kinders wat disrespekvol optree

Ek het nooit besef in watter posisie ek myself geplaas het in terme van die vervreemding, en in terme van respek nie, totdat ek in my verwarring begryp het dat enige mens – kinders spesifiek – op een of ander tyd in hulle lewe rebels raak. Ons ken mos daardie rebelse strepe… vloek, skree, stry, vloermoere gooi….

Maar disrespek gaan nie net oor ‘n kind wat op jou skree of die deur in jou gesig toeklap nie. Dit gaan nie net oor ‘n kind wat ongehoorsaam is of sy of haar oë rol as jy iets sê nie. Disrespek – spesifiek in die geval van vervreemde ouers – is ook wanneer ‘n kind jou ignoreer, en lelike goed van jou agter jou rug sê, en leuens oor jou versprei, en weier om kontak met jou te hê….

‘n Rebelse kind het van nature ‘n sterk persoonlikheid. Hy of sy gaan grense tot die uiterste toets. Gesag en outoriteit weerstaan. Baklei om beheer te kry, of die oorhand, oor ‘n situasie. Rebellie is sulke kinders se middelnaam. Hulle weet hoe om situasies emosioneel te manupileer en dit kan vir hulle ouers ongelooflik uitdagend en uitputtend wees. Ek weet waarvan ek praat, ek was ook een.

Gelukkig is dit ook waar dat God ons gemaak het, wie en wat ons is. Ons kinders ook. Hy is lief vir hulle, en Hy het ons nie clueless gelos om die uitdagings van ouerskap in die gesig te staar nie. Sy Woord leer ons:

Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie (Spreuke 22:6)

Ek is dankbaar vir die geleentheid dat ek my kinders van kleins af kon leer uit God se Woord; dat hulle altyd ‘n begeerte na Sy wil gehad het. As ‘n rebel moes ek op die harde manier leer dat dit wat jou in die lewe motiveer, op die ou end jou lewe gaan oorheers. Ek is nie in beheer nie, God is. En ek moes eenvoudig leer om dinge op God se manier te doen. Nie dat ek enigsins super-gelowig of Christelik is nie, maar ek hoop van harte dat my kinders ook sal terugkeer na die fondament wat vir hulle gelê is.

Spreuke 20:20 sê –

As jy jou vader en moeder vervloek, is jou lewe daarmee heen en bly net die pikdonker oor.

‘n Kind wat dislojaal teenoor ‘n ouer raak, raak in verskillende grade “boos”. Dit begin met die veragting van ‘n ouer; ongehoorsaamheid; woede-uitbarstings…. en kan naderhand uitloop op ‘n vermetelheid en goddeloosheid – tot so ‘n mate dat hy of sy ‘n ouer vloek (of vervloek); die vuil en smalende taalgebruik; om diegene wat instrumente in sy of haar opbrengs was, sleg te behandel of slegte dinge toe te wens. Dit sluit haatspraak in, en dit is ‘n uittarting van God en sy Woord – wat oneerbiedigheid teenoor ‘n ouer as ‘n erge misdaad beskou.

Levitikus 20:9 sê:

Anyone who curses their father or mother is to be put to death. Because they have cursed their father or mother, their blood will be on their own head.

O, die haatbriewe wat my tienerdogter kort voordat sy weg is, teen haar kamermuur geplak het vir my om te lees, was hartverskeurend! Of die telefoonoproepe en smse wat gemik is daarop om jou af te kraak en te verneder…. ‘n mens kan nie verwoord wat dit aan jou doen nie. Maar wat vir my nog meer hartseer is, is die besef dat ons kinders wat ons verag en slegsê en weggooi soos vrot kos, se lewens op die ou einde misrabellik gaan wees. Net die pikdonker bly oor. Al hulle trots en eer sal tot stof wees. Hulle sal sonder ware vrede en gemoedsrus leef; hul lampe uitgeblus. Dis nie wat ek of enige ander ouer ons vervreemde kinders toewens nie, dit is wat die Skrif sê hulle lot gaan wees.

Hoe dieper ek in die onderwerp delf, hoe meer van ‘n wake-up call raak dit vir my. Dit sê vir my ek het nodig om meer in beheer te wees van die situasie, en om perke te begin stel. Dit sê vir my dat ek nie nodig het om my kinders se disrespekvolle gesindheid teenoor my maar geliefd te aanvaar net om ‘n valse vrede te bewaar, of in die vae hoop dat hulle my weer sal teruglaat in hulle lewens omdat ek maar die minste is en toelaat dat hulle my nie met respek behandel nie.

‘n Baie wyse persoon het geskryf:

You cannot force a person to show you respect, but you can refuse to be disrespected. Don’t let anyone disrespect you. Don’t settle for anything other than respect. Never give people permission to disrespect you.

Ek glo dis vir kinders wat hulself wil gaan “individualiseer” en afsny van hul ouers in die proses, tog in ‘n mate pynlik. Hulle weet nie reg hoe om die situasie te hanteer nie, hulle is in elk geval nog nie volwasse genoeg om so ‘n situasie te hanteer nie, dus raak hulle onbeskof en disrespekvol. Dit is nie aanvaarbaar nie.

Persoonlik het ek net besluit om die streep te trek, hier en nou.

  • As my kinders vir my wil kwaad wees,  my wil haat, en ignoreer, dan moet hulle. As hulle nie kontak met my wil hê nie, dan hoef hulle nie. Ek is verby die punt waar ek alles wat hulle doen en sê, persoonlik vat. Nie net hulle nie, mense oor die algemeen. Die manier hoe ander mense jou behandel, gaan in werklikheid oor hulle karakter en integriteit. Dit gaan nie oor jou nie.
  • Ek gaan nie meer betrokke raak in ‘n magstryd met hulle pa en sy vrou nie. Ook nie oor wie van my en hulle die skuldigste is en wie die seerste gekry het nie. Hulle optrede huidiglik teenoor nie net my nie, maar ook hulle ouma en oupa, hulle ou skoolvriende, hulle familie, is verkeerd. Ongetwyfeld. Punt. Einde. Klaar. Dis nie debatteerbaar nie.

As ek nog nooit geleer het om die regte ding te doen nie, dan is dit nou. Baie ouers gaan nie met my saamstem nie, en dis okei. Ek soek nie ‘n gehoor of aanhangers nie, ek doen wat ek in my hart voel reg is. Dit help nie ons kies ons kinders se kante selfs al is hulle verkeerd nie. Hulle leer absoluut niks daaruit nie. Ons ook nie. Hoe langer ons toelaat dat ons kinders ons disrespekvol behandel, hoe duideliker kry hulle die boodskap: Ek word toegelaat om my ma of pa disrespekvol te behandel, so ek hoef eintlik vir niemand respek te hê nie.

download

 

forget-me-not-flowers-vase

The rose near died when it fell to its lot

To break its heart for forget-me-not

But after its heart was healed by the dew

Right by its side a sweet violet grew

~ M.B.S.

soms is dit ‘n goeie ding om die stryd te laat vaar

Letting Go

Ons weet nou dat verskeie emosies materialiseer tydens ouervervreemding. Party voel kwaad, en ander voel hulpeloos en magteloos. Aan die anderkant is daar ‘n hoeveelheid ouers wat ontwikkel tot toegewyde advokate vir die saak, maar baie se fisiese, emosionele en finansiële vermoëns word uitgeput. ‘n Ouer mag dalk vra, wanneer los ek dit? Vervreemde ouers is bedroefde ouers. Vir party is die voortdurende hartseer gelykstaande aan die dood, waar die hartseer nooit ophou nie.

Die vyf fases van rou

Die meeste van ons is bekend met Elisabeth Kubler-Ross se vyf fases van rou. Die eerste fase is ontkenning…. waar realiteit nie erken (of erken wil) word nie. Ontkenning is ‘n beskermingsmeganisme. ‘n Wanaangepaste, onvanpaste, patologiese manier om ‘n situasie te hanteer. Natuurlik is dit moeilik vir iemand om te erken dat hy of sy ‘n verwerpte ouer is, maar partykeer is dit makliker om te ontken dat die situasie onwerklik is. En om die onwerklike te hanteer, besluit sommige ouers om maar op te gee, of te onttrek. Hulle raak passief.

Woede is die tweede fase van die rouproses. Onderliggende woede is niks anders as seer, en ‘n verlies van mag en beheer oor ‘n situasie nie. Vervreemde ouers raak kwaad wanneer hulle kant van die saak geignoreer en afgejak word as niks. Wanneer ander nie die erns daarvan insien nie. Wanneer ander hulle skepties hanteer en kritiseer. Of blameer vir die situasie.

Onderhandeling is die derde fase. ‘n Onderhandelende ouer glo dat, as hulle hard genoeg probeer, of die regte ding doen of sê, sal die kind se gesindheid skielik teenoor hom of haar verander.

Die vierde fase is depressie, selfverwyt, wanhoop…. Dit neem die ouer se lewe en gedagtes oor.

Die laaste fase is aanvaarding. Vervreemde ouers aanvaar hulle lot baie swaar. Dit is ‘n bitter pil om te sluk. Maar hulle laat vaar die stryd noodgedwonge. Dit geld vir diegene wat ‘n bewustelike besluit neem om te laat los en te laat gaan.

Maar wat gee ‘n vervreemde ouer te kenne wanneer hy die stryd laat vaar?

Die vervreemder vertel vir die kind dat sy/haar ma of pa hom/haar weggegooi het en nie meer wil hê nie. Dis ‘n blatante leuen. Wanneer ek die stryd laat vaar; wanneer ek laat los en laat gaan, beteken dit nie ek sny myself van my kinders af nie. Dit beteken bloot ek besef dat ek nie beheer oor my kinders se lewenskeuses kan uitoefen nie. Ek het nie beheer oor my kinders nie. Ek kan nie my eksman of sy vrou forseer om hulle haat-veldtog teen my te stop nie. Om die stryd te laat vaar is om te aanvaar dat sommige mense weier om mede-ouers te wees. Hulle draai permanent die kinders teen die ander ouer. Niks kan hulle keer nie. Dit is die ongelukkige werklikheid. Vervreemders spandeer alle hulle tyd en energie om die ander ouer emosioneel en finansieël te dreineer en uit te put.

Ons moet ook aanvaar dat ons vir die vervreemding blameer gaan word. Nie net deur vriende en familie nie; nie net deur die kinders nie; maar ook deur die samelewing. Al die vingers gaan na ons toe wys, want dit is sosiaal aanvaarbaar. Iemand moet die blaam dra. Maar die ouer of persoon wat eintlik verantwoordelik is vir die vervreemding, is eintlik die lafaards want hulle saai vernietiging en kruip weg agter ‘n misleidende voorkoms van balans en dissipline. En sodoende vermy hulle die blaam.

Wanneer is die regte tyd om die stryd te laat vaar?

Daar is nie ‘n regte en verkeerde tyd nie. Dis ‘n persoonlike saak. Ek persoonlik het ondervind dat ek ‘n verlore stryd stry. Ek het net aan die verloorkant gebly. Die kinderwet beskerm die kinders. Ons korrupte geregstelsel beskerm misdadigers en mense wat misdrywe begaan. Niks kan ‘n vervreemder tot moraliteit en regverdigheid dwing nie. Vervreemders se vernietigende gedrag is aan die orde van die dag. En juis om daardie rede, dat ek bang was dat ‘n voortdurende geveg iemand anders kan dryf tot geweld teen my kinders, het ek eerder die stryd laat vaar omdat ek my kinders wil beskerm. Ek wil hê hulle moet veilig wees. En ek het dit gedoen ten koste van my verhouding met hulle.

die slegte dae gaan ook verby

Ongeag van hoe positief ons is, daar kom tye wanneer ons glad nie onsself voel nie. Wanneer ons energievlakke laag is. Wanneer ons hartseer is. Gestres. Bekommerd. ‘n Hele reeks van negatiewe emosies ervaar. En dis nie maklik nie. Nie om daarmee te deal nie, en ook nie om enige raad te aanvaar of toe te pas nie.

Dink positief…. of nie?

In hierdie era van valse leerstellings en afgewaterde teologie, kom die moderne geesdriftiges en verkondig dat daar krag in positiewe denke is….

“… the act of reviewing thought processes in order to identify areas that need improvement, and then using the appropriate tools to change those thoughts in a positive, goal-oriented way.”

Om positief te dink is nie verkeerd nie. Glad nie. Die probleem, egter, wat geassosieer word met positiewe denke, is om te glo dat daar ‘n soort magiese krag in is. Eintlik sit hulle net ‘n masker oor die waarheid want hulle weet nie regtig hoe om slegte en moeilike tye te hanteer nie…. En dit het begin by Dr. Norman Vincent Peale in sy boek The Power of Positive Thinking in 1952. Hy het gereken dat mense so ver kan gaan as om hulle toekoms te verander deur toekomstige gebeure tot bestaan te “dink”. Met ander woorde, as jy genoeg selfvertroue en geloof in jouself het:

“… you release a magnetic force in your mind which by a law of attraction tends to bring the best to you.”

Daar is geen logika wat staaf dat ‘n magnetiese krag van ‘n mens se verstand afkomstig is, wat goeie dinge in jou “aura” intrek nie. Dit is heeltemal onnatuurlik en buitendien onbybels. Dit bevorder net ‘n valse hoop en ‘n valse geloof. Hierdie teorie vorm deel van die help-jouself-beweging waar ‘n persoon probeer om sy eie realiteit te skep deur menslike pogings, denkbeelde, en wilskrag. Feit is, mense kan nie hul eie realiteit skep deur dit tot bestaan te dink nie. Niks hiervan is op die waarheid en realiteit basseer nie.

“Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo” (Jak. 1:17)

 

As ons onsself wil verbeter en positiewe veranderinge wil maak, het ons baie meer nodig as positiewe denke. Eerder as om hulp te soek in die selfgenererende krag van positiewe denke, of pseudo-godsdienstige boeke, of psigo babbel, moet ons eerder staatmaak op wat God ons reeds gegee het: Sy inwonende Gees (Luk. 11:13).

Dis OKEI om ‘n slegte dag te hê…. en negatiewe gevoelens te hê

Almal in die lewe beleef moeilikhede en slegte omstandighede. Ons is nie veronderstel om volmaak in ‘n onvolmaakte wêreld te wees nie. Slegte dae gebeur. Party dae kan ons goed hanteer, ander dae glad nie. Buitendien, sonder slegte dae sal ons nooit die beter dae waardeer nie.

Slegte dae gebeur, maar slegte dae gaan ook verby. Watookal dit is wat jou ontstel, dit hou nie vir ewig nie. Die nag hou nie vir ewig aan nie, een of ander tyd moet die son weer opkom. En nuwe dae begin met nuwe moontlikhede. Ons moet onsself meer herinner dat ons okei sal wees. Al die negatiwiteit sal weggaan, want dit is net tydelik – net soos die situasie self.

Die lewe is nie perfek nie, maar ons het soveel om voor dankbaar te wees. Al ooit so daaraan gedink, dat iemand anders eerder graag jou stryd sou wou hê…. want dit sal nog steeds beter wees as hulle s’n? Ons fokus te veel op die dinge wat ons nie het nie; of die dinge wat verkeerd loop…. Tog het ons so baie om voor dankbaar te wees. Net om soggens wakker te word, is ‘n seën! Wanneer ons die gewoonte vorm om ons seëninge meer te tel, sal ons meer oomblikke van geluk ervaar.

“Every day may not be good…but there’s something good in every day.” – Alice Morse Earle

Dinge is net so sleg as wat jy dink dit is. Is ‘n probleem regtig ‘n probleem as ons nie langer dink dis ‘n probleem nie? As ons ‘n probleem nie sien as ‘n probleem nie, hou dit enige waarde? Wat ek hiermee bedoel is dat mense geneig is om alles te OORdink, en probleme baie erger te maak as wat dit werklik is – deur negatiewe en giftige idees soos stertjies by te voeg. Dis so maklik om iets totaal uit proporsie te blaas, en dis so onnodig!

The problem is not the problem. The problem is your attitude about the problem.” – Captain Jack Sparrow (from the movie Pirates Of The Caribbean)

Ek weet dis nie altyd maklik om positief te wees as jy glad nie positief voel nie. Dis okei. Gun jouself jou “af” tyd. Gun jouself ‘n tyd om negatief te wees en stoom af te blaas. Maar begin ook na dinge uit ‘n meer positiewe perspektief kyk. Ja, die lewe is swaar, maar in vergelyking met die mense sonder tuistes, kos en water, is jou lewe geseënd. As jy siek voel, dink ook aan diegene wat geen arms of bene het nie. Dink net aan hoe hulle oor die weg moet kom.

Elke oomblik wat ons ervaar, is ‘n oomblik wat ons nooit weer gaan terugkry nie. Die toekoms is geen waarborg nie, want tyd is nie gewaarborg nie.

“Expect trouble as an inevitable part of life and repeat to yourself, the most comforting words of all; this, too, shall pass.” – Ann Landers