Soos mens ouer word

Ek is besig om vir my “boekmerke” bymekaar te maak. Spesifiek rondom die kwessie van ouer word. Nóú vs. twintig jaar terug. Dinge het verander. Ek het verander. Drasties. So ek het bietjie gaan rondgrawe en ge-brainstorm, en dit geselekteer wat op my persoonlik van toepassing is. Ek het selfs vir my ‘n dagboek aangeskaf waarin ek alles neerpen sodat ek dit kan lees op die minder goeie dae wanneer dinge vir my nie sin maak nie. Want ouer word is nie meer ‘n probleem nie, dis ‘n avontuur.

*****

Soos mens ouer word begryp jy al hoe meer dat dit nie saakmaak wat jy besit nie. Dit gaan oor die persoon wie jy is.

Soos mens ouer word besef jy dat ware geluk nie gaan oor hoeveel jy verdien of hoe groot jou huis of hoe duur jou motor is nie. Dit gaan oor die innerlike vrede en vergenoegdheid wat jy in jou hart en siel vind.

Soos mens ouer word kan jy baie duidelik die verskil voel tussen mense wat regtig vir jou omgee, en mense wat net gerieflikheidshalwe omgee.

Soos mens ouer word kan jy sien wie het ‘n goeie opvoeding gehad, en wie nie.

Soos mens ouer word wil jy deur goeie mense omring wees. Mense wat goed is vir jou; mense wat goed doen aan jou; en mense wat jou siel goeddoen.

Soos mens ouer word begin doen jy dinge in tru-rat. Jy begin mense uit jou lewe sny en jou Kersfees-lys raak aansienliker korter omdat jy besef die dinge wat jy die graagste wil hê, kan nie met geld gekoop word nie.

Soos mens ouer word het jy al minder die behoefte om in alles eerste en die belangrikste te wees.

Soos mens ouer word leef jy jou lewe al meer op jou eie terme – sonder om verskonings te maak of skuldig te voel. Gaan teen die norm. Weier om saam met die stroom te swem; om in te pas. Loop die smal pad, of kap jou eie paadjie deur die wildernis oop. Lag in die gesig van teëspoed.

Soos mens ouer word struikel jy nie meer oor die nonsens en kleinighede wat onverwags oor jou pad kom nie. Jy loop sommer bo-oor.

Soos mens ouer word het jy al minder lus vir oppervlakkige, platoniese vriendskappe, geforseerde interaksies en onnodige ligtelike gesprekke. Jy het jou groepie vriende saam met wie jy grasieus oud word; jou hartsmense met wie jy alles kan deel en nog steeds vir hulle die belangrikste mens op aarde is.

Soos mens ouer word besef jy dat daar altyd mense sal wees wat sal kritiseer, en niks wat jy gaan doen of sê gaan hulle van opinie laat verander nie, so jy mors nie jou kosbare tyd en energie op hulle nie.

Soos mens ouer word leer jy wat nederigheid is. Jy leer om stil te raak te midde van goed en sleg.

Soos mens ouer word en deur allerhande dinge in die lewe gaan, besef jy dat dit baie wys is om grense te stel. Trek die streep wanneer jy hom moet trek.

Soos mens ouer word raak dit al hoe makliker om weg te stap van al die dramas en die mense wat dit veroorsaak.

Soos mens ouer word kry jy meer plooie, maar minder kommer. Gryser hare, maar ‘n meer kleurvolle lewe. ‘n Ouer verstand, meer ‘n jonger gees.

Soos mens ouer word raak jy sterker – omdat jy swakheid ken. Jy raak vreesloos – omdat jy vrees ken. Jy raak wyser – omdat jy dwaasheid ken.

Soos mens ouer word raak jy nougeset in jou denkwyse en weë. Net soos ‘n mens se liggaam styf en oud raak, raak jou verstand ook verstyf. Jou sieninge raak eng. Tensy jy doelbewustelik besluit om oopkop en buigbaar te wees.

Soos mens ouer word, word dit makliker om jouself te aanvaar vir wie jy is: jou swak punte sowel as jou sterk punte. Jy voel gemaklik in jou eie vel.

Soos mens ouer word kom alle vrae in die lewe neer op die volgende: Hoe lank het ek nog oor? Wat kan ek doen met die tyd wat ek oor het? Wat wil ek doen?

*****

Word vervolg.

Xxx

Advertisements

‘n Skielike dood

‘n Skielike, onverwagse dood skud ‘n mens se wêreld gruwelooslik. Dis ‘n verlies wat nie sin maak nie. ‘n Mens besef opnuut die lewe is nie altyd regverdig nie. Soms gebeur slegte dinge met goeie mense. Familie, vriende en kollegas is nou skielik geforseer om die verlies van ‘n geliefde sonder waarskuwing in die gesig te staar.

Die tannie wat soggens saam met my werk toe ry het my vertel van haar vorige baas se vrou wat skielik oorlede is. Ek het nie veel notisie geneem nie want ek ken per slot van rekening nie die mense op die myn nie…. Of so het ek gedink.

Vanoggend stuur die myn ‘n kennisgewing uit van die vrou se roudiens wat later in die week gehou gaan word. Ek maak die epos oop en staar met skok na die foto.
Ek ken dan die vrou. Die vrou waarvan die tannie gepraat het. Samantha. Ek was op hulle troue gewees. Eintlik ken ek haar man baie beter. Nolen. Ek het jare gelede, toe my kinders nog klein was, saam met hom in die orkes gespeel toe ons in die Assembly of God gemeente in Lime Acres was. Ons het op baie plekke opgetree en vir kerkfunksies en samekomste gespeel. Hy is ‘n uitstekende musikant; een van die talentvolste mense wat ek ken en die voorreg gehad het om mee te kon saam optree.

I am so sorry Nolen, for your loss. The right words seem to elude me at this moment, but I know that Samantha lived an inspired, spiritual and happy life. Be encouraged by that. Be encouraged by her legacy. Live each day knowing that she was very proud of you and that she loved you very much. Although it’s difficult today to see beyond the sorrow, may looking back in memory help comfort you tomorrow.

“For I am convinced that neither death nor life, neither angels nor demons, neither the present nor the future, nor any powers, neither height nor depth, nor anything else in all creation, will be able to separate us from the love of God that is in Christ Jesus our Lord.” Romans 8:38-39

xxx

 

Sommer net

Na my laaste plasing tot nou toe beleef ek erge skrywersblok. My verstand voel so toe soos ‘n klei-os se agterstewe. As ek saans so deur almal se blogs blaai en deurlees dan wens ek ek was minder ernstig en perfeksionisties en “beskaafd”. Ek wens ek het die vermoë gehad om soos ander bloggers sommer net enige iets oor enige iets te kan skryf. Sommer oor alledaagse dinge. Sonder om te wonder of dit ‘n gewigtige betekenis sal dra, sonder om dit honderd maal oor en oor te lees om te kyk hoeveel foute ek gemaak het, of ek nie dalk op iemand se tone trap nie…. Dis sieldodend! Want ek kan enige tyd van die dag met myself ‘n gesprek in my kop voer asof dit uit die mode gaan, maar wanneer ek die gedagtes wil neerpen op papier slaan ek toe. Dan vind ek skielik nie die regte woorde om neer te pen nie, en alles wat ek skryf lyk so afgewater. Hoekom, vra ek myself?

Hoe simpel kan ‘n mens wees!!

Daarby kan ek seker ook die werk blameer. Vir die afgelope paar weke is ek dun gerek van al die werk. Oorwerk, oormoeg, uitgebrand. Ek kan nie meer lekker dink nie. Hoe sê daai een gesegde? Ek is so moeg, tot my moeg is moeg! Nou dis hoe moeg ek is. Ek het nou die aand lê en dink, is dit hoe my lewe moet gaan? Werk toe en terug. Mens kom moeg in die aande by die huis, maak kos, maak skoon, stort, en slaap. Dag na dag. Oor en oor. Lewe by mekaar verby. Dit is regtig soos Salomo gesê het, alles net ‘n gejaag na wind. Dit put my uit.

En dan weet ek nou nog nie wat met my kontrak gaan gebeur nie. Ek het nog nie eers die nuwe kontrak geteken nie – en die 6 maande is amper weer verby! Iewers in die pyplyn is daar ‘n motivering vir ‘n permanente aanstelling, maar dit kom ook nie tot uitsluitsel nie. Soveel van ongeorganiseerdheid en diskriminasie het ek nog nie teëgekom nie. My kollegas word vir opleiding in Johannesburg gestuur. Waar sit ek? Net hier vasgekluister. Want dis hoe dinge rol. Maatjies sorg vir maatjies, en die res van ons veg vir oorlewing.

Maar buiten die werk het ons so ‘n klomp probleme met die woonstel gehad. As dit nie die stort se drein is wat verstop nie is dit die  kragmeter wat foutief is en kan ons nie krag oplaai nie. Die een plug na die ander blaas of smelt. As die stoof aan is kan ons nie die ketel aansit nie. Die verwarmer en die mikrogolf kan nie gelykertyd werk nie.  My stiefpa (wat ‘n gesertifiseerde elektrisiën is) sê die ou wat die bedrading gedoen het, het nie ‘n benul gehad wat hy doen nie. En waar is diegene wat eintlik verantwoordelik gehou moet word? MIA. Missing In Action. As dit nie vir Riaan was wat alles van alles af geweet het en reggemaak het nie (op ons onkostes, I’ll have you know), weet ek nie hoe sou ons gemaak het nie. Stort se drein reggemaak. Kragboks uitgesorteer (na erge dreigemente aan die munisipaliteit). Hulle het tot vir ons ‘n vergoeding van 350 eenhede gegee vir al die ongerief! Bid jou dit aan.

Gepraat van die munisipaliteit, hier staak hulle weer. Postmasburg lyk soos ‘n hool. Rommel is oral in die dorp rondgestrooi. In die strate, op die sypaadjies, voor die winkels se deure. Dan steek hulle nog daai groot staaldromme ook aan die brand. Dit stink, dis vuil, dis vieslik. Mens sal ‘n siekte optel. Elke dag moet jy hoop en bid iemand gooi nie jou voertuig met ‘n klip nie. Want dis wat hulle doen. Hulle trek sommer los en gooi klippe of glasbottels. Net wat hulle in die hande kan kry. Kan iemand nie net ‘n bom daar gaan drop nie?!! Of ‘n skerpskutter kry om al die gemors van ontslae te raak nie!

Dankie tog, dis more Vrydag! Sleepvoet het die week darem ook amper sy dinges gesien. Saterdag gaan ons bietjie Kimberley toe vir hare sny en inkopies. Dalk gou ook ‘n fliek inwerk. Sondag het ek afgevat van die orrel speel. Dit raak ook soms te veel.. Want dis al ander dag wat ek het om te rus, en ‘n naweek is net so lank! Maar ek kry nog nie moed om heeltemal te bedank van die orrel speel nie, dis nog ‘n innerlike debatvoering.

En na al die sinnelose skrywe gaan ek my rekenaar afsit en Big Bang Theory en Friends kyk tot my oë wil toeval. Want dis my ontspanning saans na werk, wanneer ek rustig kan gaan sit en hekel met ligte komedie op tv wat my kan entertain. Ek weet nie hoe mense nog saans na dramabelaaide sepies kan kyk nie. Ek sal totaal depro raak.  So na tv gaan ek  ‘n paar bladsye lees uit ‘n nuwe e-boek wat ek aangeskaf het, The Science of God. Nou DIT is ‘n goeie manier om die dag af te sluit.   Dit voel of ek vir ewig deur die skrywer se brein kan rondkrap!  En niks te worrie oor die dag van môre nie. Want elke dag sorg vir homself.

Xxx