Die eerste woorde, of is dit die laaste?

Dankie vir hierdie skrywe, Toortsie. Dis sooo waar dat die duiwel altyd daarop uit is om ‘n mens aan te kla en te verkla en sleg te maak, maar dank die Here, Hy wat in ons is is sterker!

toortsie.com

Ek hoor duidelik in my kop: ‘Die duiwel soek om aan te kla, terwyl die Here soek om te vergewe.’

Ek sê: ‘O, dít moet ek onthou. Wie se woorde is dit?’

Toe word ek wakker.

Ek het ‘n bedrywige droomnag gehad. Was dit dus die heel laaste woorde van my droom, of die heel eerste gedagte van die dag, of iets tussenin?

Ongeag watter een van die drie dit was en of dit ‘n mengsel was en of dit my eie droomwoorde was en of dit woorde is wat iemand anders gesê het, wie ek nou nie weet wie dit is nie, dis ware woorde wat dalk vandag by my gaan bly.

Want dis ware woorde.

Die duiwel is altyd daarop uit om mense aan te kla, om mense sleg te maak, skuldig te verklaar, terwyl Jesus die Een van liefde is. Hy is die Een wat ons wil…

View original post 124 more words

Advertisements

Goeie dinge sal kom

Ek is besig om ou foto’s en kaartjies en goetertjies bymekaar te sit om ‘n collage daarvan op ‘n groot canvas te decoupage. Daar is een spesifieke plastiek lêer waarna ek gesoek het met my dogters se prentjies en briefies en kaartjies in wat ek bymekaar gemaak en gebêre het van kleuterskool se dae af. Ek kon dit nêrens kry nie. Ek het deur elke boks gesoek (my goed staan in bokse gestoor by my ma totdat ek ‘n groter huis kan kry), so dit was ‘n gesoek en ‘n gehuil en ‘n tyd van paniek. Ek kon alles verloor, net nie daardie lêer nie! Daarin is te veel sentiment en kosbare herinneringe…. Prentjies wat my kinders geteken en geverf of ingekleur het, briefies en kaartjies wat hulle vir my geskryf het, gebedjies…. Alles is daarin. Dis my kosbaarste besitting en ek kon nie bekostig om dit te verloor nie.

Ek was in ‘n toestand toe ek nie die lêer kon vind nie, en na ‘n paar weke, net toe ek alle hoop wou laat vaar en maar weer alles terugpak in die bokse, TA DA!! Binne-in ‘n dik kartonlêer ingeglip, daar het dit versteek gelê.

Hier is ‘n les iewers hierin, het ek agterna besef. Goeie dinge sal kom. Goeie dinge gebeur vir dié wat wag. Net toe ek op die punt was om moed op te gee, toe kom dit.

Maar ons moet nooit moed opgee nie, ons moet net leer om geduldig te wees. Wat ons nodig het, sal na ons toe kom wanneer die tyd reg is. Die Here is besig met ons, Hy is besig met ons situasies, en Hy doen nie halwe of afskeepwerk nie.

Maar dis nie maklik om te wag nie. Dis nie soos ‘n skakelaar wat ‘n mens net kan aan of afsit nie. Soms voel dit of jy van ‘n krans wil afspring, of in sak en as te gaan sit, maar ons moet onthou dat alle goeie dinge TYD, GEDULD, en die bereidwilligheid vat om deur alles te werk met God se genadehart vir ons.

Dit voel dalk vir jou of dinge sloer en of niks aan die gebeur is nie, sê Habbakuk, maar wees geduldig. Jy sal sien, kom sal dit kom en niks en niemand sal dit kan terughou nie. Xxx

39c0158c138d379e6f62f9f8cc7d1574--true-quotes-christian-quotes

Wat kan mense aan ons doen?

Baie. Mense kan baie aan ons doen. Dis die eerste ding wat ons dink as ons eerstehandse ervaring het van mense wat alles in hulle vermoë doen om ons in die grond in te trap, en die heeltyd daarop uit is om met ons in stryd en konflik te wees, en die lewe vir ons bitter moeilik maak; mense wat oneerlik en agterbaks is en alles verdraai wat ons sê en van ons leuenaars maak; mense wat letterlik dag in en dag uit sit en bedink wat hulle volgende kan doen om ons verder seer te maak…. En die ergste van als is, dit lyk of hulle altyd slaag in hul planne; of hul wegkom met alles. Dit voel of daar geen regverdigheid hoegenaamd is nie want die een wat seerkry is die een wat ten gronde gaan, maar die een wat seermaak bly staande.

Maar hierin lê ons grootste troos: God sluimer of slaap nie. Hy wéét van alles. Hy wéét van ons hartseer en pyn. Hy hou selfs boek van elke traan wat ons stort. Al lyk of voel dit nie so nie, Hy ís aan ons kant en Hy is in die proses om ons te help. As ons bang word, vat Hy ons hand net nog stywer vas en gee ons die gemoedsrus dat Hy by ons is. Ons kan en mag maar op Hom vertrou.

Daarom hoef ons nie bang te wees vir mense nie, want hulle kan niks aan ons doen nie! Hulle is per slot van rekening, nog kleiner en swakker en nietiger as diegene wat by die Here skuil. Hulle dink hulle is bó ons en bó wet en bó God verhewe, maar hulle misgis hulself lelik want die Here verhef elkeen wat by Hom skuiling soek, op ‘n hoë rots sodat wanneer ons teëstanders nader kom om ons te verslind, hulle oor hul eie bose planne struikel en val… “En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my…”

Hulle sal uit een rigting kom om jou aan te val, maar hulle sal in sewe rigtings weghardloop!

Solank as wat die Here ons hulp is en ons saam met Hom op die pad van die lewe kan bly – al is dit soms hóé moeilik – en Hy ons aan die lewe hou, het ons niks om te vrees of voor bang te wees nie!

Xxx

(Skrifgedeeltes: Deut 28, Ps 27)

‘n Blye Boodskap

Een van my swakhede is dat ek vinnig opgewerk en frustreerd raak as dinge nie reg loop nie, of as dinge nie gou genoeg gebeur na my sin nie. As ek weer sien is ek sommer in ‘n slegte bui…. En wat dit eintlik veroorsaak is bekommernis en onsekerheid, en dit is giftig vir ‘n mens se gemoed want dit sit jou emosies op loop.

Gister het ek so ‘n emosioneel uitmergelende dag beleef by die werk; só dat ek totaal oormoeg, emosioneel belaaid en uitgeput by die huis gekom het. Ek was in die bui vir niks en niemand.

Dan om alles te kroon kom mens nog op daai punt van, nou hoe nou gemaak? Hoe hanteer ek dinge nou verder? Hoe gaan ek my finansies verder hanteer? Hoe gaan ek vorentoe maak? Want skielik gebeur daar dinge en alles tref jou met een slag. Jy raak verbouereerd en bekommerd en jy sit en tob oor dinge waaroor jy eintlik geen beheer het nie, maar op een of ander wyse moet jy dit máák werk, come hell or high water!

Dis wat vir my vanoggend so wonderlik is, hoe die Here met ‘n mens werk deur absoluut alles; maak nie saak hóé deurmekaar nie, maak nie saak wat alles deur jou kop jaag nie.

Of ons bid daaroor of nie, die Here staan altyd reg met ‘n antwoord. Toe ek vanoggend my dagstukkie oopmaak, toe kry ek hierdie ongelooflike stukkie vertroosting uit Filippense 4. Dit is so ‘n bekende gedeelte in die Bybel wat mens al so baie gelees het, maar dis asof dit juis vanoggend vir my nuwe betekenis het. Paulus kon dit netsowel in ‘n brief persoonlik aan my gerig het! My interpretasie van wat God vir my vanoggend wil sê uit Die Boodskap-vertaling is die volgende:

Eerstens, maak nie saak wat gebeur nie, BLY GETROU OP DIE PAD WAT DIE HERE VIR JOU WYS. Wees bly net oor die feit dat jy aan God behoort. Dít moet jou rede vir blydskap wees. Nie wat jy het of nie het nie. Nie wat jy kry of verloor nie. Maar die feit dat jy aan God behoort moet jou bron van vreugde wees.

Tweedens, moenie sit en tob oor dinge nie. Moenie bekommerd wees nie. PRAAT MET DIE HERE DAAROOR. Maak ‘n punt daarvan en bespreek dit met God. Moenie dinge in jou kop sit en probeer uitwerk nie. Moenie na mense toe hardloop nie. Gaan na die Here toe en vertel Hom in alle eerlikheid hoe jy voel. Hy weet die beste. Sê vir Hom dankie daarvoor!

Derdens, dink aan dinge waaroor God sal dink. Dinge wat ordentlik en reg is. Dinge wat vir Hom saakmaak. Dinge waarvan Hy hou. Dinge wat Hy sal sê goed is. Moenie jouself vergiftig met nuttelose gedagtes nie. DINK EN DOEN DINGE WAT DIE MOEITE WERD IS, en sorg dat dit altyd vir God in ‘n goeie lig stel want Hy los jou nooit nie. Hy bly altyd by jou.

Dan, wat maak dit saak of jy brandarm of skatryk is? Om te min of te veel te hê? Of dit swaar gaan of goed? LEER OM KLAAR TE KOM MET WAT JY HET. Moenie dat onbenullighede met jou kop smokkel en met jou emosies weghardloop nie. Wees tevrede met wat jy het en wat jy kry.

So, watookal jou tref, vir alles in die lewe – die goeie en die slegte – bly tevrede. Wees geduldig. Wees bly. Sien kans – omdat Jesus jou bron van krag is.

Xxx

Rejoice-In-The-Lord-Always-CANVAS