Brief aan Manèe op haar 21e verjaarsdag

Manée…. “lieflik, goddelik”

Ma 20180413_210053

Dis wat jou naam beteken, my pragtige dogter. Môre verjaar jy en dan word jy 21. WOW!! Om te dink, 21 jaar gelede was jy ‘n bondel vreugde wat ek in my arms vasgehou het.

Elke keer wanneer ek hier vir jou of vir jou sussie skryf, dan voel dit “long overdue”. Ek het so baie om te sê (positiewe goed, nie negatiewe goed nie), maar elke ongeskrewe en ongesproke woord wat oor die afgelope sewe jaar versamel het…. Hier is net eenvoudig nie genoeg plek daarvoor nie.

Eerstens wil ek hê jy moet weet dat ek jou oneindig liefhet. Dit sal nooit verander nie, maak nie saak wat gebeur nie. Ek wil hê jy moet die waarheid weet. Moet nóóit die leuen glo dat ek jou nie wou gehad het nie. Ek noem dit vir jou want dit is dinge wat jy teen my hou, maar niemand sê vir jou die waarheid nie: dat jy soveel vreugde in my lewe en in die lewens van ander toegevoeg het. Ek is oneindig dankbaar vir jou; jy is so geliefd!! En DIT is die reine waarheid.

As jy eendag self ‘n mamma word, sal jy self verstaan hoe dit voel wanneer ‘n mamma so lief is vir haar kinders dat haar hart wil ontplof! ‘n Liefde wat maak dat ‘n ma enige tyd haar lewe vir haar dogters sal gee. Die onvoorwaardelike liefde wat ‘n ma vir haar kinders het is werklikwaar onparallel aan enige ander soort liefde. Niks op aarde is meer belangrik as die verhouding tussen ‘n ma en haar dogters nie. Ek sê “op aarde” want natuurlik is ons verhouding met die Here die heel, heel belangrikste. Maar ‘n ma se verhouding met haar dogters is besonders. Ek weet, want ek het ook ‘n ma. Ons het nie altyd die wonderlikste verhouding gehad nie; en ek het haar al haar grys hare gegee!! Maar ek kan nie my lewe sonder haar indink nie: my grootste aanhanger, my engel-moedertjie wat haar knieë vir haar dogter en kleindogters deurbid; die persoon wie vir my die liefste in die wêreld is…. Soos ek vir julle is.

Manée, jy is nou groot. Ek het onlangs verneem dat jy in die buiteland iewers werk. “Jou kind werk in die buiteland en sy het nie eers die moeite gedoen om jou te sê nie!” was die boodskap; want ek “is dit nie werd nie.” En dis fine. Moenie vir een oomblik dink ek is kwaad vir jou nie. Ek hoef ook nie te wonder oor jou of bekommerd te wees oor jou nie, want ek wéét dat die Hand van my Here oor jou is – en Hy is waardig! Ek glo nie daar is iemand meer trots op jou as jou eie ma nie, want jy is in staat om jou eie besluite te kan neem; dat ander dit nie vir jou neem nie. Ek is in ekstase dat jy keuses maak wat vir JOU goed is, en nie vir ander nie. Selfs al beteken dit dat jy dink ek is nie nou, op hierdie stadium van jou lewe, goed vir jou nie. Dis JOU keuse, my kind; en ek respekteer dit. En ja, jy gaan foute langs die pad maak. Ons almal doen. Niemand is perfek nie, niemand hoef te wees nie. Dis al hoe ons leer: uit die foute wat ons maak. Leer van jou eie ma die volgende belangrike les: partykeer maak ons oor en oor en oor dieselfde fout, maar ons leer eventueel – selfs al is dit te laat. Maar elkeen van ons het die ongelooflike kapasiteit om te verander, ons moet net eers erken dit wat in onsself is wat moet verander.

Anywhoooooo….. die feit dat jy oorsee gaan werk het, gaan nie oor my of enige iemand anders nie. Dit gaan oor JOU en die pad wat jy besig is om vir jouself oop te kap. Dit gaan oor JOU onafhanklikheid; en dis wonderlik dat jy die geleentheid gegryp het om dit te kan doen. Carpe diem!!

Dis okei as jy ‘n blinde oog en ‘n dowe oor wil gooi. Jou ma verstaan baie beter as wat jy dink; en ek sal jou nooit verwyt nie. Baie kinders gaan deur die lewe en blameer hulle ouers vir alles wat verkeerd loop in hulle lewens. Ek weet, ek het ook my ouers blameer vir my tekortkominge…. Maar iewers op ‘n punt in ‘n mens se lewe moet jy daaroor kom, en jy moet leer om te vergewe en te vergeet.

Jy sê jy het aanbeweeg. Welgedaan, my kind!! Jy is ‘n dapper en sterk jong vrou; niks kon jou nog ooit onderkry nie, en niks sal ook nie. Ek sal altyd vir jou lief wees en ongelooflik trots wees op jou: op jou individualiteit; op dit wat jy bereik in jou lewe. Ek het jou gevier die dag toe jy gebore was, en ek sal nooit ophou om jou te vier nie. Jy is Godgegewe!!

Lekker verjaar, my kind. Wees veilig. Ek los jou met die woorde van Paulus in 2 Tessalonisense 2:16-17: “Mag ons Here Jesus Christus en God ons Vader – Hy wat ons liefgehad het en wat ons deur sy onverdiende goedheid ‘n ewige troos en ‘n goeie vooruitsig gegee het – mag Hy self [jou] hart vertroos en [jou] sterk maak in elke goeie daad en woord.”

Love you to the moon and back.

Jou ma xxx

IMG-20180413-WA0001

 

Advertisements

9 thoughts on “Brief aan Manèe op haar 21e verjaarsdag

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s