Aan Anike op haar 17e verjaardag

My liefste dogter,

DSCN3891

Daar is so baie dinge wat ek graag vir jou wil hê,
So baie wense vir jou wat ek vir jou in my hart koester.
Ek bid vir jou vir trots in die wete waar jy vandaan kom,
En vrede in die wete wie jy nou is.
Ek bid vir jou vir krag vir elke uitdaging,
En wysheid om die regte besluite te neem.
Ek bid vir jou vir tevredenheid as jy jou doelwitte bereik,
En vir vergenoegdheid in die eenvoudiger dinge van die lewe.

Baie geluk met jou verjaarsdag! Mag jy altyd onthou hoe oneindig lief ek jou het, en dat jy ‘n pragtige en unieke persoon is. Ek is trots om jou my dogter te kan noem.
Ek onthou dat Psalm 1 altyd jou gunsteling psalm was om te lees, en dit is my gebed vir jou op hierdie dag. Mag dit altyd in jou hart en gedagtes vasgebind wees.

“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;
Maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag.
En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.
So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi.
Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie.
Want die Here ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.”

Love you to the moon and back,
Mamma xxx

Advertisements

Vir al die vervreemde mammas op moedersdag

Hoe moet moedersdag vir jou voel as jy ‘n ma is, maar jou kinders wil niks met jou te doen hê nie? Vir hulle is jy so goed soos dood; jou naam en bestaan uitgewis uit hul gedagtes. As lid van hierdie stam leef ek die revolusionêre realiteit.

Anna Jarvis was die stigter van moedersdag in 1914, ter ere aan alle moeders. Sy was self ‘n kinderlose tannie van baie niggies en nefies; en sy het moedersdag tot stand gebring om alle moeders te eer. Dit sluit in al die tannies en groottannies en oumas en peetma’s en vroue in die algemeen wat hul liefde en aandag vir kinders uitgiet wat nie hul eie is nie.

Om ‘n ma te wees en om moederlik te wees, is nie altyd dieselfde nie. Baba’s word gebore uit die baarmoeder. Moederlikheid word gebore uit die siel. Daar is baie maniere om ‘n ma te wees. Ek weet van ma’s wat kinders het, maar wat nie verdien om kinders te hê nie; wat ‘n klad op naam van moederskap is. Dan kry jy vroue wat met ‘n instinktiewe moederlikheid gebore is en ‘n hunkering en strewe na ‘n kindjie van haar eie het, maar nie kinders kan hê nie.

Almal kan ma’s wees, maar nie almal is moederlik nie.

Moedersdag sonder ons kinders bly maar ‘n swaar dag. Met al die moedersdag promosies en advertensies voel ‘n mens “uit” en “minder as”. Want moedersdag is ‘n harde realiteit dat ons wel eens op ‘n tyd die voorreg gehad het om moeders te kon wees. Vir my het moedersdag ‘n dag geword wat my leeg laat voel, onvolledig, hartseer, alleen, agtergelaat, onbelangrik, verwerp….

….Maar dis uit hierdie ervaring en uitkykpunt dat ek vir myself reminders begin neerskryf het, om my te herinner wie ek is en wie ek kan wees op hierdie dag en die dae wat voorlê soos die Here bepaal.

1) Die Merriam-Webster Dictionary definieer moederskap as: “om geboorte te gee”, “om te versorg en te beskerm”. Sinonieme hiervan is om te baar, genereer, aflewer, produseer…. Die idee hieragter is dat moederskap nie beperk is tot tyd en plek nie. Die Here het my goed genoeg geag om geboorte te skenk aan twee pragtige dogters. Hy het my ‘n moeder gemaak. Hy het my hulle moeder gemaak. Dis ‘n realiteit wat niemand ooit van my – of van hulle – sal kan wegvat nie. Al is ons wêrelde van mekaar geskei, ek is en bly hulle ma. Dis nie net ‘n geestelike feit nie, dis ook ‘n biologiese, wetenskaplike, en mediese feit.

2) Nie net is moederskap nie beperk tot tyd en plek nie, moederskap is nie beperk net tot kinders nie. Na die vervreemding het ek so apaties geword teenoor die samelewing, ek wou vir geen dier of mens of ding naby my omgee of sorg nie. Die skeiding / verwydering was te seer, tog het die hunkering om vir iets of iemand te sorg en om te gee, diep gesetel gebly.

Ek het by myself begin. Na myself begin kyk. Dr Phil het ‘n standpunt wat sê: “Take care of yourself before you take care of others.” Dis so waar. In die som van wat gebeur het, is ek immers die een wat agtergebly het. So ek het net myself oor. Sorg vir myself. Gee om vir myself. Geestelik, emosioneel, fisies.

Die wêreld het iemand soos ek nodig. Die werk het my nodig. My familie en vriende het my nodig. Ek verdien om goed te voel en goed te leef. Die Here het my ‘n moederlike kanaal gemaak waardeur Sy liefde en lig kan vloei. Ek kan nog steeds ‘n kanaal wees. Wanneer ‘n mens verlore en bemoeid voel, is die beste manier om na jou siel om te sien, om in “tune” te kom met die moederlikheid binne-in jouself – en moederlik te wees met jouself. Dis die moederlike wysheid en instink in ons wat ons kan vertrou, want dis die moeder in ons wat ons nooit sal verlaat of verwerp nie en wat altyd by ons bly.

3) Ons kry elke dag met mense te doen. Ek, wat ‘n privaat en teruggetrokke en afgesonderde mens is, het net een dag besef dat (of ek dit nou wil weet of nie), ek gee elke dag ‘n bietjie van myself vir die mense met wie ek te doen kry. Na die vervreemding het ek so baie teruggehou – liefde, deelname, betrokkenheid, toewyding…. omdat ek vasgeklou het aan verwyte en vrese. Ek was altyd ‘n gee-mens, maar die afgelope paar jaar sukkel ek daarmee omdat ek begin uitgeput en ontneem / beroof gevoel het. Emosioneel laat ek nie mense naby my toe nie, en ek raak ook nie emosioneel betrokke by ander mense nie.

Onder swaar boeie vasgevang en beperk sodat ek nie volle toegang het tot my vermoëns om te gee of te ontvang nie…. Nogtans kan ek van die bietjie gee wat ek het. Want God dra ons deur met ons min en al. En vir elke bietjie wat ek elke dag kan gee, kom dit veelvoudig terug. Net dit is genoeg om die gebreekte kruik stadig weer vol te begin maak.

4) Ek is bevoorreg en dankbaar dat ek nog my eie ma het om te eer op moedersdag. Sy wat deur dik en dun, deur goed en sleg, deur alles en nog wat by my gestaan het en nooit minder lief vir my was nie.

So, al is moedersdag vir my baie pynlik en nie ‘n baie positiewe dag nie, kan ek kies om hierdie dag op gelukkiger maniere te ervaar. Dit hoef nie net in die een vorm gevier te word waaraan ek altyd gewoond was nie, maar vanuit die donker leemtes kan ek dit transformeer na ‘n hoogtepunt wat die oorvloed van liefde en seën wat wel teenwoordig is in my lewe, te vier.

Laat jou moed, jou hoop, jou uitmuntendheid, jou medelye, jou geesdrif, jou intellek en jou mensliewendheid skyn en jy sal die wêreld verlig!

En vir al die wonderlike mamma’s daarbuite wat selfloos so baie van hulleself gee en opoffer, wil ek graag sê:

b479cda04089e2c3473a8aeb64a49f41

Die storie van my tande

Dit het begin met sensitiewe en bloeiende tandvleis. Gingivitis.

Toe begin die tande losraak en uitmekaar skuif. Daar was ‘n gaping tussen my voortande wat net groter en groter geword het, terwyl my selfbeeld al meer en meer gekrimp het. Ek het al minder en minder gepraat en gelag. Mense vermy. Want ek was te skaam om my mond oop te maak. Dit was vir my ‘n geweldige vernedering dat wanneer ek my mond oopgemaak het, mense altyd heel eerste na my mond gekyk het waar die gaping was. Dis nie ‘n lekker gevoel nie, want ek was altyd bewus daarvan. Ek het geen selfvertroue gehad nie.

Toe val daar ‘n tand uit. En nog een. Een vir een het my tande begin losraak. Die tandarts het probeer red wat daar te redde was, maar tevergeefs. Verlede jaar het sy gediagnoseer dat ek ‘n toestand van Advanced Periodontitis het en aanbeveel dat al my tande verwyder word. En dis nie dat ek nie my tande versorg het nie, inteendeel. Ek is te gesteld op my voorkoms en het my tande goed versorg. Maar daar was geen verweer teen die genetiese siekte nie.

En so het dit gebeur dat ek verlede jaar Oktober, op ouderdom 41, ‘n totale tandekstraksie van die bo en onderkaak moes ondergaan het. Hulle noem dit ‘n “immediate fit” – die ekstraksie van al jou tande, en die onmiddellike passing van ‘n volledige stel prostetiese tande (algemeen meer bekend as “vals tande”). En nie onder narkose nie hoor, sommer net so in die stoel. By my volle bewussyn. Vir iemand so pieperig soos ek wat ‘n absolute fobie het vir dokters en naalde, was die hele idee en die hele proses vir my geweldig traumaties. Ek het nie geweet hoe om vrede te maak met die feit dat ek vir die res van my lewe sonder my eie tande oor die weg sou moes kom nie. Dit was seer, en ek het aanvanklik soos ‘n hamster gevoel met ‘n mondvol albasters. Maar my grootste vrees was dat ek met ‘n gebrek sou leef. Ek was bang nie net my mond nie, maar my hele gesig gaan “vals” lyk…. Die vrees van enige prostetiese pasiënt.

Dis nou 6 maande later. Ek het nog nie ‘n oomblik teruggekyk nie, want my nuwe tande was van dag een af perfek. Ek was gister vir my eerste “re-lining” en opvul (kunstande moet binne ses tot agt maande na die passing opgevul word, want in daardie tydperk krimp jou kakebeen relatief baie as gevolg van ‘n gebrek aan ondersteuning van natuurlike tande). As ek net dink aan die geweldige beperkinge waarmee ek voorheen moes saamgeleef het as gevolg van die toestand van my natuurlike tande….

Alles het verander. In die begin was die veranderinge en aanpassings  drasties want natuurlik kan ek kan nie meer eet soos ek voorheen geëet het nie. Ek kan byvoorbeeld nie meer ‘n appel of ‘n ribbetjie of ‘n stuk steak hap en afbyt soos voorheen nie. Ek moet alles in kleiner stukkies sny en versigtig kou. Ek wil amper sê ek moes ‘n meer verfynde manier van eet aanleer 😁

Een van die diakens wat kort na my “operasie” huisbesoek gedoen het, het ‘n snedige opmerking gemaak en gesê: “Dis sleg. Jy is nou ‘n volwaardige kaapse hotnot.” Hy kan bitter bly wees my mond was op daardie stadium nog geswel en seer, anders het ek hom ‘n bloedbek van sy eie gegee!

Nietemin. Alles het ten goede meegewerk. Ek kan lag en gesels sonder om vir ‘n oomblik selfbewus te voel. Sonder om te wonder of my tande vals lyk, want al lê hulle presies gelyk soos wit klaviernote langs mekaar, lyk hulle nie vals nie. Dit lyk soos regte tande. Ek voel ‘n honderd maal beter oor myself, en ek voel meer vroulik. My selfvertroue is volkome herstel. Ek kan nie onthou wanneer laas ek so goed gevoel het soos nou nie.

Net onlangs het ‘n kollega by die werk vir my gesê: “You must smile more because you have an amazing smile!” Dankie, ek dink ook so. My mond lyk beter. My lippe lyk voller. Ek voel jonk van gees.

So, vir diegene daarbuite soos ek wil ek net bemoedig: Moenie dat die stigmas van vals tande jou onderkry nie. Dis beter om vrede te maak daarmee – ongeag wat ander mense sê – as om met die sielkundige impak te worstel van jou mond se siektetoestand. Ja, dit is ‘n baie emosionele proses. Selfs traumaties. Ek weet, want om jou eie tande te verloor is om deel van jouself te verloor. Maar die hele proses is uit en uit die moeite werd…. En die mense vir wie jy regtig saakmaak, sal deur dik en dun by jou staan en jou ondersteun, en jou aanvaar nes jy is. Bogger die res. Voor jy jou oë uitvee is jy on top of the world!

Glimlag.Met.Trots.

P.S. Dankie Riaan, dat jy so mooi na my gekyk het, en dat jy nie gril vir my tande wat snags in die glasie op die wasbak staan nie! Lovies, Gummy-bear xxx