Gedagtes na die naweek

Oppad terug van Pretoria af. Woensdagmiddag uitgevlieg, ry vandag saam met Riaan se ma-hulle terug. Die pad is lank. Figuurlik gesproke ook, dink ek nou, na ouma Hannetjie se begrafnis Vrydag op Vaalwater in die NG Kerk. Nie my ouma nie, Riaan s’n. Die ouma wat hom grootgemaak het en wie se oogappel hy was. ‘n Relatief groot begrafnis, en ‘n aansienlik groot familie saamtrek…. die Kroch’s, Fourie’s, Stoops…. One big happy family. Dis wat ek die naweek ondervind het en dit was met tye nogal oorweldigend, ek is dit nie gewoond nie. Maar wat ek gesien het was hoe ‘n familie kan saamstaan, saamwerk, saamhuil, saamlag. Daar was nie tyd vir díé buitestaander om mensverskrik te wees nie, ek moes maar inval en inpas anders sou ek in die woer-war verlore raak.

Elke familie het maar sy vrot kol. Sy vlieg in die salf. En soos die sê-ding gaan, jy kan jou vriende kies maar nie jou familie nie. Nie dat ek noodwendig saamstem nie, mens het altyd ‘n keuse wie jy in jou familiekring toelaat.

dea5c4455ebf356c5611cf4b6b8b80f9--bad-family-quotes-quotes-about-family

Wat my geruk het van die begrafnis was twee dinge. Eerste, toe ek verlede week ouma Hannetjie se eulogie geskryf het namens Riaan se ma. Ek het so aan my eie dogters gedink en gewonder, hoe sal die eulogie wees wat hulle vir my op my begrafnis skryf? Sal hulle ooit op my begrafnis wees? Dit was ‘n gedagte wat my hart vasgegryp en angstig gemaak het, want Here, sal ek ooit in vrede kan rus sonder my dogters langs my sterfbed? Dis skrikwekkend, en hartseer, om aan te dink.

Die tweede gedagte was Vrydag na die begrafnis. Ek het aan my ma gedink, en vit haar ‘n whatsapp gestuur en gesê sy moet asb nog 60 jaar vasbyt – want ek weet nie of ek gereed sal wees om haar te ruste te lê nie. Ek weet nie hoe ek dit sal hanteer, en of ek die krag sal hê om dit te kan hanteer nie. Die afskeid, finaliteit, ewigheid. Dis scary.

Maar genoeg van die “heavies”, emosies het mos die neiging om 1000 maal vinniger as jou brein te werk! Môre is ‘n nuwe week met nuwe uitdagings en nuwe dinge. Ons kan uitsien na die dag van môre en kans sien vir die week wat voorlê, want ons is nog sterk en vol lewe. Ons het al die goeie dinge waarmee die Here ons oorlaai om te geniet. Hy gee ons krag om soggens op te staan; om in rus en tevredenheid saans te gaan slaap.

Dis die bril waardeur ek eerder graag wil kyk.

Xxx

 

Advertisements

Nóú is die tyd!

Ons was verlede week geweldig besig met ‘n “stop vir veiligheid” veldtog by die myn. Dit het geleentheid vir lynbestuurders en motiveringsprekers gebied om werkers opnuut bewus te maak om veilig te werk – #Safety is in your hands. Make every moment count.#

Soos ek sê, dit was ‘n besige week en daar was nie tyd vir ander dinge nie. Alle fokus en aandag en tyd was op hierdie veldtog toegespits…. Toe kry ons die tyding dat Riaan se ouma, aan wie hy baie na was, skielik siek geraak en Vrydag oorlede is. Sy word Vrydag wat kom begrawe. Ons vlieg Woensdagmiddag uit.

My ma se oogoperasie is vir Dinsdagmiddag in Kimberley geskeduleer. Ek weet nie of sy dalk sal moet oorbly of hoe laat hulle Dinsdagaand tuis gaan wees nie, maar ek moet reg wees om dalk plaastoe te ry na werk om te help met die diere se kosgee.

So, op heel ander vlakke, berei ek myself voor vir nog ‘n besige en deurmekaar week. Dis nie nou die tyd om geestelik anoreksies en emosioneel selfsugtig te wees nie!

In al die opgetekende geskiedenis is ek en jy strategies geplaas deur God – op hierdie spesifieke plek en tyd – want Hy het mense soos ek en jy nodig.

Gló jy dit? Ja, ek weet ons voel soms gebrekkig aan vermoëns. Die duiwel sê vir ons ons is misrabellik en mislukkings in vele opsigte, maar gló ons dit? Stellig nie!

Nóú is die tyd om ongeliefdes lief te hê; om vreugde te bring as dit koud en donker is; om vrede te openbaar in verwarrende situasies; om vriendelik te wees in ‘n onvriendelike, verwoestende, wrede kultuur; om optimisties te wees in frustrerende omstandighede; om te hoop – en hoop te gee – wanneer daar geen rede vir hoop is nie; om geduldig te wees met hardkoppige en humeurige mense; om moedeloses en neerslagtiges op te tel; om treurendes te troos….

Die beste deel is dat ons niks hiervan in eie krag en perspektief te probeer doen nie. Die Here gee ons die nodige krag, insig en wysheid. Hy stuur ons waar Hy ons nodig het. Hy gee die regte woorde en hulpmiddels op die regte tyd. Hy gee “sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees” (Jes 61:3).

Ons lewens is nie ons eie nie, ons is God se vakmanskap…. As ons kies om dit te wees. Dit bly altyd ons keuse: gaan ons op ons manier leef, of op God se manier? Gaan ons Sy krag ontvang vir Sy plan en doel, of gaan ons met ons eie krag voort ploeter?

Nóú is die tyd. Is jy in?

IMG-20180119-WA0008

 

Pragtige berymings

Kyk, ek gee nie om wat mense sê oor Psalms en Gesange nie, dit bevat van die mooiste berymings denkbaar en dit bring die mees opregte gebede voort. Ek lééf vir my musiek en ek is so bevoorreg om diensbaar te kan wees met die musiektalent wat die Here vir my gegee het. Ek het al in verskeie denominasies gedien, van evangelies tot charismaties tot gereformeerd, en ek het op ‘n jong ouderdom van 9 met begeleiding begin. So ek het ‘n liefde en passie vir geestelike en gewyde musiek en dit grief my as mense met die sing van Psalms en Gesange spot; want uiteindelik gaan dit nie oor die tipe musiek nie maar die gesindheid waarmee jy sing. God deursoek en toets die hart van ‘n mens.

As ek saans buite is en my tuintjie natmaak….

U gee die plan en energie; die kleinste saadjie laat U ontkiem – vir alles sorg U, Vader. U laat ons droom, beplan en spit; U leer ons wag; U leer ons bid. Ons leef uit U genade. U maak ons dankbaar, vrolik, bly – met sorg is lande voorberei wat nou hul opbrengs lewer. Die plante, elkeen na sy soort, bring blom en vrug en sade voort. Ons eer U, goeie Gewer. #Ges.248

Vir ons kinders:

Here Jesus, U alleen kan ons kindertjies só seën dat ons in ons harte weet U sal hulle nooit vergeet. #Ges116

Heer, ons bid dat elke kind U sal dien solank hy lewe en ook altyd ondervind dat U goed is en vergewe. O, ons smeek U, troue Herder, lei ons met ons kinders verder. #Ges.111

Vir ons land:

Gee U steeds vryheid in ons land aan elke onderdaan; gee ware vryheid uit U hand om Satan te weerstaan. #Ges.106

En die regering:

Lei, Vors van vrede, op U weg húl wat oor ons regeer, dat hul met insig en met reg U opdrag hier hanteer – gelei deur U, bewaar deur U, getroue Opperheer. #Ges.107

In nood:

Ek roep tot God met groot geluid; ek stort my klag soos water uit; ek kla my node in Gods oor, want Hy sal my gebed verhoor. #Ps.142

Oor ons menslike teëstanders:

Aanstigters van die leuenwerk, wat steun op lis en slinkstaal – mag die vergelding, vol en sterk, nou op hul hoofde neerdaal. Werp vuurge kole op hul af, laat vlamme om hulle lende slaan; ‘n diepe kuil – maak dit hul graf waaruit hul nooit weer op sal staan! #Ps.140

En soos dit nou skemer begin raak hier en ek in die kombuis gaan besig raak; en ek dink aan my dogters wat ver is, en aan my ma se naderende oogoperasie, en die onderhoud wat Maandag voorlê….

Dis stil hier in die skemer asof die goeie Gewer ‘n kleed oor alles sprei. Ek self word nou ook rustig, wil my in God verlustig – ek kan my in Sy sorg verbly. #Ges.351

Neem my ouers, kinders*, vriende in bewaring hierdie nag. Môre dank ons U vir goedheid – gawe van ‘n nuwe dag. #Ges.354 (*self ingevoeg)

praising-740x493

Xxx

Die seën en vreugdes van werk

Ek is geseën met ‘n goeie werk. Toe ek in Augustus 2016 hier begin het, was ek in die diep kant gegooi. Alles en almal was vreemd en dit het my ongeveer 6 maande geneem om alles onder die knie te kry (dankie tog vir 6 maande probasies!) Iemand het eendag ‘n opmerking gemaak dat ek gelukkig was omdat ek as ‘n blanke vrou toegelaat was, al is dit net op kontrak basis. Maar ek dink nie ek was “gelukkig” nie, ek sien myself as geseënd: Geseënd omdat ek die regte mense op die regte tyd en op die regte plek leer ken het; geseënd met talente en vermoëns wat my in staat stel om die werk te kan doen; geseënd met ‘n gesonde verstand om elke dag meer te kan leer en om verder te kan studeer; geseënd omdat my werknemers en kollegas my regverdig behandel en respekteer.

Elke een van hulle, in hul uniekheid, is ‘n bron van inspirasie en ondersteuning. ‘n Mens werk nie vir eer en erkenning nie, tog is dit belonend wanneer jou harde werk raakgesien word….

….of wanneer jy onthou word in die feesgety wanneer almal met verlof gaan en jy deel is van die skeleton span wat oor vakansietyd werk.

DSC_0001_5

Hoog en laag, ek is geseënd omdat ek nie net maai nie, maar ook kan saai. Nie omdat ek dit enigsins verdien nie, maar alleen uit genade en guns van Bo.

Mag jy ook in die ongeveer 86400 sekondes van elke dag besef hoe geseënd jy is!

Xxx