beter af alleen?

Eimages-32k hou van my nuutgevonde, eie geskepte rehab-tye. Dis die tye wanneer ek dinge rustig evalueer en vir myself uitredeneer. En een van die temas waaroor ek nie meer my kop breek nie, maar wat ook nodig is om soms opnuut uit te klaar, is verhoudings. Meer spesifiek – verhoudings in die romantiese sin. Maar voordat ek aangaan moet ek dit net duidelik stel, ek is nie feministies nie, nog minder anti-verhouding. Hierdie skrywe is bloot bedoel vir enkellopende mense soos ek wat nie wederhelftes het nie; wat onder die wanpersepsie is dat ons ander helftes nodig het om ons heel te maak; en wat nog die verskil tussen “soek” en “wag” moet leer.

Jy het nie noodwendig ‘n “ander helfte” nodig nie, want jy is nie “half” nie. Ek is bly dat ek uiteindelik tot hierdie besef gekom het; en ek wil dit so graag uitbasuin vir die desperate siele daarbuite dat jy nie noodwendig in ‘n verhouding of ‘n huwelik hoef te wees om gelukkig te wees en die lewe te geniet nie. Net omdat party van ons se lewens getuig van mislukte verhoudings en -huwelike, beteken dit nie daar is iets verkeerd met ons of dat ons as mense mislukkings is nie. Dit beteken ook nie noodwendig ons mis iets spesiaal in ons lewens nie. Jy kan self ‘n doodgewone oomblik neem en daarvan iets besonders maak. Jy kan ook maak dat jy ‘n beter persoon wil wees en die beste in jouself uitbring. Jy kan onder alle omstandighede alles net so los waarmee jy besig is om aan jouself aandag te gee. Jy kan jouself laat lag tot jou maag pyn; spog met jouself; trots wees op jouself. JY is jou prioriteit, en jy hoef nie langer te soek vir iemand anders om dit vir jou te wees of vir jou te doen nie. Hoe awesome en bevrydend is dit nie!! Jy kan jouself uitvat vir fliek of ‘n ete, en na plekke toe gaan wat jy nog altyd wou gaan. Jy kan vir jouself tee maak as jy af voel of siek is; of bel ‘n vriend of vriendin om dit vir jou te kom doen. Jy kan die son vir jouself helderder laat skyn en dit vir jouself gun, en jy kan jou lewe verryk. Alleen. Nie alle potte het deksels nodig nie; en soms verg dit dat jy dinge verloor wat jy dink jy nodig het om volkome mens te wees…. net om te besef jou lewe is eintlik beter af sonder dit.

Ons vroue (veral) kan nogal geneig wees om onsself in die moeilikheid te laat beland deur ons emosies, en dan kompenseer die linkerbrein logika van ‘n man en balanseer dit uitstekend uit. Kom ons wees eerlik, mans en vrouens het mekaar nodig. Ons kan nie alles self doen nie, daar is dinge wat ‘n man beter kan doen as ‘n vrou en vice versa. Nietemin, ek glo nie dit was ooit die bedoeling dat enige vrou gedomineer of gemanupileer moet word nie, veral nie in ‘n huwelik of ‘n verhouding nie. ‘n Vrou het ook ‘n sê, haar opinie is ook van waarde. Vroue is meer as bloot net seksvoorwerpe wat kan kosmaak, huis skoonmaak, en kinders grootmaak.

Dit is nie altyd lekker of maklik om die pad alleen te stap nie, maar om in ‘n hopelose en misrabele situasie te bly, maak jou nie juis lojaal nie. Dit maak jou net mismoedig en misrabelik. En ek het net op daardie punt gekom waar ek besluit het: dis tyd om vir ‘n slag lojaal teenoor myself te wees. Vir my eie gemoedsrus. Voel ek skuldig omdat mans nie toustaan soos twintig jaar terug nie? Voel ek skuldig omdat my standaarde en verwagtinge dalk buitensporig en onredelik hoog is? Nee. Glad nie. Want te veel het ek gekompromiseer van die een verhouding na die volgende, uit vrees vir alleen wees, en in die proses het ek boonop my identiteit ook nog verloor. Dit is nie die moeite werd nie.

Om enkellopend te wees beteken NIE jy is onbegeerlik; niemand stel in jou belang en niemand wil jou hê nie. Om enkellopend te wees beteken jy weet wat jou waarde as mens is, en jy wag vir daardie iemand spesiaal wat JOU waardig is. Te maklik laat val ons ons standaarde vir mense wat ons glad nie verdien nie. Dis in ‘n oomblik van swakheid dat jy ‘n ander siel op ‘n eensame plato ontmoet, en die kans waag op geluk – net om weer op daardie punt te kom waar jy besef jy het alweer te veel gedoen en hopeloos te veel van jouself gegee. Daardie oomblik wanneer jy die besluit moet neem om om te draai en weg te stap. Nie omdat jy moed opgee nie. Nie omdat jy nie probeer het nie. Maar iewers in ‘n mens se lewe moet jy leer om die lyn te trek tussen determinasie en desperaatheid. Wat joune is, en bedoel is om te wees, sal eventueel joune wees. Maak nie saak hoe onmoontlik, onbereikbaar of ondenkbaar nie. Maar wat nie joune is nie, sal nooit wees nie. Maak nie saak hoe hard jy probeer nie.

Wanneer jy te veel seergekry het; jy te veel jou hart toegesluit het om nie meer te voel nie….
Wanneer daar te veel aan jou menswees geskaaf is….
Wanneer die teleurstellings net eenvoudig te veel raak….
Wanneer jy alles gee en niks terug ontvang nie….
Wanneer jy herhaaldelik misbruik is….
Wanneer jy saam met iemand is maar eensaam en alleen voel….
Wanneer jy gedurig afgekraak en gekritiseer word….
Wanneer jy na aan iemand is maar so ver voel….
Wanneer jy nie gehoor of waardeer word nie….
Wanneer jy liefhet maar nie terug liefgehê word nie….

…. Ja, dan is jy beter af alleen. Jy is ook beter af alleen as jy geneig is om altyd mense tevrede te wil stel ten koste van jouself. Onthou: jy leer mense hoe om jou te behandel deur wat jy toelaat en wat nie. Dus, as iemand aanhou om jou seer te maak, vra jouself hoekom jy dit in die eerste plek toelaat. Jy het nie nodig om in ‘n skadelike verhouding te wees nie. Jy MAG maar wegstap van iemand wat jou aanhoudend seermaak. Jy MAG maar deur ‘n tydperk gaan van kwaad en selfsugtig en onvergewensgesind wees. Jy skuld niemand ‘n verduideliking nie, en jy hoef aan niemand rekenskap te gee nie. Jy MAG maar daardie een laat gaan wat die lewenslus uit jou dreineer, jou siel vergiftig en te veel drama veroorsaak. Jy MAG maar daardie brug brand. Dit is nie selfsugtig om jouself lief te hê, na jouself om te sien, en om jou eie geluk top prioriteit te maak nie. Dit is NODIG. En as jy dit beter kan doen op jou eie, doen dit dan. Erken jou foute (dit is baie belangrik) en skud die stof van jou voete af.

Om te skei, of ‘n verhouding te beëindig, maak seer. Maar om iemand te verloor wat jou nie respekteer of waardeer nie, is nie ‘n verlies nie. Dit is vir jou tot wins, want jy kry weer ‘n kans om jou selfrespek en waardigheid terug te win. Soms na ‘n opbreek; of wanneer jy besef jy is vasgevang in die pynlike realiteit van ‘n verhouding wat besig is om te sterf; dan dink jy jy is in die donkerste plek van jou lewe begrawe. Maar as jy mooi daaroor dink, is jy nie verlore in ‘n diep en donker gat nie. Jy is net pas oorgeplant in nuwe grond.

Grow baby, grow!

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s