stink, dis vuil, dis vieslik. Mens sal ‘n siekte optel. Elke dag moet jy hoop en bid iemand gooi nie jou voertuig met ‘n klip nie. Want dis wat hulle doen. Hulle trek sommer los en gooi klippe of glasbottels. Net wat hulle in die hande kan kry. Kan iemand nie net ‘n bom daar gaan drop nie?!! Of ‘n skerpskutter kry om al die gemors van ontslae te raak nie!

Dankie tog, dis more Vrydag! Sleepvoet het die week darem ook amper sy dinges gesien. Saterdag gaan ons bietjie Kimberley toe vir hare sny en inkopies. Dalk gou ook ‘n fliek inwerk. Sondag het ek afgevat van die orrel speel. Dit raak ook soms te veel.. Want dis al ander dag wat ek het om te rus, en ‘n naweek is net so lank! Maar ek kry nog nie moed om heeltemal te bedank van die orrel speel nie, dis nog ‘n innerlike debatvoering.

En na al die sinnelose skrywe gaan ek my rekenaar afsit en Big Bang Theory en Friends kyk tot my oë wil toeval. Want dis my ontspanning saans na werk, wanneer ek rustig kan gaan sit en hekel met ligte komedie op tv wat my kan entertain. Ek weet nie hoe mense nog saans na dramabelaaide sepies kan kyk nie. Ek sal totaal depro raak.  So na tv gaan ek  ‘n paar bladsye lees uit ‘n nuwe e-boek wat ek aangeskaf het, The Science of God. Nou DIT is ‘n goeie manier om die dag af te sluit.   Dit voel of ek vir ewig deur die skrywer se brein kan rondkrap!  En niks te worrie oor die dag van môre nie. Want elke dag sorg vir homself.

Xxx