vervreemde ouersindroom

Bear your difficulties graciously, bravely and with little complaint

Tydens die in-diepte navorsing wat ek die afgelope 6 maande gedoen het rondom die onderwerp van vervreemding (parental alienation), kon ek saam met talle ander ouers en kundiges beaam dat daar amper niks so pynlik vir ‘n ouer is, as om vervreemd te wees van ‘n kind nie. Die verhale van ouers en selfs ouma’s en oupa’s wat ek gelees het, asook die verslae en menings van terapeute en sielkundiges, het my diep geraak. Die punt is, hoe ouer ons word, hoe meer hunker ons daarna om ons kinders en kleinkinders om ons te hê; om betrokke te wees by hulle lewens. Daarom is die vervreemde ouersindroom ‘n bitter moeilike en traumatiese ervaring.

Ek self is ‘n ouer wat vir die afgelope vier jaar (and counting) vervreemd is van my twee dogters. Dit is ongetwyfeld diè moeilikste tydperk van my lewe. Ouers in dieselfde situasie sal weet, ons gaan deur so baie fases van skuldgevoelens, selfverwyt, desperaatheid, voortdurende soek na raad en antwoorde en maklike oplossings…. Net om uiteindelik een hengse realiteit te besef: daar is nie ‘n resep vir maklike oplossings nie. Daar is nie antwoorde op die vrae wat jy soek nie. Dit is wat dit is.

In my soeke na logiese verduidelikings rondom die hele dilemma van vervreemding, het ek geleer dat vervreemding as gevolg van verskeie redes kan gebeur. Meeste van die kere is dit die kind se ander ouer (of stiefouer) wat die kind forseer om te distansieer en af te sny van die vervreemde ouer. Dit word gewoonlik gedoen deur ‘n kind emosioneel te boelie of op verskeie maniere te manupileer. Soms is die oorsaak ‘n ouer wat ‘n kind fisies, seksueel of emosioneel mishandel, wat die kind daartoe dryf om weg te vlug uit die situasie. Selfs omgekeer; volwasse kinders wat hulle ouers mishandel en dan sny die ouers hulle van die kind af om hulleself te beskerm. Ander kere is die oorsaak eenvoudig net onverklaarbaar en onduidelik. Watookal die rede, die verlies is en bly hartverskeurend. Dit voel soos die dood.

Om die probleem nog erger te maak, is daar ouers wat glad nie met die realiteit van vervreemding kan vrede maak nie en net verdere wrywing tussen hulle en die kind veroorsaak. Of familielede wat sterk opinies teenoor die ouer, kind en die situasie uitspreek, en net nog meer druk en ongemak op die situasie uitoefen. Dan kry jy mense wat van buite af na jou situasie kyk. Hulle laat my dink aan Job se vriende. Mense wat heel waarskynlik nie in staat is om die intensiteit van die situasie te besef nie, of self nie kans sien vir so ‘n dilemma nie. Hul redenasies grens aan die sillogisme dat God sulke en soortgelyke rampe oor jou pad stuur omdat jy erge foute gemaak het. Omdat jy gesondig het. Daarom kwalifiseer jy vir so ‘n ramp. Alhoewel ek my aanvanklik hierdie sillogisme persoonlik aangetrek het, maar mettertyd geleer het om my nie daaraan te steur nie, is dit jammer dat so baie ander vervreemde ouers dit net ooglopend aanvaar: hierdie skeefgetrekte teologie van vergelding wat beweer dat God slegs diegene seën wat goed en reg lewe, en die res straf Hy. Laat Hy dan nie die son opkom oor die goeies en die slegtes nie (Matt. 5:45)?

Ek erken dat daar egter wel ‘n Bybelse waarheid in die stukkie teologie lê. Dis net een van daardie onderwerpe waar ‘n mens regtig fyn onderskeidingsvermoë nodig het. Ja, dikwels lei die foute wat ons maak ons in ‘n posisie waarin ons nie wil wees nie. Partykeer moet die Here ‘n situasie in ons lewens toelaat om ons te laat wegdraai van gewoontevormende en herhalende foute. Maar Hy werk nie altyd so nie. ‘n Krisissituasie is nie noodwendig ‘n teken dat God jou straf nie.

Mense besef dit nie, maar daar is meer skade as goed in opmerkings soos: “Moet nooit ophou uitreik na jou kind nie”…. “Doen alles in jou vermoë om die verhouding te herstel”….”Dit is jou verantwoordelikheid om die verhouding in ‘n ander rigting te stuur”….”Sluk jou trots”….”Maak nie saak wat gebeur en wie se skuld dit is nie, vra om verskoning en moet nooit ophou vergifnis soek nie”…. “Moenie ophou probeer nie”….”Wees nederig”…. Vroom, goedbedoelde antwoorde, maar eintlik het hulle geen idee waarvan hulle praat nie want hulle sit nie in dieselfde situasie nie. Is dit nie genoeg dat ons moet worstel met skuldgevoelens, angs, depressie, en onsekerheid nie? ‘n Intense proses van rou? Hoe arrogant van ons om te dink ons weet wat God se plan vir ons of iemand anders se lewens is! Hoe dom van ons om te dink ons ken die redes agter ander mense se swaarkry en lyding! Ons weet nie eers die redes agter ons eie dilemmas nie. Ons weet partykeer self nie die verskil tussen reg en verkeerd nie. Ek beskou dit as baie meer eerlik en opreg om teenoor myself te erken of op iemand anders se situasie te reageer: “Ek weet nie hoekom dit met my (of met jou) gebeur het nie. Niemand hoef deur so iets te gaan nie.” Dit is vir my ‘n voorbeeld van God se genade en deernis.

Wat ek vir myself met verloop van tyd geleer het; wat vir my in my situasie gewerk het, is nie juis rocket science nie. Elkeen se situasie verskil. Elkeen hanteer dit anders. Maar vir my om deur die rouproses te werk, het ek vir myself die volgende geleer:

  1. Watookal die rede hoekom my kinders my afgesny het, dit is hulle storie. So ek gaan nie eers probeer om myself te regverdig en hulle storie te verander nie. As hulle storie iewers vassit in die verlede, gaan ek nie saam daar vassit nie. Hulle het lankal aangegaan met hulle lewens, ek verdien ook om aan te gaan met myne.
  2. Ek het opreg probeer om om verskoning te vra vir dit waarvoor hulle my kwalik neem, en om hulle te laat probeer verstaan dat ek besef dat ek aaklige foute gemaak het. Foute waaroor ek spyt is; verkeerde besluite waaroor ek berou het. Wat hulle daarmee maak, is hulle saak. Maar as ek my saak gestel het; met die Here uitgeklaar het; en vrede in my hart het (ek praat nie van ‘n valse vrede nie, maar ‘n diep, oortuigende, innerlike vrede)…. en hulle nog steeds besluit om my af te sny, is dit ook hulle saak. Ek gaan nie toelaat dat hulle my oorlaai met skuldgevoelens en my op ‘n permanente skuld-trip sit nie. Om spyt te wees oor wat ek verkeerd gedoen het, en om vergifnis te vra, is opsigself skulderkenning. Dan het ek nie nodig om myself aan nog meer neurotiese drama bloot te stel nie.
  3. Ek het besluit om altyd oopkop en ontvanklik te bly vir hulle ouverture, maar nie tot so ‘n mate dat hulle my emosioneel of fisies mishandel en afkraak nie, ook nie finansieel misbruik nie. Ek is en bly per slot van rekening die volwassene. Trek die grenslyn duidelik.

‘n Mens kom op ‘n stadium waar jy alle hoop laat vaar, want dit lyk so vaag en uitsigloos. Kinders verstaan nie die emosionele uitdagings wat ‘n ouer daagliks in die gesig moet staar nie. Ten minste bly daar hierdie sprankie hoop: dat hulle ook eendag dalk gaan trou en kinders hê; en daarmee saam die liefde, deernis en vergifnis van ‘n ouer sal leer verstaan. Vergifnis vir hul eie ouers ook; begrip vir ‘n ouer se omstandighede, en die besluite wat die ouer in daardie omstandighede geneem het.

Niemand is perfek nie. Niemand het perfekte ouers nie.

Ervaring het my geleer dat geen ding in die lewe, veral as dit by kinders kom, ‘n spesifieke formule vir sukses het nie. Kinders wat na aan hul ouers bly het beslis nie op Sonskynplaas grootgeword nie. En die wat hulle afsny van hul ouers en kies om geen kontak met hulle te hê nie, doen nie noodwendig so omdat hulle ouers hulle op een of ander wyse gefaal het nie. Ja, ouers faal kinders. Kinders faal ouers. Mense faal mekaar daagliks. Dit is die verloop van die lewe. Die vraag is egter: regverdig dit ‘n totale afsnyding?

Ek en my dogters was baie na aan mekaar totdat hulle heeltemal onttrek het. Hoe vinnig ‘n situasie oornag nie kan verander nie! Dit is nie in my aard om myself op iemand anders te forseer nie. Ek mag dit dalk in die verlede verkeerdelik gedoen het, maar ek het intussentyd my les geleer. Wanneer dit by my kinders kom – veral toe die situasie van vervreemding my getref het – het ek besef dat hardkoppigheid en trots my nêrens gaan bring nie. Wees hardkoppig in jou beginsels en standpunte, maar moenie hardkoppig wees in jou argumente omdat jy ‘n wil het om die argument altyd te wil wen nie. Soms moet ‘n mens die argument verloor om die siel te behou.

Dus het ek besluit om altyd openhartig teenoor my kinders te bly. Ek het telke male probeer uitreik en kontak maak, net om oor en oor verwerp te word. Toe hou ek op daarmee, want hulle het gekies om nie enige kontak met my te hê nie, en ek het besluit om hulle besluit te respekteer. Nie dat hulle my besluit noodwendig sal goedkeur of respekteer nie, want jy is en bly nou maar eenmaal die vark in die verhaal. Maak nie saak wat jy doen en wat nie, hulle gaan foutvind met alles! Maar dit beteken nie ek is minder lief vir hulle, of gee minder vir hulle om nie.

Soms is al wat ‘n mens kan doen net dit: los die buitelig aan, en die voordeur se sleutel onder die mat. Wie weet….

Advertisements

3 thoughts on “vervreemde ouersindroom

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s