wegkruipertjie

Onthou julle “wegkruipertjie”? Daai speletjie wat ons as kinders gespeel het as die buurt se kinders bymekaar gekom het op ‘n Vrydag of Saterdag, en tot donker gespeel het? As kind was wegkruipertjie een van my gunsteling speletjies. Ek kon nogal goed weggekruip het, en ek het altyd die beste wegkruipplekke gehad. Ek kon stilletjies wegkruip totdat al die ander gekry was…. En as almal my kom soek het, kon ek stilletjies uitglip en myself gaan blok (onthou julle nog? “1-2-3 blok myself!”).

Die mees gevreesde woorde was: “Gereed? Hier kom ek!” As jy die woorde gehoor het, dan weet die wat wegkruip die soektog het begin, en jy wend elke poging aan om seker te maak jy word nie gekry nie. Party het sommer begin huil as hulle te gou gekry was, ander het gestry dat die een wat aan gehad het, te vinnig getel het en dat hulle nie kans gekry het om weg te kruip nie. Dit was partykeer nogal ‘n taamlike gestryery omdat die wat weggekruip het, gedink het die een wat aan was, onregverdig was. En dan, omdat hulle verontreg gevoel het, het hulle sommer die reëls van die speletjie tot hulle voordeel probeer verander. Net diegene wat dit kon regkry om goed weg te kruip en den toe te hardloop sonder om gevang te word, kon weer gaan wegkruip. Niemand wou aan hê om te gaan soek nie.

Is dit nie hoe ons die spel van die lewe ook speel nie?

Vir die meeste van ons, verander die speletjie nie veel soos ons grootword nie. Ons is nog steeds baie goed met wegkruip, maar nie meer so goed daarin om die beste wegkruipplekke te vind nie. Kom ons wees eerlik: almal van ons – of die meeste van ons – weet goed hoe om weg te kruip. Die probleem is egter: Ons kruip soms op die verkeerde plekke weg. En waar ons kies om weg te kruip, sal uiteindelik bepaal of ons oorwinning sal smaak, of neerlaag en mislukking.

Ek het baie foute in my lewe gemaak. ‘n Paar grotes. Lelik opgemors, meer as eenkeer…. En ek het altyd agter hierdie gemors weggekruip, want ek het nie geweet waar om anders heen te gaan nie. Of eerder, ek het geweet, maar ek het nie die vrymoedigheid gehad nie. Ek was te skaam.

Die lewe het ‘n manier om ons te stroop van ons wegkruipplekke, tot daar niks meer oor is nie behalwe ‘n donker, koue, uitsiglose, hooplose gat. Rock bottom. Ek het gedink ek weet wat rock bottom is, maar daar is altyd net nog ‘n rock bottom, een dieper as die vorige een. Dit het ek besef met die vervreemding van my kinders.

Wanneer ‘n mens alles verloor en jy fisies en emosioneel niks meer oor het nie, is daar een wegkruipplek wat nooit van jou gestroop kan word nie. Lees maar die psalmskrywer, Dawid, se psalms. Hy het goed geweet waarheen om sy toevlug te neem behalwe om agter sy foute en mislukkings weg te kruip. Hy het sy toevlug tot die Here geneem.

Al wat ander skuilplekke ons bied is skuldgevoelens, verwyte, skaamte, vrees, mismoedigheid…. Al dink ons ons is weggesteek, is ons eintlik blootgestel en onbeskerm. Gedurig ongelukkig oor en ontspoor deur die giftige vuurtonge van ander, wat tot op die been sny met kritiek en leuens en verwyte….

Ons kan nie die gemors van die lewe eenkant toe skuif en maak asof dit nooit gebeur het nie. Ons kan nie chaos met ‘n hammer oor die kop slaan en ignoreer nie. Maar ons kan ons toevlug neem tot die Een wat gekies het om alle chaos aan ‘n houtkruis te dra. As ek van niks anders in my lewe seker is nie, dan lê my grootste sekerheid hierin: Ek is nie die held van my eie storie nie. Ek kan myself nie red nie. Ook nie my kinders nie. In ‘n wêreld wat daagliks probeer om die reëls van die lewenspel te verander…. ek kan dit nie doen nie, al wil ek ook hoe graag.

By God is daar ‘n permanentheid; ‘n gevestigdheid; ‘n onveranderlikheid, wat geen mens of situasie kan verander nie. Ongeag van wat ons verkeerd gedoen het, waarvandaan ons kom, waar ons ons bevind het, in die skuilplek van die Allerhoogste vind ons vergifnis, genade, vertroue, hoop, sekuriteit.

In wegkruipertjie is dit slegs die een wat vir die “vyand”; die “jagter”; die “soeker” kon wegkruip sonder om gevang te word, wat die speletjie wen. Die een wat dit reggekry het om so goed weg te kruip dat die soeker naderhand moed opgegee het om verder te soek.

Het die warrelwind van chaos jou ook beet in ‘n geveg vir jou lewe? Ek weet hoe jy voel. Maar partykeer moet ons ons bokshandskoene afhaal, ons gebalde vuiste ontspan en oopmaak…. En geopende hande uitsteek. Dis okei om te sê, ek kan nie meer nie, ek weet nie meer nie, ek wil nie meer nie…. en te gaan wegkruip “in die skuilplek van die Allerhoogste”, waar jy sal “rus in die skadu van die Almagtige.”

Verseker sal Hy jou red uit die strik van die voëlvanger, en van die plaag wat vernietig. Hy sal jou oordek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou sal jou beskerm soos ‘n skild. Jy sal nie bang wees vir die skrik van die nag, of die pyle van die dag; vir die plaag wat in die donker kom of die ramp wat teen die middag verwoes nie. Al sou duisend langs jou val, of tienduisend om jou sterf, naby jou sal dit nie kom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou, en die straf van die goddelose sien…. Geen kwaad [sal] jou tref, en geen ramp naby jou tent kom nie. Want Hy sal sy engele beveel om jou te beskerm oral waar jy gaan. Hulle sal jou op die hande dra sodat jy nie jou voet teen ‘n klip stamp nie. Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom verlos; omdat hy my Naam ken, sal Ek hom beskerm. Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel. Ek sal hom ‘n lang lewe gee, en hy sal my verlossing sien.”

(teksgedeelte: Psalm 91, NLV)

Advertisements

2 thoughts on “wegkruipertjie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s