Moenie dinge vooruit hardloop nie

Ek is geneig om dinge vooruit te hardloop. En te oordink. En oor opgewonde of oorstres te raak. Nog lank voor dinge werklik gebeur het.

Soos vandag.

Ek het my al gister begin opwerk oor dinge wat vandag by die werk in plek moet kom; dinge wat gereël moet word en ek weet nie met wie ek dit moet reël nie. Met wie ek moet praat of watter prosedure gevolg moet word. Ek het my letterlik al reggemaak vir ‘n baie deurmekaar en stresvolle dag….en toe ek by die werk kom vanoggend, het dinge net heeltemal anders gebeur en was dit sover nog glad nie so deurmekaar soos wat ek voorspel het dit gaan wees nie. Inteendeel, alles het eintlik uitgewerk soos dit moet.

Wanneer mens dinge vooruit hardloop, is dit omdat ons wil wees waar ons wil wees of doen wat ons graag wil doen. Ons raak oorhaastig. Ons wil dinge reg doen omdat ons wil weet waar ons staan, en wat die eindresultaat gaan wees.

Ek was nog altyd ‘n lui of huiwerende beginner. Dit het beslis sy nadele! Maar aan die ander kant maak dit my ook vreesloos om iets nuut te probeer en deur te druk tot die einde toe. Dis net daardie simpel gevoel in die begin, so ek spring eerder in die diep kant in om oor daardie gevoel te kom. Chaotiese nagevolge of nie.

Dis daardie onsekerheid van nie weet wat voorlê nie. Daardie gevoel van verlorenheid. Die ongemaklikheid wat gepaard gaan met die leer en bou van nuwe vaardighede en vermoëns; om deur ‘n nuwe plan of taak te werk. Die ervaring van vreemd wees met ‘n plek waar jy nog nooit vantevore was nie, of om dinge te doen wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie.

Ek was vir ‘n jaar sonder werk en het in ‘n heerlike gemaksone verval. Dus, begin November verlede jaar toe ek gekontak word oor die pos, was ek baie verlig en tog ook baie angstig. Ek doen nie goed met skielike veranderinge in my lewe nie. Ek het al te veel onverwagse en onbeplande veranderinge ervaar en elke keer is daar trauma en verlies by betrokke. Daardie oorgangstydperk van die een aanpassing na die volgende is aaklig. Ek weet nie waar ek inpas of waar ek hoort nie. Elke keer moet ek van voor af op my voete kom, van voor af aanpas en inpas en myself herontdek. Daardie tussen-in fase sit glad nie reg aan my nie!

Maar met elke verandering het ek geleer (en leer ek steeds) om nie dinge vooruit te hardloop en altyd die ergste te verwag nie. Om dit net een tree op ‘n slag te vat, want per slot van rekening is dit hierdie tussen-in oomblikke waar ek eintlik waardevolle lesse leer. Waar goeie dinge gesiens of ongesiens gebeur. Dis hier waar ‘n mens leer om stil te raak. Werklik stil. Want wanneer ‘n mens begin stil raak, raak jy meer objektief. Geduldiger. Verdraagsamer. Kry jy meer begrip. En wysheid. En vars perspektief. En voor jy jou oë uitvee het jy hierdie massiewe boublokke wat jou help om vorentoe te gaan en te identifiseer wat vir jou gewerk het en wat nie. Waar jy jouself teruggehou het en waar nie. Wat jou gehelp het om meer in voeling te wees met jouself, jou werk, jou verhoudinge, jou drome en passies. Waar jy aan ander se verwagtinge en vereistes voldoen het in plaas van jou eie.

Die lewe is ‘n balans van baie dinge. Op die oomblik gaan dit vir my oor wat vir MY belangrik is, en wat vir MY die beste is. Ek is in staat om ‘n ingeligte besluit te neem as ek ‘n balans binne en buite myself kan handhaaf.

Mag dit jou ook bemoedig om stil te raak en sin te kry van waar jy nou in jou lewe is – en waar jy graag wil wees sonder om dinge vooruit te hardloop. Kom ons gun onsself die gawe om dinge stadiger te vat en uit te sorteer wat ons het, wat ons wil hê en wat ons nodig het. Kom ons skep moed in die ongemaklike en morsige tye van ons lewens in die wete dat ons sterk genoeg is om te wees wat ons wil wees en waar ons wil wees.

Voorspoedige jaar vir almal!

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s