Vir al die vervreemde mammas op moedersdag

Hoe moet moedersdag vir jou voel as jy ‘n ma is, maar jou kinders wil niks met jou te doen hê nie? Vir hulle is jy so goed soos dood; jou naam en bestaan uitgewis uit hul gedagtes. As lid van hierdie stam leef ek die revolusionêre realiteit.

Anna Jarvis was die stigter van moedersdag in 1914, ter ere aan alle moeders. Sy was self ‘n kinderlose tannie van baie niggies en nefies; en sy het moedersdag tot stand gebring om alle moeders te eer. Dit sluit in al die tannies en groottannies en oumas en peetma’s en vroue in die algemeen wat hul liefde en aandag vir kinders uitgiet wat nie hul eie is nie.

Om ‘n ma te wees en om moederlik te wees, is nie altyd dieselfde nie. Baba’s word gebore uit die baarmoeder. Moederlikheid word gebore uit die siel. Daar is baie maniere om ‘n ma te wees. Ek weet van ma’s wat kinders het, maar wat nie verdien om kinders te hê nie; wat ‘n klad op naam van moederskap is. Dan kry jy vroue wat met ‘n instinktiewe moederlikheid gebore is en ‘n hunkering en strewe na ‘n kindjie van haar eie het, maar nie kinders kan hê nie.

Almal kan ma’s wees, maar nie almal is moederlik nie.

Moedersdag sonder ons kinders bly maar ‘n swaar dag. Met al die moedersdag promosies en advertensies voel ‘n mens “uit” en “minder as”. Want moedersdag is ‘n harde realiteit dat ons wel eens op ‘n tyd die voorreg gehad het om moeders te kon wees. Vir my het moedersdag ‘n dag geword wat my leeg laat voel, onvolledig, hartseer, alleen, agtergelaat, onbelangrik, verwerp….

….Maar dis uit hierdie ervaring en uitkykpunt dat ek vir myself reminders begin neerskryf het, om my te herinner wie ek is en wie ek kan wees op hierdie dag en die dae wat voorlê soos die Here bepaal.

1) Die Merriam-Webster Dictionary definieer moederskap as: “om geboorte te gee”, “om te versorg en te beskerm”. Sinonieme hiervan is om te baar, genereer, aflewer, produseer…. Die idee hieragter is dat moederskap nie beperk is tot tyd en plek nie. Die Here het my goed genoeg geag om geboorte te skenk aan twee pragtige dogters. Hy het my ‘n moeder gemaak. Hy het my hulle moeder gemaak. Dis ‘n realiteit wat niemand ooit van my – of van hulle – sal kan wegvat nie. Al is ons wêrelde van mekaar geskei, ek is en bly hulle ma. Dis nie net ‘n geestelike feit nie, dis ook ‘n biologiese, wetenskaplike, en mediese feit.

2) Nie net is moederskap nie beperk tot tyd en plek nie, moederskap is nie beperk net tot kinders nie. Na die vervreemding het ek so apaties geword teenoor die samelewing, ek wou vir geen dier of mens of ding naby my omgee of sorg nie. Die skeiding / verwydering was te seer, tog het die hunkering om vir iets of iemand te sorg en om te gee, diep gesetel gebly.

Ek het by myself begin. Na myself begin kyk. Dr Phil het ‘n standpunt wat sê: “Take care of yourself before you take care of others.” Dis so waar. In die som van wat gebeur het, is ek immers die een wat agtergebly het. So ek het net myself oor. Sorg vir myself. Gee om vir myself. Geestelik, emosioneel, fisies.

Die wêreld het iemand soos ek nodig. Die werk het my nodig. My familie en vriende het my nodig. Ek verdien om goed te voel en goed te leef. Die Here het my ‘n moederlike kanaal gemaak waardeur Sy liefde en lig kan vloei. Ek kan nog steeds ‘n kanaal wees. Wanneer ‘n mens verlore en bemoeid voel, is die beste manier om na jou siel om te sien, om in “tune” te kom met die moederlikheid binne-in jouself – en moederlik te wees met jouself. Dis die moederlike wysheid en instink in ons wat ons kan vertrou, want dis die moeder in ons wat ons nooit sal verlaat of verwerp nie en wat altyd by ons bly.

3) Ons kry elke dag met mense te doen. Ek, wat ‘n privaat en teruggetrokke en afgesonderde mens is, het net een dag besef dat (of ek dit nou wil weet of nie), ek gee elke dag ‘n bietjie van myself vir die mense met wie ek te doen kry. Na die vervreemding het ek so baie teruggehou – liefde, deelname, betrokkenheid, toewyding…. omdat ek vasgeklou het aan verwyte en vrese. Ek was altyd ‘n gee-mens, maar die afgelope paar jaar sukkel ek daarmee omdat ek begin uitgeput en ontneem / beroof gevoel het. Emosioneel laat ek nie mense naby my toe nie, en ek raak ook nie emosioneel betrokke by ander mense nie.

Onder swaar boeie vasgevang en beperk sodat ek nie volle toegang het tot my vermoëns om te gee of te ontvang nie…. Nogtans kan ek van die bietjie gee wat ek het. Want God dra ons deur met ons min en al. En vir elke bietjie wat ek elke dag kan gee, kom dit veelvoudig terug. Net dit is genoeg om die gebreekte kruik stadig weer vol te begin maak.

4) Ek is bevoorreg en dankbaar dat ek nog my eie ma het om te eer op moedersdag. Sy wat deur dik en dun, deur goed en sleg, deur alles en nog wat by my gestaan het en nooit minder lief vir my was nie.

So, al is moedersdag vir my baie pynlik en nie ‘n baie positiewe dag nie, kan ek kies om hierdie dag op gelukkiger maniere te ervaar. Dit hoef nie net in die een vorm gevier te word waaraan ek altyd gewoond was nie, maar vanuit die donker leemtes kan ek dit transformeer na ‘n hoogtepunt wat die oorvloed van liefde en seën wat wel teenwoordig is in my lewe, te vier.

Laat jou moed, jou hoop, jou uitmuntendheid, jou medelye, jou geesdrif, jou intellek en jou mensliewendheid skyn en jy sal die wêreld verlig!

En vir al die wonderlike mamma’s daarbuite wat selfloos so baie van hulleself gee en opoffer, wil ek graag sê:

b479cda04089e2c3473a8aeb64a49f41

Advertisements

11 thoughts on “Vir al die vervreemde mammas op moedersdag

  1. Ek wens vir jou dat hierdie moedersdag anders sal wees. Positief anders. Totaal anders. Ek wens vir jou dat hierdie moedersdag die begin van ‘n nuwe nuut sal wees, dat dit ‘n ommekeer sal wees, dat jy weer gegun sal word om waarlik moeder te wees vir jou kinders.

    Liked by 1 person

  2. Andorize, jy ís ń mamma. Niemand kan dit van jou af wegvat nie. Ons sal Sondag aan jou dink; aan jou en al die mas wat nie by hul kinders is nie. Of die kinders nou ver bly, en of die kinders van julle vervreemd is. Jy bly ń mamma, en niemand kan dit van jou wegvat nie.

    Liked by 1 person

  3. Pragtig – bere hierdie asseblief vir jou dogters, ek voel bitter jammer vir hulle, want hulle is ontneem van ‘n ma duisend.
    Hierdie is rerig so mooi ode aan enige tipe moeder.
    Gelukkige Moedersdag aan jou Andorize, ek sal ‘n bid, bid vir jou op hierdie Sondag en ek weet jou verhouding met beide jou dogters sal in die toekoms herstel word, ongeag dit wat die vyand van jou kom roof het!!!

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s