net ‘n gedagte vir die feesgety….

Daar is ‘n spreekwoord wat sê: “Te veel van ‘n goeie ding is nie goed nie.”

Ek geneig om te verskil. Te veel van ‘n goeie ding kan eintlik wonderlik wees.

As ek dink aan Desember wat voorlê; aan die vakansie, Kersfees, Oujaar, Nuwejaar…. Dit word beweer dat hierdie tye die hoogste selfmoordsyfer toon as enige ander tyd deur die jaar.

Hoe kom ‘n mens deur hierdie tye? Veral as jy deur trauma en pyn gekwes is, en die Kersseisoen daardie bitter en pynvolle herinneringe meebring?

Persoonlik is dit vir my net nog ‘n vakansie sonder my kinders. Sonder ‘n lewensmaat. Sonder ‘n gesin. Sonder die opgewondenheid van see toe gaan; die opmaak van ‘n kersboom; kersgeskenke; ‘n heerlike feesmaal voorberei….

En ek is nie die enigste een nie. Daar is ander mense ook – jonk en oud – wat soortgelyke omstandighede in die gesig staar. Die vraag is: hoe kom ons hierdeur? Hoe kom ons anderkant uit sonder om weer van voor af uitmekaar te val net om die nuwejaar weer al die stukke te begin optel?

Een gedagte: oor-ondersteun jouself.

Die samelewing het reeds na hierdie mentaliteit van oorvloed oorgeslaan (met ‘n “te veel” vooraan). Die res van die tyd ly mense aan ‘n tipe emosionele anoreksia wat selfsorg betref. Oral op sosiale netwerke soos Facebook en Pinterest sien mens foto’s van gelukkige gesinne en honderde maniere hoe om jou huis te versier, gewilde resepte vir Kersetes, ens. Ongelukkig het dit ‘n negatiewe effek op mense wat nie die voorreg het om al die voorbereidings te doen nie.

So hoe oor-ondersteun jy jouself in so ‘n tyd? Vir my beteken dit om te doen wat ek moet doen om myself te ondersteun en deur te dra deur hierdie tyd. Om my interne battery gelaai te hou. Om nie bloot te oorleef nie, maar werklik te leef. Hoekom ‘n mens partykeer dink dat jy oraait is in die rooi zone terwyl jy eintlik ‘n voller lewe kan lei, gaan my verstand te bowe.

Die kernpunt is: Wat is eintlik belangriker, ‘n gelukkige jy? Of ‘n depressiewe en negatiewe uitkyk op wat kon gewees het?

Dit is nie maklik nie, ek weet. Maar dit is moontlik. Jy kan deur die volgende maand kom sonder vrese dat jy dit nie gaan maak nie; sonder twyfel; sonder mismoedigheid; sonder uitsigloosheid. Dit kan vir jou ‘n tyd van heel word beteken. Daar is genoeg ruimte en tyd om die hartseer van die verlede te verwerk, en die hier en die nou te verwelkom en dit onvoorwaardelik te aanvaar.

So kom ons wees dapper soos wat die kersseisoen nader spoed. Doen iets radikaal soos om vir jouself ‘n geskenk te koop en ‘n feesmaal voor te berei. En as jy nie lus is daarvoor nie, gaan koop vir jou ‘n takeaway of gaan eet uit. Gaan fliek. Los die skottelgoed wat kan wag tot more. Lees ‘n boek. Vat ‘n road-trip. Gaan kuier vir vriende of familie. Eksperimenteer met hoe dit voel om vir jouself te sorg, om jou menswees te koester en te vertroetel, om jouself te ondersteun, en sommer alles te doen wat jy nooit vir jouself doen nie.

En help ander om jou om dieselfde te doen.

xxx

woorde wat jou tiener NIE vir jou sê nie….

girlEk was in die bevoorregte posisie om twee maklike tienerdogters in die huis te hê. Vir die rukkie wat ek hulle gehad het in elk geval. Voordat hulle uitgetrek het en by hul Pa gaan bly het. Dis nou ongeveer drie jaar vandat die oudste dogter weg is en twee jaar die jongste; en ek geen kontak met hulle het nie. Of mag hê nie. Op hulle versoek.

Dit het my met ontsettende hartseer, verwarring, onsekerheid, en skuldgevoelens gelos. Maar ek het my daarby berus dat hulle wel hul redes het hoekom hulle nie kontak met my wil hê nie. Toe kom ek eendag op hierdie brief af. Dit het my baie diep getref en ek wil amper sê vertroosting in groot mate besorg. Want ek het nooit regtig probeer verstaan nie. Mens aanvaar dikwels te vinnig sonder om te probeer dieper delf en verstaan wat in jou kind se kop aangaan.

(vrylik vertaal):

Liewe Ouer,

Hierdie is die brief wat ek wens ek kon skryf.

Hierdie fight waarin ons nou is, ek het dit nodig. Ek kan nie vir jou verduidelik hoekom nie, want ek weet self nie. Ek weet nie wat om te sê nie, dit sal in elk geval nie sin maak nie. Maar ek het hierdie fight nodig. Erg!

Die feit dat ek jou ”haat”, wel, ek het nodig om jou nou te haat. En jy moet dit survive. Ek het nie net nodig om jou te haat nie, maar ek het nodig dat jy die fight survive en die feit dat ek jou haat ook. En jy kan my maar terug haat, dis okei. Partykeer haat ek ook myself. En ek haat die fight net soveel soos jy. Dit maak nie saak waaroor ons fight nie, ek moet net met jou fight en jy moet terug fight. Dis al.

Maar sien jy hierdie tou? Jy aan die eenkant en ek aan die anderkant. Ek het nodig dat jy aan jou kant van die tou vashou…. terwyl ek my kant thrash. Terwyl ek probeer vashouplek en staanplek soek in my wêreld. Ek het gedink ek weet wie ek was, wie jy was, wie ons was. Maar ek doen nie. En ek wil weet wie ek is en wat ek wil doen en wat ek wil wees…. en ek kan dit net doen as ek jou toutjies trek. As ek jou tot jou limits push. Dan voel dit vir my of ek bestaan en asemhaal. Dan voel ek myself.

Ek weet jy verkies my oulike kant. Jy verlang na die ouliker kind wat ek was. Ek weet jy doen want partykeer wens ek ook ek was nog die ouliker version van myself. Maar dis te seer. Ek wil nie daaraan dink nie. Ek het die fight nodig. Dit maak nie saak hoe groot of hoe sleg my gevoelens is nie, ek moet weet dit gaan nie vir jou of vir my vernietig nie.

Ek het nodig dat jy vir my sal lief wees al is ek hoe bad. Al dink jy ek is nie lief vir jou nie. Ek het nodig dat jy jouself liefhet, en vir my. Vir ons albei op die oomblik. Ek weet dit suck om gehaat te word. Om die vark in die verhaal te wees. Maar dis wie jy nou moet wees. Wees dit vir ‘n rukkie asseblief, en kry ander grootmense om jou hierdeur te help. Want ek kan nie. Nie nou nie. As jy al jou grootmens vriende vir koffie nooi en ‘n support group stig van hoe om jou tiener te oorleef, dan is dit fine by me. Jy kan maar agter my rug van my praat, ek gee nie om nie.

Moet net nie opgee op my nie. Moenie opgee op ons fight nie. Want dit is die fight wat my gaan leer dat my dark side nie groter is as my good side nie. Dis die fight wat my gaan leer dat slegte gevoelens nie die einde van die wêreld beteken nie. Dis die fight wat my gaan leer hoe om vir myself te luister, selfs al stel dit ander mense teleur.

Moenie worrie nie, hierdie fight sal ook eindig. Dit sal oorwaai. Ek gaan hiervan vergeet en jy gaan hiervan vergeet. En dan gaan dit dalk weer kom. En dan moet jy net weer aan die tou hang. Dit gaan nog baie gebeur.

Ek weet dit is vir jou moeilik. Ek weet ek is moeilik. En ek gaan seker nooit vir jou dankie sê vir al jou harde werk nie. Ek gaan jou eerder kritiseer en slegsê. Dan gaan jy voel of niks wat jy doen ooit goed genoeg is. Maar ek maak nog steeds op jou staat om daar te wees vir my. Om daar te wees in die fight. Maak nie saak hoe baie ek met jou stry nie. Maak nie saak hoe depro ek raak nie. Maak nie saak of ek jou die silent treatment gee nie.

Hou net vas aan ons tou.

En weet dat jy nou die belangrikste werk doen wat enige iemand anders doen.

Lovies,

Jou Tiener