elke seer het sy eie storie

En ‘n seer storie is wanneer mense jou in die rug steek…. vriende, familie, kollegas, wederhelftes, kinders…. Mense met wie jy nou ‘n pad begin stap het, of al lewenslank ‘n pad mee stap. Mense wat jy nou leer ken het, of jou lewe lank al ken. Mense wat jy vertrou. Met wie jy jou hart en jou lewe gedeel het. Mense van wie jy dit die minste verwag.

Dis nie lekker as mense jou in die rug steek nie. Dit gooi jou hele lewensopvatting en sieninge omver, en sny jou hart in skerwe. Maar nie net breek dit jou hart nie, dit verdonker jou siel. Jy vergeet nooit die pyn nie, soos ‘n miswolk wat altyd oor die dieptes van jou siel hang. Jy verloor vertroue in mense. Begin twyfel in jouself, jou oordeel, jou emosies. Dis soos om deur ‘n slang gepik te word en jy wonder hoe jy dit nooit sien kom het nie, hoekom jy nie die tekens gesien het nie. Jy begin om jouself te blameer; om op te hou glo in liefde en lojaliteit, want dit verblind jou net. Jy verwyt jouself omdat jou gevoelens jou verraai het. Jy skakel stadig maar seker af totdat die mooiste en beste dele van jouself bitter word. Jy vra en jy vra, maar die antwoorde kom nie. Niks maak sin nie….

Ek worstel met die gedagte dat ek van my kinders vervreem is – dat hulle my summier afgesny het – en ek worstel ook met die gedagte dat ek van my pa vervreem is – dat hy my afsny. Wend geen poging aan om te versoen en te rekonsilieer nie. Grootliks as gevolg van ander mense se invloed, en ek verstaan nie hoekom mense so is nie. Hoekom moet daar altyd mense wees wat ander wil trap en onwaardig laat voel. Wat bereik hulle daardeur? Probeer hulle goed voel oor hulleself of wat? Is dit wat Jesus bedoel met, ons moet soms van ons families afstand doen? Van mense afstand doen? Voorsien Hy soms dat daar dinge is wat verwydering tussen ons en mense kan bring…. sodat ons ons regte familie en vriende in geloofsgemeenskappe kan vind? Is dit hoekom die kerk Sy liggaam genoem word?

Ek is tot in my siel in moeg vir ‘n rugstekery (dis iets wat ‘n mens eventueel aftakel). Ek is net moeg vir “fake” mense met lafhartige en duistere motiewe. Asof dit nie genoeg in my persoonlike lewe gebeur nie, kry ek dit by die werk ook van alle kante. Mens se hand van vrede word net vir jou teruggegooi en jy word heeltyd vertrap…. En ek het nie geloofsvriende hier wat my kan deurdra behalwe die een of twee wat ver van my af is nie. Dit is hartseer dat die kerke hier so lou en flou is; dat dit nie ‘n veilige hawe bied nie.

Dan moet ek myself ook daaraan herinner dat ek hierdie seer na God toe moet vat. Daar is niemand anders nie, en uiteindelik moet ek my krag en alles uit Hom put.
Net omdat ons mense goed behandel, beteken dit nie hulle gaan ons terug goed behandel nie. Net omdat ons opreg is, beteken nie mense gaan nie vir ons jok en om die bos probeer lei nie. Mense gaan soms buitensporig optree om ons tena te kom…. ek reken dis wanneer ‘n mens leer om jou nie te ontstel oor ander se rugstekery nie; dat jy die verskil leer ken tussen die waarheid en die leuen; tussen selfsug en opregtheid.

Ek reken dat ek eintlik kan dankbaar wees ten spyte van my bitterheid, te midde van my donker sielstoestand, oor die groei wat in my lewe plaasvind. Die soort groei wat my help om dinge te sien soos wat dit is en dit te aanvaar; wat gee dat ek nie na dieselfde vlak toe daal as die rugstekers en klippe teruggooi nie (want as jy die klippe waarmee jy gegooi word, optel en daarmee teruggooi, staan jy ‘grond’ af aan jou teenstanders!). Die beste reaksie is soms om geen reaksie te he nie. Dit is soos om warm kole op jou vyand se kop te hoop.

Op die ou end van die dag kan mens seker opsom dat jy nie enige iemand se spitefulgeit, haat, drama, en negatiwiteit moet toelaat om in jou pad te staan en te keer dat jy die beste persoon is wat jy kan wees nie. Ek en jy is immers die CEO van ons eie lewens, so ons het die mag om mense wat oor ons pad kom, te evalueer, te”bevorder” – of te”termineer”.

Die lewe raak nie makliker nie. Mense is onvergewensgesind teenoor mekaar. Maar iewers langs die pad vind ek tog dat my selfwaarde nie bepaal word deur ander mense se rugstekery nie. Dit word nie bepaal deur werkskollegas wat bedreig voel deur my teenwoordigheid nie. Of deur die hoeveelheid “likes” en volgelinge wat ek het nie. Watookal ‘n mens doen, goed of sleg, ander sal altyd iets negatief te se wees.

Die geheim is net om bo dit alles uit te styg. Soos olie bo water.

laat de complimenten niet naar je hoofd stijgen….

Ek het tans ‘n gesegde op my whatsapp profiel wat sê:

“Laat de complimenten niet naar je hoofd stijgen, en laat kritiek niet tot in je hart komen…”

Dis vir my so mooi. Ek wou ‘n bietjie gaan stilsit en nadink oor hierdie gesegde. Dis ‘n groot waarheid dié. Want in alles wat ons elke dag doen en waar ons beweeg – werk, kerk, onderhoude, gesprekke, familie, vriende, vyande – is en word ons blootgestel. Ons wil net ons beste voetjie voorsit en ons beste lewer. Niemand wil agter in die ry staan nie, en dis lekker om so af en toe te hoor: “Mooi so” of “Jy doen goed” of selfs net “Dankie”. Die groot geheim is egter om nie ons lewens te sentreer rondom die pluimpies of kritiek van ander nie.

Moenie dat komplimente na jou kop toe gaan nie, en moet ook nie dat kritiek ‘n broeiplek in jou hart maak nie.

Ek het op die harde manier geleer hoe gevaarlik dit is om die stabiliteit van ‘n mens se identiteit op die wisselvallige opinies van ander te bou. Dis ‘n wilsbesluit wat ‘n mens elke dag moet neem om in jou hart en verstand te besluit wie jy is…. en wie s’n jy is. Net God kan hierdie waarheid in ons vasmaak, terwyl ons die opinies van ander sif en filtreer in die realiteit dat, watookal hulle vir of oor ons sê, dis nie noodwendig waar nie. En as dit waar is, moet mens dit sien as ‘n moontlike geleentheid op verandering in jouself…. Maar wat ander mense vir of oor jou sê, is nooit ‘n definisie van wie jy werklik is nie.

Aan die ander kant, terwyl ons ook die positiewe terugvoering geniet, moet ons weier om daardeur opgeblaas te word. Volgens die een of ander internet-pedia, beteken “na jou kop toe gaan”, om ‘n gesindheid van hoogmoed, arrogansie en selfgesentreerdheid aan te neem. Dit is wanneer ‘n mens toelaat dat ‘n verandering in spesifieke omstandighede jou persoonlikheid, oortuigings en beginsels verander. Waar iemand voorheen byvoorbeeld nederig en saggeaard en vriendelik was, word hy of sy dalk arrogant en self-gesentreerd; en dring daarop aan om beter en anders as ander behandel te word. So iemand soek erkenning en leef met die oortuiging dat hy of sy nie reëls hoef na te kom nie; en ignoreer ander mense se regte, behoeftes, en gevoelens blatant. ‘n Persoon wat iets na sy kop toe laat gaan – deur dinge soos geld, roem, status, ens. – verwag ook skielik ‘n ander standaard van leefwyse, en beskou sy/haar ou vriendekring of familie nie langer as van toepassing (of welkom) in sy/haar nuwe leefwyse nie.

Interessant dat “komplimente” en “kop” saam gaan…. teenoor “kritiek” en “hart”. Ek dink nou aan daardie teksvers van Spreuke 4:23 wat sê: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” Die hart breek tog so maklik en kry so maklik seer. Daar sal altyd mense wees wat ons wil afkraak of afbreek. Dit hang van ons af om te besluit of ons gaan toelaat dat ander mense ons gevoelens dikteer of nie. Bewaak jou hart. Meer as alles. Ek reken die verstand sal daarby inval.

So, om alles op te som dink ek dis veilig om te sê: Goed of sleg, moet dit nie persoonlik vat nie. Dis per slot van rekening jou realiteit, nie ander s’n nie.

Ek hoop dit maak sin.

xxx

 

wat as dinge nie uitwerk nie

My kollega het vandag met my gedeel dat sy deur ‘n slegte tyd in haar lewe gaan. Dinge het nie uitgewerk soos dit moet nie…. of eerder, nie soos sy gedink het dit sou nie. Dinge het skeefgeloop oor Desembermaand, al haar planne daarmee heen. Sy moes vinnig haar opsies herevalueer vir die nuwejaar wat op die drumpel gestaan en wag het.

Ek kan met haar situasie identifiseer. Hoeveel maal was ek self nie daar nie…. in onsekerheid gedompel – hoe gaan dinge uitwerk? Wat wag volgende? Wat as….. Hoe gaan ek maak? Wat moet ek doen? Wat is die volgende stap?

My kontrak by die myn maak klaar einde Januarie. Ek weet nie of hulle dit gaan verleng of nie, maar ek moet my opsies oop hou. As dit verleng word, het ek vir die volgende 6 maande werk. Of dalk permanent. En as dit nie verleng word nie, is ek werkloos…. en werkloosheid tap my moraal totaal en al. So, ek weet nie hoe dinge gaan uitwerk nie. Die werk is vir my bitter belangrik op hierdie stadium, maar ek kan nie seker wees oor wat gaan gebeur nie. Ek het al geleer om nie my hart op iets te plaas nie, of nie te opgewonde te raak nie. Die teleurstelling as dinge nie uitwerk nie, is te groot. Ek het as gevolg van te veel teleurstellings ‘n baie siniese en skeptiese mens van aard geword, maar dit beteken nie ek is nou noodwendig reg vir nog ‘n grootskaalse teleurstelling nie.

Tye van onsekerheid kan soms nogal ongemaklik raak. ‘n Mens probeer jou uiterste bes om vol vertroue te bly, om sterk te bly staan…. maar hier in ons onderbewussyn skuil die twyfel en wag vir die geleentheid om in te sluip en ‘n sluier oor ons gesig te trek.

Baiekeer dan dink ons, ons moet meer beheer oor ‘n situasie uitoefen en aan ‘n plan dink om die situasie ten gunste van onsself te beheer. Ons doen alles moontlik om dit te maak werk. Ons werk dag na dag, druk onsself harder en verder…. maar om een of ander duistere rede raak ons net nie ontslae van hierdie twyfel en onsekerheid wat in ons agterkoppe vassteek nie.

Toe ek vandag vir iemand genoem het dat ek nie sommer stres oor ‘n ding nie, toe lag die persoon vir my. Want almal stres een of ander tyd. Dis waar, ek stry nie. Maar ek kies om nie my energie te fokus op iets waaroor ek in elk geval geen beheer het nie.  Om dinge en mense in die lewe te kompartementaliseer, en my afstand te hou. ‘n Mens stres oor dinge wat nie uitwerk soos jy dit wou gehad het nie. Dinge het nie vir my kollega uitgewerk nie. Baie dinge in my eie lewe het nie uitgewerk nie. Daar is tog ‘n mate van onsekerheid, so wat nou?

Ek het die volgende les geleer:

Ons is nie veronderstel om ons pad uit ‘n situasie oop te kap nie. Ons is veronderstel om die pad daardeur te vertrou.

Woon en werk rustig voort, skryf die psalmskrywer. Stap die pad wat vir jou reg voel, en as jy nie seker is of dit die regte pad is nie, hou net aan met stap. Moet net nie gaan stilstaan en moed opgee nie. As jy moet stilstaan, doen dit om asem te skep en nuwe perspektief te kry – en stap verder. Vertrou dat elke liewe ding wat gebeur, jou op die een of ander manier vat na die plek waar jy moet wees. Dat alles met ‘n doel gebeur. Niks gebeur toevallig nie.

Dis moeilik om te glo dat dinge sal uitwerk soos dit moet. Dis moeilik om rustig te wees (of soos die jonger geslag sal se, te chill) oor die dinge wat in jou lewe gebeur – goed en sleg. Veral die slegte. Maar ek dink dit is nutteloos om jouself op te werk oor die dag van more. Bekommernis is soos om op ‘n wiegstoel te sit: dit gee jou iets om te doen, maar dit vat jou nerens. Ons doen onsself geen goed as ons gedagtes bly vassteek op “Wat as….” nie. Wat as dinge nie uitwerk nie. Wat as alles  uitmekaar val. Wat as my kontrak nie verleng word nie, waarnatoe gaan ek dan. Wat doen ek. Dan gaan ek nie my eie blyplek kan kry nie. Ek sal nie verder kan studeer nie. En wat as ek nie weer gou werk kry nie…. Of enige iets of iemand wat ons geneig is om oor te stres. Wat as my kinders dit nie maak nie. Wat as ek hulle nooit weer sien nie. Wat as ek siek word. Of kanker kry. Wat as ek vir die res van my lewe ‘n sukkel-bestaan moet voer.

Die lys is eindeloos. En dis ‘n uitputtende, bose maalkolk wat jou al dieper en dieper in die donker afgrond intrek. Ek sien hoe mense ten gronde gaan en verlore raak – sielsiek raak. Ek weet, ek was self daar. En die hartseer is: jy kan niks vir hulle doen nie. Dis ‘n mind-shift wat hulle self moet maak.

Ek is nie regtig ‘n gevoelsmens nie, ek glo ook nie aan ‘n gevoelsgeloof nie. Maar ek moet toegee, hoe jy voel soos wat jy deur jou daaglikse bestaan gaan, maak wel saak. En dit word altyd beinvloed deur dit waarop ons fokus, en dit wat in ons koppe aangaan. Een van die beste maniere wat my uit daardie donker maalkolk gehelp het, is om te fokus op die NOU. Dit wat voor jou is. En as jou gedagtes begin terugdwaal, dan bring jy dit terug. Neem dit gevange, en fokus op die plek en die oomblik wat voor jou is. Vat dit een dag op slag.

Just where you stand in the conflict, there is your place!

Just where you think you are useless, hide not your face!

God placed you there for a purpose, whatever it be.

Think you He has chosen you for it:

Work loyally.

-Anonymous