Visvang by Bloemhofdam

IMG-20150924-00025

Ons het die naweek by Bloemhofdam gaan kamp en visvang. Dis so 300 km van hier af. Laaaaaang pad, warm, daar gekom en die wind het sommer van dag 1 af onplesierig gewaai. Amper stormsterkte. Ons kon eers die tent na skemer opslaan, die gazebo was tevergeefs, en die sambreel kon ons darem op ‘n manier opgeslaan kry en stabiel hou. So ons het darem ‘n koeltetjie in die hittige son gehad.

Ons het omtrent teen middagete begin visvang na ons gesukkel het om plek te kry by die Sandveld reservaat. Dit was stampvol. Net aan die anderkant van die brug by die Bloemhof reservaat, het ons ‘n lekker staanplek gekry en redelik privaat.

IMG-20150925-00039 IMG-20150926-00040

IMG-20150925-00033 IMG-20150925-00034

Die visse het redelik gebyt. Adriaan het 13 visse gevang waarvan die meeste karps was, plus ‘n paar barbers. Ek het net 6 gevang – 4 karps, ‘n barber en ‘n muddie. Die volgende dag se poging het nie vrugte afgewerp nie, ook nie die oggend daarna nie. Ons het maar besluit om op die laaste dag vroeg op te pak – moedeloos en windverwaaid.

IMG-20150924-00027 IMG-20150924-00028 IMG-20150924-00029

Bloemhofdam is nou amptelik laaste op my lys van visvangplekke. Ek was al op drie geleenthede daar en elke keer se vangs was nie juis van ‘n groot sukses nie. Die naweek was die finale spyker in die doodskis wat Bloemhofdam aanbetref. Kyk net hoe die arme tent gesukkel het om regop te bly!

IMG-20150925-00035

Aan die positiewe kant bly kamp en visvang darem lekker, en mens leer elke keer hoe om jou tegniek te verbeter; hoe om die omstandighede te lees soos die weer, die water, en waarvan die visse hou. So ‘n mens stap ondanks ongunstige omstandighede met meer ervaring weg. Is die lewe nie ook maar so nie?

IMG-20150924-00026

IMG-20150925-00036

Tot volgende keer

xxx

Advertisements

Wanneer mense jou onderskat

underestimateIewers in die lewe sal daar altyd mense oor jou pad kom wat jou onderskat. Jou vermoëns, jou intelligensie, jou menswees…. Dit tas ‘n mens se selfwaarde geweldig aan, jy voel minderwaardig want jy word nie waardeer nie. Ja, dit is so dat ons seker nie moet toelaat dat mense ons so laat voel nie, maar komaan, ons bly ook maar mens en dit is een van die dinge in die lewe wat minder lekker is om te hanteer, of te aanvaar.

In die tyd dat ek enkellopend is, werkloos, en vervreemd van my kinders, het dit talle kere gebeur. Sommige mense maak opmerkings, of behandel jou, asof jy niks is nie. Asof jy nie saakmaak nie. Asof jy niks werd is nie. En ek haat dit. Ek het onlangs weer so ‘n geval gehad, en dit het my behoorlik laat kook en ontplof. Bygesê, ek is nie mees taktvolle een wanneer dit by die hantering van konflikte kom nie. Ek sal sommer reguit vir ‘n persoon sê waarheen hy of sy kan vlieg.

Maar hoe hanteer mens dit dan? Die Bybel sê ons moet die ander wang draai, maar dis makliker gesê as gedaan. As die verloop van die lewe jou geleer het om vir jouself op te staan, om jouself te beskerm, om onafhanklik te wees, en mense moeilik te vertrou, is daar sekere instinkte wat inskop wanneer so iets met jou gebeur.

Wat ek hier deel is nie noodwendig wat vir almal gaan werk nie, maar dit werk vir my. My geaardheid, my persoonlikheid. Dit is nie in my aard om eers ‘n onmiddelike konflik-situasie kalm te evalueer nie. Alhoewel die kenners sê mens moet eerstens selfgeldend optree, kan ek dit ongelukkig nie beaam nie. Dit ‘n styl van kommunikasie wat ek nog nie bemeester het nie, so ek gaan nie verder daarop uitbrei nie. Wat wel vir my werk is om my emosioneel te distansieer van mense wat my knaend beledig of onderskat. Daar is ‘n verskil tussen positiewe kritiek en negatiewe kritiek. ‘n Mens kan leer uit positiewe kritiek, maar negatiewe kritiek is net daar om jou af te breek. En om met mense te vereenselwig wat jou gedurig afbreek, is nie die moeite werd nie want jy sal altyd niks in hulle oë wees nie.

Die voordeel van sulke mense is die volgende: Dit gee jou die perfekte geleentheid om hulle verkeerd te bewys, en dan die uitdrukking op hul gesigte te sien daarna. Sulke mense sal nooit weet wat jy regtig werd is nie, en dit is hulle verlies. Nie joune nie. Moet hulle nie met woorde probeer oortuig nie, maar oortuig hulle dat jy ‘n sukses is met dade. Ignoreer die opmerkings en beledigings, en fokus op jouself. Bemeester dit waarmee jy besig is sonder om aandag te gee aan wat ander se opinies is. Ja, elkeen is geregtig is op sy of haar eie opinie, maar laat die uitkoms vanselfsprekend wees eerder as ander mense se besluite oor wat jy kan of nie kan doen nie.

Dit is bitter moeilik om nie te reageer op mense se onbeskoftheid nie, om om te draai en weg te loop. Moeilik, maar haalbaar. Hulle is dit nie werd nie, en jy is per slot van rekening beter as om na hulle vlak toe te daal. Laat mense sê wat hulle wil: op die ou end is hulle die skuurpapier – op gebruik en niks werd nie. En jy sal die een wees wat glad geskuur en blink gepoleer is. Die sterker een. Die meer waardevolle een. Die een wat sal uitstaan bo al die negatiewe. Die een wat beter is. Die een wat wen.

Slotsom: GLO IN JOUSELF – ongeag van wat ander mense sê!