Ontmoet vir Patat

1512229144090

….my ma se nuwe wees-kalfie. Mamma-koei het bly lê ná Patat se geboorte en kon nie na haar omsien nie, sy was te swak. My stiefpa het haar huistoe gevat en begin bottelvoed. Sy sterk baie mooi aan.

My hart kry so seer vir Patat. Mis sy haar mamma? Dink sy snags as sy alleen in die hok is, of as sy bottel drink, aan haar mamma? Net Patat sal weet, maar ek het ‘n vae idee van hoe dit voel….

Ek kom uit ‘n disfunksionele familie waaraan ek geneties verbind is, maar geen betekenisvolle verhouding hoegenaamd mee het nie, behalwe my ma. Dis reg, geen kontak met familielede nie, ook nie my pa nie. My ma trek binnekort sak en pak Gouritsrivier toe; en vir die eerste keer in 42 jaar gaan ek alleen agterbly sonder ma, sonder man, sonder kind of kraai. Ek begin voel soos ‘n weeskind. Postmasburg is nie juis ‘n plek waar mens kan uitgaan en vriende maak nie. Nie by die werk of by die kerk nie want die samelewing hiersô is net so disfunksioneel. Elkeen is vir hom of haarself.

Patat het ‘n rol in haar kalf-lewe verloor. Ek kyk vanoggend na my potplante en dink, elke plant staan in sy eie pot, geforseer om te groei in die spasie waarin hulle geprop is. Hulle het ook in ‘n mate hulle natuurlike rolle verloor; net soos ek my rol as ma vir my dogters verloor het; as dogter vir my pa; as vrou vir ‘n man; as deel van ‘n familie.

Ek kyk na Patat en ek weet, verlies is nie iets wat ligtelik is nie. Dit laat ‘n mens weerloos en breekbaar voel, en jy bly gedurig soekend na iets tasbaar om die leemtes te vul. Dis ‘n konstante gevoel van verlorenheid. Jy pas nooit rêrig iewers in nie. Daar is geen instruksies of “how-to” gids om jou te help cope nie. Niks om jou te help voorberei nie. Die kind in jou is amper ontroosbaar want jou daaglikse bestaan, bestaan uit ‘n stryd om oorlewing en om jou eie pad deur die wildernis oop te kap.

Ek ken ‘n weeskind wat my ma-hulle destyds ingeneem het oor skoolvakansies. Hy was so te sê deel van die gesin. Ronald het nie sy situasie as verskoning gebruik om op te gee en te stagneer nie. Hy het dit as katalisator gebruik en hoog uitgestyg. Vandag is hy ‘n suksesvolle ingenieur en werk en woon saam met sy vrou en babadogtertjie in Kanada.

Sien, ten spyte van die slapelose nagte en mistroostige dae en die verlange en hunkering wat mens vir niemand kan beskryf nie, leer jy tog ‘n skyn van normaliteit. Elke oomblik van stilte en isolasie en kalmte is ‘n seën van Bo.

Die lewe gaan aan, en die seer gaan nie weg nie, maar jy vind elke dag iets nuuts om voor dankbaar te wees. Die klein dingetjies in die lewe is wat saakmaak, soos ‘n rooi blom in jou tuin. Jy waardeer nie net die lewe nie, maar die feit dat jy lewe, meer…. En jy leer dat jy eintlik sterker is as wat jy gedink het – want Hy wat jou gevorm het, het jou by die naam geroep en jy behoort aan Hom: ‘n Vader vir die wese, ‘n Tuistegewer vir die eensame; ‘n Ondersteuner van en Regter vir weeskinders en weduwees; ‘n Leermeester wat ons leer hóé om te lewe en wat ons op ‘n gelyke pad lei.

“Selfs al sou my pa en ma my verlaat, die Here sal my styf vashou.” Ps 27:10

In ‘n stortvloed van trane en in elke gebroke hart, vertoef God geduldig. Aan die einde van elke eensame pad, wag Hy geduldig vir Sy kind.

*opgedra aan Patat*

Xxx

 

 

Advertisements

6 thoughts on “Ontmoet vir Patat

  1. Te mooi vir woorde, tussen die pyn sien ek ook die deernis en die vertroue wat jy in ‘n Hemelse Vader het. Laat ek, wat deel is van ‘n familie, wat my kinders voor my oë sien grootword het vir jou vertel als is nie altyd soos dit lyk nie. Almal van ons het ‘n innerlike stryd waarmee ons wroeg, sommige steek dit net beter weg. Maar wat ek weet en soos jy ook deur en in jou pyn geleer het, is dat al wat standvastig is in hierdie wereld is die liefde van die Here vir ons, Hy wat alleen ons pad ken… en my gebed vir jou sal altyd wees: Here, laat Andorize asb met haar kinders herenig word in hierdie tyd wat ons op aarde is, en Here so baie dankie dat ons kan uitsien na ‘n heel lewe hierna, sonder stukkende families vol gebroke mense. Dankie dat U ons by die naam ken.
    Jy is ‘n beeldskone mens, nes die plante wat jy in potte gevange hou wat ongeag hul omstandighede, vir jou hul allerbeste teruggee danksy jou versorging daarvan, Andorize. Patat se storie hier vasgepen, het weereens my hart kom raak. Maar ai jy, jy is rerig in my hart gegraveer, jy en jou storie van jou lewe 💖💖

    Liked by 4 people

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s