Wat pla?

Dis ‘n baie revolusionêre vraag om te vra. Want my instink is om nie gepla te wees nie. Ek hou nie daarvan nie. Ek is eerder min gespin. En om iemand anders te vra wat pla gee geleentheid vir die persoon om te kla. Wat ek ook nie van hou nie.

Maar wat as ons dieper begin kyk? In plaas van om die vrede te bewaar deur ons frustrasies en irritasies eenkant toe te skuif, moet ons nie eerder leer om eerlik stil te raak en te dink oor die dinge wat ons pla nie? Nie net bolangs nie, maar diep in ons binneste ook?

Soms is die waarhede wat ons ontdek lelik en ongemaklik, maar saam met dit is daar ook sprankies van hoop wat ons nie altyd besef ons eintlik nodig het nie.

Om te erken wat ons eintlik pla, help ons om ons diepste hartsverlange bloot te lê. En wanneer ons weet wat ons diepste hartsverlange is, sal ons lewens dalk meer begin sin maak.

Wat as ons onsself meer gereeld afvra, Wat pla jou? En wat as ons dit meer gereeld vir mekaar vra?

Xxx

Sondag Refleksie

Ek mag dalk nie verstaan hoe dinge gaan uitwerk nie; ek sien dalk nie die pad duidelik vorentoe nie, maar ek vertrou dat die Vader van beter weet en ek glo dat, op hierdie gegewe oomblik, is Hy besig om in lewens te werk, harte aan te raak, deure oop en toe te maak, die regte mense te gebruik, geleenthede…. Al lyk dit bleek en donker en onseker, ek móét glo dat die ligloosheid nie vir ewig sal duur nie. Dagbreek sal kom.

Xxx

Vlerke soos ‘n duif

Vanaand wens ek soos Dawid, dat ek maar vlerke het soos ‘n duif om weg te vlieg en rus te hê. Ek sou ver weg vlieg, ek sou in die woestyn gaan woon. Ek sou my haas om te ontvlug….

Wens jy ook soms so as jy moeg en uitgestres is na ‘n stresvolle dag? Of ‘n paar dae van frustrasies en irritasies? Dis dae wat ek om wens en dis nie reg nie want elke dag is ‘n dag wat die Vader gee; maar daar is regtig net tye wat ‘n mens voel jy kan wegvlieg.

Die woestyn was ‘n gunsteling plek vir profete en manne van ouds om God te gaan vind (alhoewel ek eerder ‘n verlate eiland sou verkies!) Dis ongelukig ‘n luuksheid wat ons nie het nie, om ‘n laaaaaaaang vakansie te neem weg van die normale en alledaagse….

Maar dis lekker om elke dag ‘n mini-retreat te kan hê – ‘n koppie koffie en die Skrif of ‘n goeie geestelike boek.

Dankie Here, vir klein eilandjies van verfrissing elke dag!

En om hierdie rede moet ons nie moed opgee nie. Elke oggend is die Vader se genade nuut, en elke aand kan ons met ‘n geruste hart gaan slaap want Hy sorg vir ons en Hy dra ons dag vir dag – selfs deur die storms.

Dalk is dit eerder nodig dat ons vlerke geknip word sodat ons kan leer om soos arende op die stormwinde te sweef; en nie soos duiwe weg te vlieg nie.

Xxx