Rus In Vrede, Xenia

Wanneer ‘n geliefde afsterf, word ons verlies tegemoet gekom met simpatie, troos, en woorde van meegevoel. Ons word toegelaat om te rou. Ons word toegelaat om te huil. Ons word toegelaat om deur ons emosies te werk.

Maar praat met troeteldier eienare wat ‘n troeteldier verloor het, en jy hoor ‘n heel ander storie. Baie sal vir jou sê dat die meeste mense nie die intensiteit van hulle hartseer verstaan nie. Party ervaar selfs die nare onsensitiwiteit van ‘n opmerking soos: “Hoekom kry jy nie net vir jou ‘n ander troeteldier nie?”

Om oor die verlies van ‘n troeteldier te rou is nie net pynlik as gevolg van die verlies self nie, dit strek dieper. Ons rou eintlik oor ‘n paar verliese op een slag. Ons troeteldiere voorsien vir emosionele reaksies wat ongeremd is deur besorgdheid oor hoe hulle gesigsuitdrukkings vir ander lyk. Ons menslike verhoudings is nie eers so eenvoudig nie want dit is deurtrek met vrese en angs en kommer wat dikteer hoe ons optree en wat ons met mekaar deel. Ons troeteldiere veroordeel nie ons onsekerhede en ons swakhede en ons foute nie. Hulle aanvaar ons soos ons is – onvoorwaardelik.

abcd0008-2Vandag moes ons met swaar gemoedere afskeid neem van Xenia…. die Bokser wat my ma sewe jaar gelede vir Manée gegee het…. die weeshond wat by my agtergebly het toe Manée en Anike die huis verlaat het…. daarna op die plaas by my ma gaan bly het toe ek my woonstel in Kimberley moes opgee om in Postmasburg te kom werk, en nie ‘n plek kon kry om haar by my te hou nie…. die troeteldier wat die lig in ons lewens was van dag een af…. die laaste wat ek en my ma van die kinders oorgehad het.

‘n Paar weke gelede is Xenia gediagnoseer met kanker. Vermoedelik limfklierkanker. Nie dat sy enigsins sieklik gelyk het nie, sy was deurentyd haar lawwe, simpel, pure Bokser self. Maar die kanker het sy tol geëis, die medikasie moes inforseer geword het, en Xenia het vir die laaste week niks geëet nie. Sy het sommer skielik vinnig agteruit gegaan, al het sy dit hoe goed probeer wegsteek. Dit was tyd. Ons moes haar laat gaan.

Dit is menslik om absoluut platgeslaan te voel wanneer ‘n troeteldier doodgaan, veral as mens ‘n spesiale band met die dier gehad het soos ons met Xenia gehad het. Party mense verstaan dit nie, maar ons is diep bedroef oor die verlies wat ons ervaar. Ons het  aanvanklik probeer om die nuus van Xenia se terminale siekte aan die kinders te laat oordra (aangesien ons hulle nie self mag kontak nie), maar tevergeefs. Daar was vir ons gesê dat dit nuttelose inligting is wat nie meer in die kinders se belange is nie. Asof dit nie genoeg is om ‘n geliefde troeteldier te verloor nie, wek die negatiewe en vyandige reaksie net verdere opgekropte gevoelens op. Maar dit daar gelaat, dit gaan nie nou oor hulle nie. Dit gaan oor Xenia, en die feit dat sy inderdaad almal met wie sy in aanraking gekom het, se beste honde-vriend was.

abcd0011bb

Die kinders was tog so lief vir haar. As hulle maats naweke kom kuier het, het hulle met haar gaan stap en sy het saans by hulle in die kamer geslaap. Altyd teenwoordig. Nuuskierig. Mis niks. Veral nie die McDonalds burger en chips op Vrydae nie (Vrydae was McDonalds-dae)…. Ek dink sy het die kinders baie gemis nadat hulle weg is, want sy het elke dag deur hulle kamers geloop en hulle gaan soek. Dalk gewonder hoekom hulle skielik nie meer daar is nie….abcd0004

image0184

Nog een van Xenia se gunstelinge was om by ons te kom staan as ons ons hare droogblaas. Sy’t altyd so styf teen ons bene kom sit en ons met haar groot bruin oë aangekyk…. want sy wou ook ge”blow-wave” word. Dan blaas ons haar “hare” – oor die rug, onder die pens…. – dit het ‘n uur langer as gewoonlik gevat om ons eie hare reg te kry!

En die stofsuier, besem en mop kon sy glad nie verdra het nie. Wanneer ons huis skoonmaak, staan sy reg voor die apparaat waarmee ons besig is en knor en grom daarvoor. Sy het dit letterlik aangeval, so dat ons nie ‘n tree verder kon vorder nie. Dus het die huis skoonmaak in ‘n Xenia-speelsessie ontaard.

abcd0012Daar is so baie dinge wat haar spesiaal en anders gemaak het. Selfs nadat sy ‘n paar weke gelede met kanker gediagnoseer was, en op sterk medikasie was, sou mens nooit kon sê dat sy enigsins sieklik gelyk het nie. Steeds vol lewe en springerig en opgewonde. As sy nie besig was om nonsens aan te jaag, of saam met die jack russells buite rond te snuffel en te “jag” nie, het sy by jou op die bank kom lê. Wel, nie by jou nie, halflyf bo-oor jou, want dit was vir haar belangrik: fisiese kontak. ‘n Regte aandagvraat, maar nooit oordonderend of lastig nie. Sy was die hond met die mooiste en liefdevolste geaardheid, en dis asof sy haar besonderse Xenia-sprankel tot op die einde dapper en moedig laat skyn het.

abcd0006Xenia was ‘n ongelooflike liefdevolle, lojale, en oplettende hond wat die leemte in my lewe beter gemaak het nadat die kinders weg is. ‘n Kameraad en oppasser wat soos ‘n hans-bok gespring het as ons haar roep of met haar speel…. Of by ons kom lê het as ons siek of hartseer was. Vir my ma het sy tog te graag ge”help” tuinmaak, of gehoorsaam in die kombuis gelê terwyl sy met die kos besig was. Sy kon die kraaie nie verdra wat uittartend gekraai het nie. Die hoenderhaan, die vark en die varkhond buite het op haar senuwees gewerk. Sy moes af en toe ‘n kans vat en die kwakkers rondjaag, en die duiwe en vlermuise wat deur die kaggel geval het, was vir haar ‘n mondvol plesier.

abcd0005Ons lewens was soveel beter en voller te danke aan haar. Sy het hierdie geesdriftigheid en lewenslus in haar gehad wat ek vir geen mens kan beskryf nie, haar teenwoordigheid in ons lewens was ongelooflik verrykend. Nie net het sy hierdie besonderse reeks van emosionele uitdrukkings gehad nie, maar sy het ons ook toegelaat om onsself te wees…. Om uiting te gee aan ons menslike emosies wat ons nie sommer maklik voor ander mense sal wys nie. Sy het deur al die jare ons swakhede beleef, ons oorwinnings, ons hartseer, ons pyn, ons teleurstellings…. In tye van groot omwentelinge was sy daar vir ons – vir sekuriteit, stabiliteit, en vertroosting.

Ek dink veral aan my ma. Vir haar is haar honde alles. Niks gaan nou meer dieselfde wees nie…. Die voedingstye, hulle daaglikse stappies buite, al die aspekte wat deel gevorm het van hulle daaglikse praktiese roetines. Maar nie net die fisiese aktiwiteite nie, ook die wyse waarop sy daagliks met Xenia gepraat het, haar geroep het. Dit is ook ingesluit by die totsiens. Vir my ma was Xenia een van haar sosiale kamerade op die plaas, want sy is ver van alles en almal af, dus het sy nie veel van ‘n sosiale lewe nie. My ma steun baie op haar troeteldiere vir ondersteuning en liefde, soos ek op Xenia gesteun het toe ek alleen agtergebly het. Sy was al wat ek oorgehad het, en sy het my altyd beter laat voel…. want dis asof sy verstaan het.

Die kanker het oor die afgelope paar weke vinnig versprei. Daar was niks meer wat my ma-hulle vir haar kon doen nie. Haar liggaam was gedaan. Dit was die regte besluit om haar te laat uitsit. My stiefpa het die moeilike taak onderneem om haar te vat. Na ‘n deeglike ondersoek het die veearts bevestig dat die kliere in die buik opgeswel het, dat die kanker te vinnig versprei. Daar was nie meer hoop vir haar nie, dus was dit maar die beste dat hy haar in ‘n ewige slaap sit. Sy is vandag op die plaas begrawe.

Daar is nie woorde om Xenia se verlies te beskryf nie…. die wete dat ek nooit weer vir Xenia gaan sien en met haar gaan speel wanneer ek plaastoe gaan nie…. dat sy nooit die see gaan sien nie…. dat ek nie vandag daar kon wees om haar te groet en afskeid te neem toe my stiefpa haar in die bakkie gelaai het om veearts toe te vat nie…. Ek vorm selde in my lewe ‘n noue band met iemand, maar ek het geleer dat die band wat jy met iemand vorm, nie gaan oor wie jy die langste ken nie. Dit gaan oor wie in jou lewe in gekom het en altyd by jou gestaan het. Dit is die band wat ek met Xenia gehad het. Sy was daar vir my deur dik en dun, deur vreugdes en deur sorge, deur lag en pyn. Sy was so ‘n wonderlike kameraad – lojaal en getrou. My hart sal altyd haar voetspore deur my lewe dra. Dit was ‘n voorreg om haar lief te hê, en om deur haar geliefd te wees. Ek glo daar is vir haar ‘n spesiale plekkie in die hemel – ‘n plekkie waar daar heuwels en groen gras is waar sy sorgeloos en vry kan aanhou met hardloop en bokspring en speel soos altyd.

sp_a0571Ek sal jou altyd mis, my ou honne. Jy was my hart se punt. In ouma se woorde: Altyd ons sweetheart woef.

Al my liefde xxx

Advertisements

5 thoughts on “Rus In Vrede, Xenia

  1. Die mooiste liefdesbrief aan ‘n troeteldier wat ek al ooit in my lewe gelees het, seker omdat ek myself met soveel van jou skrywe kan identifiseer – en my trane loop, want skielik is die verlange na my eie, wat ek ook noodgedwonge moes laat uitsit het op 10 Augustus die jaar, weer net te groot. Nes met jou ma is my honde my als – hulle is so deel van my menswees dat elke keer as een van hulle doodgaan is dit asof daar bietjie minder pienk in die skynsel om my is – die lig raak bietjie dowwer om my en ek huil vir dae aaneen oor my GROOT verlies, word skeef aangekyk deur mense wat dit nou maar eenmaal nie nie kan verstaan nie. EK DINK DIT IS OMDAT EK WEET DIT IS DIE ENIGSTE PLEK OP AARDE WAAR ONS ONVOORWAARDELIKE LIEFDE ERVAAR DIT IN DIE AANGESIG VAN ONS TROETELDIERE!!

    Like

    • Ai my mens, dit is hartroerend en hartverskeurend. Ons diere is so so spesiaal! Dan kry jy mense wat diere aanhou en glad nie na hulle kyk nie, nie persoonlike aandag gee nie, wat geen band met daardie diere het nie…. en ek wonder hoe harteloos iemand kan wees. Het jy ook na joune se dood met selfverwyt gesit en gewonder of jy nie meer kon gedoen het nie…. as ek maar net meer aandag gegee het, meer moeite gedoen het, meer omgegee het…. ek het geweldig daarmee gesukkel. Maar agterna tog besef dat ek gedoen het wat ek kon onder omstandighede. Ek mag soms ontrou gewees het, maar sy was altyd getrou.

      Dankie dat jy jou storie met gedeel het, dis kosbaar! Xxx

      Liked by 1 person

      • Dit is die verskil tussen ons en ons diere… ons het onvoorwaardelik glad nie in onsself nie. Net ons diere het dit. Ek het baie skuldig gevoel, ek het so gehuil en my dogter wat ook my Veearts is gesmeek of sy nie net iets kan doen dat ek haar net nog eenmaal saam met my see toe kan vat nie. Maar my dogter het my verseker dat dit wreed sal wees want sy sal deur die nag doodgaan in haar eie longvog omdat haar hart onder groot druk was agv hartversaking. GABY was 13 jr oud en ek het so gehoop sy gaan vir altyd leef. My skadu wat skielik net weg was… ek huil nou nog en het weer die pyn in my borskas gevoel toe ek jou skrywe lees, pyn en selfverwyt, omdat ek nie haar ook so onvoorwaardelik liefgehad het soos sy my gehad het nie. Ek mis haar nog elke dag van my lewe…😭😭

        Liked by 1 person

  2. Dit raak nie makliker nie. Die moeilikste is om te besluit om hulle te laat gaan, want in ons [selfsug] wil ons hulle nog by ons hê, terwyl dit eintlik vir hulle die beste is om te gaan. Daar is vae vertroosting in die feit dat hulle nie meer hoef te ly nie…. Wat my nogal gevang het, is toe my ma my vertel dat Xenia die laaste week net skielik begin onttrek het van haar en my stiefpa. Sy was heeltemal eenkant. Die ander honde het haar verskriklik opgepas, sonasof hulle geweet het. Asof sy ook geweet het. Asof sy ons die pyn en lyding wou spaar.

    Dit was seker ook nie maklik vir jou dogter nie, ek glo dit was een van haar moeilikste besluite.

    Sterkte xxx

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s