Nog ‘n blom!

DSC_0016

Groot was my opgewondenheid toe ek vanmiddag by die huis kom en ek sien die rooi bloeisels aan die vetplant. Ek LOVE rooi!! Vergete is die dag se dinge en terwyl ek na die rooi bloeisels kyk onthou ek skielik van iets wat ek die naweek raakgelees het:

Liefde is soos ‘n bloeisel wat blom wanneer die toestande gunstig is. Mens kan nie ‘n blom oop forseer sonder om dit seer te maak nie. So ook nie ‘n hart nie.

Xxx

Advertisements

Dis nou of nooit

Vandag het die werk ‘n bom laat val dat die begroting vir my pos goedgekeur is vir ‘n permanente pos. Die pos is in Aug 2016 geskep as ‘n fixed term contract en ek was bevoorreg om die pos as ‘n tydelike werker te beklee, ek kon alles leer wat ek moes en ek kon ook my stempel afdruk en ‘n verskil maak. My departement worstel al vir ‘n geruime tyd om die pos permanent te maak so dit is goeie nuus dat dit wel uiteindelik goedgekeur is…. Die probleem is egter dat dit intern geadverteer gaan word so ek moet nou oor aansoek doen en weer vir ‘n onderhoud gaan. Ek staan ‘n kans so goed soos enige iemand anders, daar is geen waarborg dat ek hierdie keer suksesvol gaan wees nie. So ek is nogal benoud want daar is ‘n paar dinge wat teen my tel, onder andere my velkleur. Hierdie is maar een van talle polities-georiënteerde organisasies….

Onsekerheid is ‘n aaklige ding en ek is seker dat dit meeste van die tyd ongegrond is. Vir my voel dit of my werk skielik in gevaar is. Mens weet nooit het jy rede om bekommerd te wees nie.

Ek reken dis nou die regte tyd om van my hoë perdjie af te klim en uit my gemaksone wakker te skrik. Weet, ‘n mens kan sooooo gou té selfversekerd, selfvoldaan en verwaand raak, en so sus jy jouself vas aan die slaap. Hierdie was ‘n wake up call dat ek niks is en niks kan doen sonder die Here nie. As dit Sy wil is dat ek hier bly, dan glo en vertrou ek dat Hy my werk veilig sal hou. As Hy egter ander planne vir my het, dan bid ek dat Hy vir my daardie deur sal oopmaak en my gereed sal maak om daardeur te loop.

Wanneer laas het jy vertrou dat alles sal uitwerk volgens Sy doel en plan vir jou lewe?

Xxx

 

Phalaenopsis – vir my dogters

Blomme is eintlik so eenvoudig, maar hulle kan soveel vreugde besorg. My blomme laat my altyd beter en gelukkiger voel; hulle is die sonskyn, voedsel, en medisyne van my siel.

Ek het onlangs ‘n Phalaenopsis plant persent gekry. Met die eerste oogopslag het hierdie plant soveel herinneringe teruggebring aan vroeër jare toe my dogters nog in die huis was. Ek was gevul met heimwee, maar tegelykertyd ook met bewondering. Ek het gegaan en intensiewe navorsing gaan doen rondom die Phalaenopsis. As ek maar daai tyd die moeite gedoen het….

Anike was nog op laerskool toe sy eendag vir my vertel het van die Phalaenopsis blom. Sy was mal daaroor en wou ook graag een gehad het. So het ek ‘n paar plante gekoop en in amper elke vertrek een gesit. Die probleem was egter, ek kon dit nooit aan die lewe hou nie. Dit het bly doodgaan. Dan koop ek maar weer, en na ‘n ruk dan dooi dit weer. (Ek kon dan nie eers die goudvis aan die lewe hou nie, dié moes ek ook maar noodgedwonge in die toilet afspoel!)

Niks wou by my aan die lewe bly nie, so ek het na my dogters weg is, nog nie weer ‘n plant of dier aangeskaf nie. Tot onlangs. Terloops, ek weet nóú hoekom die plante (en die goudvis) dit nie gemaak het nie. Hulle was oorvoed, verkeerd versorg, en die toestande was nie vir hulle gunstig nie. Soos met my dogters, was ek hopeloos onkundig.

Ek het uitgevind dat die Phalaenopsis eintlik van die orgidee spesies is en oorspronklik van die tropiese dele van Asië afkomstig is; en dat dit ‘n baie belonende plant kan wees onder die regte groeitoestande. Nie veeleisend nie, hulle vereis bloot net die regte balans tussen humiditeit, temperatuur, water, lig, en beweging van lug. Het jy geweet dat daar sowat 60 van die Phalaenopsis orgidee spesies aangeteken is, maar wat al so breedvoerig gehybridiseerd (kruis-bestuif) is dat daar letterlik duisende soorte Phalaenopsis plante wêreldwyd is? ‘n Mens is nooit te oud om te leer nie!

So, hier is my Phalaenopsis, en soos my dogters is daar ‘n soort mistiek rondom hulle wat hulle uitsonder van ander. Hulle is elegant, uniek, en maklik om te versorg.

Ek hoop om hierdie keer ‘n pad te stap met die blom…. ter herinnering aan my pragtige blomme-dogters.

xxx

O, die liewe geduld!

GEDULD. Nie een van my sterk punte nie. As jy in ‘n plek soos Postmasburg bly, moet jy baie geduld hê. Dis asof mense hier aan vertraagde reaksie ly. Veral die besighede. Mense is traag om jou te help. Party is sommer net moedswillig omdat jy blank is. Ek vat my kar in vir ‘n was. Tweede op die lys, dit behoort so ‘n uur, uur en ‘n half op die langste, te vat. Ek gaan eet solank ontbyt by Spur, maak ‘n draai by Jet en Shoprite, gee hulle genoeg tyd om klaar te maak. Wragtig, hulle druk 9 voertuie voor myne in! Ek het dit heeltemal verloor. Kry my geld terug en ry na die ander karwas toe. Vandag werk daar net drie mense in plaas van die 7 wat altyd hier is. Hier staan 3 karre, myne in die wash bay. ‘n Halfuur later besef die een hy moet nou seker myne ook begin was…. en hy was so laaaaaaaaank!! Dan eers na die dry bay toe vir binne se skoonmaak. Intussentyd voel dit vir my ek kan ‘n dosyn eiers in my alie gaarmaak! My hele dag is in sy glory in en ek is so geïrriteerd ek kan ‘n ystervark heel insluk. Kry net flippen lewe en maak klaar!!

Ek het nie tyd vir hierdie mentaliteit wat mense het en dink hulle hoef die minimum te doen, maar die wêreld skuld hulle alles nie. Hierdie slagoffer-mentaliteit en “ek is geregtig op….”-mentaliteit. Roer jou agterstewe, man, doen jou werk en maak iets van jouself soos die res van ons.

G’n wonder ek ontwikkel al hoe meer die neiging om net elke dag ‘n paar mense te verwurg nie!

Nie baie voorbeeldig van my nie, né.

Positiewe veranderinge

Môre is Sondag. Ek tree uit as orrelis by een van die twee gemeentes by wie ek die afgelope vier jaar uitgehelp het. “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd.”(1) Die tyd het aangebreek vir my om die finale noot te laat klink. Kerktoe gaan elke Sondag is vir my ‘n belangrike saak, maar ek wil nie net kerk toe gaan om die getal vol te maak nie. Ek wil gaan omdat ek voedsel vir my siel nodig het. Die musiek is ‘n bysaak. Maar om Sondag na Sondag in ‘n plek te gaan sit waar my siel meer skade ly as goed, dan is dit ‘n teken dat dit tyd geword het om aan te beweeg. En dis nie science fiction nie. Elke verandering in ‘n mens se lewe begin met ‘n keuse dat jy óf iets gaan begin doen…. óf dat jy gaan ophou om iets te doen.

Ek het die afgelope tyd ‘n paar veranderinge gemaak, en dit was bloot ‘n kwessie van: vat net weer ‘n bietjie tyd en doen dinge vir jouself. Kry negatiewe mense en dinge van jou nek en rug af. Mense, veral, wat knaend negatief is of hulself met negatiwiteit omring sien nie die mooi en goed in die lewe raak nie. Aan die anderkant, as jy positief leef, begin jy daaglikse met meer positiewe situasies, geleenthede en mense te doen.

Buiten om af te skaal van die orrelspeel, het ek nog ‘n positiewe verandering in my leefstyl gemaak, naamlik om soggens vroeër op te staan en gim toe te gaan voor werk. Ek is nou amper vyf jaar in Postmasburg, en ek het 5 jaar laas geoefen. Dit doen my nie net fisies goed om te oefen nie, maar dit gee my ook ‘n doel; ‘n dryfkrag; dit leer my dissipline. ‘n Mens voel net soveel beter oor jouself as jy oefen en jou brein skei daai happy hormoon (endorfiene) af. Dis die beste anti-depressant op my lys van anti-depressante!

Nog iets waaraan ek verander is my ondersteuningsnetwerk. Ek elimineer mense wat nie goed is vir my gemoed nie, en fokus eerder op diegene wat addisionele voordele verskaf soos byvoorbeeld geestelike en morele ondersteuning. Al verkeerd ek nie noodwendig sosiaal met hulle nie, is dit nog steeds beter as om my op te hou met mense wat my meer frustrasies besorg as enige iets anders.

Elimineer ook die minder belangrike dinge. Ek begin nou te fokus op dit wat vir MY belangrik is. Nie op dit wat ander mense dink belangrik is nie. Dit gebeur dikwels dat ons te veel hooi op ons vurke laai, en OORlaai. Dan eindig ons op om dinge te doen wat nutteloos en futiel is, omdat ons toegelaat het dat daar te veel jakkalse in ons wingerde ingesluip het…. en gewoonlik gaan dit om ander mense tevrede te stel.

Ek probeer om ook nie meer reusetreë vorentoe te gee nie. BABATREETJIES. Dis die geheim. Want dit gebeur dikwels dat wanneer ‘n mens na die groter prentjie kyk, dan raak jy oorweldig. So, breek net die groter prentjie af tot sistematiese, haalbare doelwitte. Dit sal jou rede gee om elke dag breed te glimlag!

Die punt is, elke positiewe verandering kring uit en maak sy eie kettingreaksie. Een verandering op ‘n slag en jy sal verbaas wees hoe jou lewe oor ‘n week, of ‘n maand, of ‘n jaar lyk. Maak skoon dit wat jy NIE wil hê nie. Moenie wag vir iemand anders om iets te doen nie; doen dit self en neem die eerste stap na ‘n positiewe leefstyl. Verander wat jy kan verander. Aanvaar wat jy nie kan verander nie. Verwyder jouself van die onaanvaarbare. Jy sal nooit uit daardie groef in jou lewe kom as jy nie die besluit neem dat dit nie is waar jy wil wees nie.

xxx

NS: O ja, en die kleur van November is goud+geel….

November

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

(1)Prediker 3